BRIEFINHOUDE in koerante of tydskrifte bly die prerogatief van die skrywers wat hul denkbeskouinge as menings na buite weergee deur middel van 'n vrye, openbare pers.
Briewe, as denkbeskoulike menings, is besonder betekenisvol - ook in terme van die tydsdimensies van verlede, hede en toekoms. Nie alleen reflekteer briewe bepaalde denkfokusse nie, maar dit weerspieël ook die besondere tydsdimensie waarbinne die denke opereer.
Te oordeel aan briefinhoude van die dag, kom dit voor asof die hedendaagse openbare denke grootliks sentreer rondom die kort- en mediumtermyn en nouliks die grens oorsteek na die langtermyntoekomsdenke aangaande, onder meer, ons kulturele volkserfenis. Hieronder tel ons taal en die beskerming daarvan.
Het die huidige geslag van Euro-Afrikaners "hier en nou"-mense geword wat hul selfstandige toekomsdenke prysgegee het aan ander om namens en vir hulle te dink terwyl hulle self slegs inkomste- en oorlewingsgerig dink?
Het 'n pligsversakende denkingesteldheid van "If you can't win them, join them" van ons besit geneem?
Het ons kontemporêr te make met kultuurgestremde denkkreupeles op soek na denkkrukke by Euro-Afrikaner denkmakelaars, sommige van wie se denkpraktyke verskuif het na 'n nuwe ideologiese adres? En die denkleiers wat nie dié denkskuif meegemaak het nie, het hulle hul geestesenergie verloor?
Daar blyk 'n kommerwekkende apatiese denkingesteldheid en 'n gebrek aan toekomsdenke oor sy taal by die gemiddelde Afrikaanssprekende te wees. By gebrek aan verantwoordelike toekomsdenke oor ons taal, godsdiens en geskiedenis, staar die gevaar van kulturele agteruitgang ons in die gesig en dra ons self by tot ons volksondergang.