Wednesday 16 August 2017

'n Nou, miskende, verbygegane tydperk



In sy brief: "US:Uitnemendheid, nie maklikste" (DB,08.16), sê  Pieter Hurter dat die huidige US-rektor, prof.Wim  de Villiers,  die "maklikste opsie...voorhou wanneer kernprobleme om 'n oplossing vra." Dié "maklikste opsie (sal)...die doodskoot vir Afrikaans by die US beteken (en)...dié doodloopstraat is vir almal duidelik...behalwe vir...prof. De Villiers."

Sonder enige poging tot 'n vergelyking van US-rektore, tel ek my seëninge dat ek aan die US kon studeer tydens die rektorskap (1954-1969) van wyle prof.H.B.Thom, 'n nou, miskende, verbygegane tydperk.

Volgens wyle prof. Bun Booyens was hy die seun van 'n Paarlse onderwyser wat met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (1899) hom in die Vrystaat bevind, by die Boeremagte aangesluit, aan verskeie veldslae deelgeneem het, en uiteindelik na Indië verban is.

Vanuit huis, kerk en skool was prof.Thom 'n ware Afrikaner wie se invloed en oortuigings die ganse universiteits- en studentegemeenskap sestien jaar lank deursuur het. Hy het gesê "dat die Universiteit van Stellenbosch uit die nood van die Afrikanervolk gebore is (en)...in 'n diepe behoefte van die volk voorsien het; omdat hy al vroeg 'n volksuniversiteit geword het...Baie het daarvan gehou, baie ook nie."

Die Thom-tydperk het 'n omgewing geskep waarbinne ek, vanweë 'n gemeenskaplike taal-, kultuur- en geloofsomgewing, my volkome tuis gevoel het. Op al drie gemelde terreine, en nog meer, het prof.Thom sy stempel landswyd afgedruk.

Van hom het wyle dr.S.J.Gericke gesê: "Ek noem hierdie groot Afrikaner ook 'n groot Kerkman..", terwyl D.J.Viljoen, destydse hoofsekretaris van die FAK, gesê het: " 'n Mens sou boekdele kon skryf oor die aandeel wat hierdie man aan die georganiseerde kultuurlewe van die Afrikaner gehad het...", waarvan sy ywer vir die Afrikaanse taal 'n kernfaset was.




Tuesday 8 August 2017

Is dit 'n geval van slim vang sy baas?

Ek reageer op Slimmer se brief: "Godsdienstiges hou nie van feite" (DB,07.08). Vanuit sy skuilnaam lei ek af dat sy eie geloof sterk in die menslike rede/verstand/intellek veranker is, en sy kritiek op die godsdienste en gelowe van ander daaruit voortkom.

Van geloof en godsdiens sê Slimmer: "(dat) daar weinig geloofwaardigheid in enige van die gelowe bestaan (en)...as gelowe op feite (Slimmer se "feite") gegrond was, was dit nie gelowe nie (asook)...gelowe stimuleer die ekonomie", en daarom "maak dit sin om gelowe te bevorder"   -   asof gelowe die ekonomie moet dien.

Ek wys slegs op twee van Slimmer se mistastings. 1.Behalwe sy eie verstandsverabsoluterende mensbeskouing, negeer hy dié van ander. Die mens is egter ook 'n kenbare dog misterievolle wese wat dinge kan transendeer, dit wil sê bokant die sintuiglik waarneembare en verklaarbare dinge kan uitstyg. Teenoor Slimmer se eng beskouing, gee laasgenoemde erkenning aan die veelheid van menslike dimensies, waaronder ook sy geloofs-  en godsdienstige dimensie.

2.Hy ignoreer ook die veelheid van kontekste waaruit feite tot ons spreek, soos, byvoorbeeld, waarnemings-, ervarings-, teoreties-wetenskaplike en ook geloofsfeite. Slimmer se verabsolutering van verstandsfeite, aangewend as kriteria vir gelowe en godsdienste, vind ek arrogant.

Slimmer se standpunt jeëns godsdienstige gelowiges getuig van 'n sofistiese ingesteldheid. Sy aanvallend veroordelende ingesteldheid benadeel in plaas van om verhoudings te bevorder. Dit is duidelik dat, benewens 'n behoefte aan verstandsmense, daar 'n groter behoefte aan verstandige mense bestaan. Het ons hier 'n geval van slim(mer) vang sy baas?