Saturday 31 March 2012

Viljoen is reg oor volksafvalligheid

Ek vind aansluiting by J.Viljoen (DB,29.03) se bewering dat: "...ons volk al hoe meer afvallig geword het..." Laat ons toegee dat dit, enersyds, nie alle volksgesinde Afrikaners geld nie, en, andersyds, dat afvalligheid  van die Afrikanervolkslewe nog altyd 'n kenmerk van wit Afrikaners was. Die Afrikanervolk word, histories gesien, gekenmerk deur 'n duidelik tweekantige volkskarakter soos geopenbaar in 'n siklies-herhalende ontwikkelingspatroon.

In sy vroegste voorvolkse ontwikkelingsfase word wit Afrikaners reeds gekenmerk deur 'n tweekantigheid op grond waarvan onderskei kan word tussen Kompanjiesamptenare en vryburgers; trekkende veeboere en gevestigde koring- en wynverbouende landbouers, en, nog later, (Voor-)trekkers en agterblyers tydens die Groot Trekbeweging. Die geskiedenis leer dat die vryburgers, die veeboer-trekboere en die Voortrekkers gekenmerk is deur 'n sterk vryheids- en onafhanklikheidsdrang.

In die nageboortelik nasionale volksfase is bittereinders en joiners tydens die ABO te onderskei; Afrikanernasionaliste en "empire"-gesindes  tydens die 1914-rebellie, WO 1 en WO 2; die verligtes en verkramptes tydens die sewentigerjare van die vorige eeu, en die jongste indeling wat ek die "volksbehoudendes" en die liberale "volksrugdraaiers" noem   -   hulle wat die Afrikanervolk die rug toekeer. Soos wat ons verneem van kinders wat hul ouers by ouetehuise aflaai en daarna nie weer opsoek nie, so is dit ook die geval met die "volksrugdraaiers" wat deel in volkwees waarwel toegeroep het.

Daar was nog altyd spanning tussen dié twee Afrikanergroeperinge soos veral blyk op politieke en kerklike terrein. Met die politieke mag reeds verloor, staar wit Afrikaners ook kerkskeuring in die gesig. In 'n vroeëre skrywe, "NG Kerk keer rug op Afrikanervolk" (DB,06.10.2011), het ek daarop gewys hoedat dié kerk, as voorbeeld, reeds sy rug op die Afrikanervolk gedraai het, en dit terwyl volke en 'n volkereverskeidenheid 'n Goddelike instelling is. Viljoen is reg met sy bewering oor volksafvalligheid.




Wednesday 28 March 2012

ANC-aanval desperate poging tot verweer

Woordbetekenisse is kontekstueelbepaald, dan nie? Die woord "mis" het telkens 'n ander betekenis in: Die vallei is met mis oordek. Die beeskraal is vol mis. Die doelskop was mis. Die Katolieke hou 'n mis. Ons mis hul teenwoordigheid. Natuurlik besef Christian Martin (DB,26.03) dit, en, hopelik, die ANC ook   -   of dalk juis nie?

Wanneer me. Zille die begrip "vlugteling" gebruik, wend sy dit spesifiek in onderwyskonteks aan en in géén ander konteks nie. Beide Martin en die ANC dra me. Zille se gebruik van "vlugteling" moedswilliglik, en met kwade bedoelinge, oor na die buite-onderwyskontekstuele domein. Waarom? Volgens prof. Amanda Gouws (DB,26.03) gaan dit om rassistiese oorwegings omdat dit vir die ANC "onmiddellik...'n rassevraagstuk geword..." het.

Hoeveel talentvolle landsburgers, veral ons jongmense   -   waaronder ook albei my seuns   -   het nie ook al landuit "gevlug" vanweë regstellende aksie wat vir hulle, hul voortreflike kwalifikasies ten spyt, géén toekomsvooruitsigte bied nie? Is diesulkes nie ook "vlugtelinge" in 'n sosio-ekonomiese konteks nie? Wat sê Martin en die ANC daarvan? Niks! Oor sulke "vlugtelinge" swyg hulle. En sal die ANC dit hoegenaamd oorweeg om ouers te subsideer om hul "vlugteling"-kinders oorsee te kan besoek?  Nooit!

Zille se opmerking is kontekstueel-spesifiek. Aan Martin en die ANC: Bepaal julle by dié konteks   -   onderwys! 'n Vergelyking tussen die Oos-Kaapse (ANC) en die Wes-Kaapse (DA) onderwysadministrasies en -standaarde is vir ANC-mislukkings té pynlik om te aanvaar; vandaar die aanval op Zille. Daarom is dié ANC-aanval 'n desperate poging tot verweer.                






Monday 26 March 2012

Kerklike- en geloofsgrense onder druk

"Diep bekommerde ouderling" se skrywe (DB,24.03) plaas die NG Kerk in die kollig. Ons beleef vandag toenemende druk op, verskuiwing en selfs vernietiging van grense, ook in kerklike- en geloofskonteks. 'n Kritieke vraag: Is Christene dan uitgelewer aan 'n onbegrensde kerklike- en geloofslewe? Tog sekerlik nie!

Daar is 'n leraar met die gewoonte om, voordat die erediens begin, na die naweek se rugby-uitslae te verwys en, deur handopsteking, selfs lidmate se spanvoorkeur te toets. Is die vooraf gewydheidsatmosfeer dan nie begrens nie, en oorskrei dié dominee nie dalk dié grens nie? Tydens 'n week van gebed onderwerp 'n leraar lidmate aan die tegniek van "Christelike meditasie" wat aansluiting vind by Oosterse Transendentale Meditasie. Is die Christen se gebed nie ook, "tegnies" gesproke, begrens nie? Het Jesus in Sy gebedsvoorbeelde ons enige "meditasie tegnieke" geleer?

Roberto, bekende panfluitspeler, bied 'n "konsert" aan in 'n kerk. Sy "verhoog" is die liturgiese ruimte voor die preekstoel waar hy sy CD's uitstal en skuins grappe vertel. Is dit nie 'n voorbeeld van grensdruk, -verskuiwing en/of -uitwissing nie? So is daar vele meer voorbeelde van drukuitoefening op grense in dié kerk soos, byvoorbeeld, vergestalt in sommige algemeen-sinodale besluite, asook uitsprake en geskrifte van sommige hedendaagse teoloë. Na beswaarmakende, grensbewakende lidmate word as "fundamentaliste" verwys, en hul besware word "aanstootlike leuens" (Kerkbode,16.03) genoem.

Op grond van watter/wie se gesag word kerklike- en geloofsgrense toenemend onder druk geplaas, verskuif en selfs vernietig? Benodig die Christelike geloof dan géén grensbewakers nie?



Tuesday 20 March 2012

Werklikhede geassosieer met dié berig

Teen lamppale, in groot swart letters, staan geskryf: Renosters : "Wêreld moet weet", verwysende na die huidige slagting onder die S.A.-renosterbevolking   -   'n waarneembare wrede werklikheid wat tegelykertyd geassosieerde werklikhede oproep. Nog nooit het ek teen lamppale gelees: Plaasmoorde : "Wêreld moet weet"   -   'n geassosieerde verwante werklikheid. En nêrens nog het ek gevind dat die media, plaaslik òf internasionaal, die plaasmoorde-slagting wêreldkundig maak nie   -   'n tragiese assosiatief-verwante derde werklikheid.

By die lees van die berig, "Stropery op TV gewys / Renosters se pyn verbeeld" (DB,19.03), en beklemtonend "...die grusaamste tot nog toe...", besef 'n mens opnuut die skreiende onreg wat die S.A.-boeregemeenskap   -   wit, bruin, swart   -   aangedoen word deur plaasmoorde, op veel groter skaal as renosterslagtings, te verswyg. Laasgenoemde is immers ménse en nie diere nie.

Vir beide die ANC-regering en die media is renosterstropery baie duidelik 'n veel groter misdaadprioriteit en nuuswaardig as moord op die burgery. Op renosters kan 'n geldwaarde geplaas word; op plaasmense nié. Ryklik geïllustreerde uitbeeldings van renosters se lyding verskyn in die media, maar van die pyn en lyding van plaasbewoners word weinig melding gemaak. Dit dwing ons om, onder meer, te vra: Waarom nie ook rapporteer oor dié werklikhede geassosieer met die aangehaalde berig nie?






Thursday 15 March 2012

Maar júlle, wie, sê júlle, is Ek?

Twee berigte in "Die Burger" (14.03), "Islamitiese sentrum kwaad oor onttrekking van advertensies", en "Red Bull gee talle klaers vlerke", herinner my aan Jesus se vraag aan Sy dissipels: "Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?" (Mat.16:13). Die "Islam Awareness Centre" beantwoord hierdie vraag in sy advertensie op tien busse van die Algoa-busmaatskappy soos volg: "Jesus (is) a prophet of Islam". Die Red Bull-advertensie sê Jesus is 'n bedrieër (Hy loop op versteekte klippe onder die water) en maak van kragwoorde gebruik.

In, "We'll mock Jesus but not Mohammed, says BBC boss", soos gerapporteer deur "The Christian Institute", sê Mark Thompson, direkteur-generaal van die BBC : "...the BBC...would never mock Mohammed like it mocks Jesus...Jesus is fair game...". Vir die BBC is Jesus iemand bespotlik.

Hoe beantwoord sommige van ons eie teoloë, wat toekomstige predikante oplei, Jesus se vraag? In sy boek, "Fatherless in Galilee", sê prof. Andries van Aarde dat Maria 'n hoer was by wie 'n Romeinse soldaat Jesus verwek het   -   Jesus is dus 'n buite-egtelik gebore "mens". Prof. Sakkie Spangenberg sê elkeen van ons kan ons eie "Jesusverhaal" konstrueer. Hy sê : "...Afrika Christene kan...van Jesus die Voorvader maak. Why not?".

Jesus se opvolgvraag aan Sy dissipels was : "Maar júlle, wie, sê júlle, is Ek?" (Mat.16:15). Hoe beantwoord ons, wat ons as Sy dissipels beskou, hierdie vraag vandag?                 (ngn)




Wednesday 14 March 2012

Lees berig met regte perspektief

Die geskiedenis herhaal ongetwyfeld homself, ook in kerklike konteks. Behorende tot die protestantse kamp, weet NG Kerklidmate van die oorlewingstryd teen Rooms-Katolisisme gedurende die Reformasie-tydperk. Vandag is die NG Kerk gewikkel in 'n soortgelyke   -   dog interne   -    oorlewingstryd wat, voorlopig, die Transformasie-tydperk van dié kerk genoem kan word. Laasgenoemde verkry groter samewerkende momentum met die aanbreek van die "nuwe S.A.".


Die NG Kerk is 'n kerk-in-oorgang, 'n transformerende kerk, 'n paradigmaties-verskuiwende kerk, en, met groot huiwering en ontsag gesê, die potensiaal bevat om in die toekoms bewys te word synde bewegend vanaf 'n Skeppersentriese na 'n skepselsentreerde kerk, soos wat nou reeds blyk uit die standpunte en stellings van teoloë en kerkleiers soos neergepen in hul Bybel-opponerende publikasies en geskrifte.

Die paradigmabegrip leen homself ten beste vir 'n sinoptiese beskrywing van dié kerklike "verskuiwing". Sedert die verskyning van Thomas S.Kuhn se boek, "The Structure of Scientific Revolutions" (1962), verwys hierdie begrip na wetenskapsbeoefening as 'n paradigmaties-kontekstuele aangeleentheid. Teoloë reken hulself ook onder wetenskaplikes. Sommige teoloë kies openlik vir "evolusionêre wetenskapsbeoefening" en verdedig dit, 'n praktyk onderlê deur die "evolusiegeloof" met al die implikasies daarvan vir Woordverkondiging en geloofsuiwerheid.

Dié paradigmaskuif word gekenmerk deur 'n rewolusionêre breuk met die kerklike verlede, vergelykbaar met 'n "bekeringservaring", tref skerp onderskeid tussen die "oue" en die "nuwe", sterk wedywering om dominansie, praat nie meer dieselfde "taal" nie, en is onversoenbaar met mekaar.

Kerklike strukture lig nié lidmate hieromtrent in nie. Ons is daarom op ons self aangewese en moet groot versigtigheid aan die dag lê om nié in ons oordeel die media as enigste inligtingsbron te vertrou nie. Wanneer "Volksblad"(13.03) berig : "NGK-moderator kap na kritici", moet hierdie berig   -   met dr. Louw en prof.Niemandt as protagoniste van, onderskeidelik, die "ou" en die "nuwe" kerklike denkrigtings   -   vanuit 'n paradigmatiese perspektief gelees word.                (ngn)

Sunday 11 March 2012

Verlede bewys Ramphele-stelling as bedrieglik

In 'n artikel in Die Burger (Oos-Kaap) van 8 Maart 2012, haal die skrywer Business Day aan wat berig dat dr. Mamphela Ramphele gesê het: "...die 'psige' van Suid-Afrikaners is nog nie bevry nie...swart Suid-Afrikaners (het) hulle nog nie bevry van diepgesetelde swart minderwaardigheid en wit mense van ewe gevestigde wit meerderwaardigheid nie." Met hierdie stelling gee Ramphele uitdrukking aan die geïmpliseerde swart beskuldiging dat "wit meerderwaardigheid" die oorsaak is van "swart minderwaardigheid". Laat wittes hulself daarom teen dié Ramphele-stelling verdedig en dié onwaarheid ontmasker deur na die waarheid in ons geskiedenis te gaan soek.

Vanaf hul vroegste ontmoeting het swartes in isiXhosa en isiZulu na wittes as "umlungu" verwys. Oor dié woordbetekenis is daar nie altyd eenstemmigheid nie. Waaroor almal wél saamstem, is dat dié woord na wittes verwys. In isiZulu beteken "lungu"   -   waarvandaan "umlungu" kom   -   "om te voorskyn te kom". Nou vanwaar het wittes "te voorskyn" gekom? Die antwoord: met skepe vanuit die see. Sowel Zulu's as Xhosas het wittes vanuit die staanspoor geassosieer met vuil-wit branderskuim, soos uitgespoel op rotse en sandstrand.

Urban Dictionary sê die konnotasie geheg aan "umlungu" is: veragting, minagting, beledigend, aanstootlik, en verskaf hierdie voorbeeld: "I'm speaking Zulu under my breath so this stupid umlungu doesn't realise that I'm insulting him, while pretending to help him."  isiZulu.net dictionary forum verduidelik "umlungu" soos volg: "...one who practices witchcraft or magic because of the technology that they (whites) had at the time." (Onthou Dingaan se bevel: "Slaan dood die towenaars!") Wie het dus eerste op wie neergesien as minderwaardig en staan derhalwe skuldig aan 'n houding van meerderwaardigheid waarmee op bedrieglike wyse omgegaan word?

Uit die voorafgaande blyk duidelik dat swartes se assosiasie van wittes met vuil-wit seeskuim, en die konnotasie van veragting en belediging wat die begrip "umlungu" in hom omdra, dui op swart meerderwaardigheid teenoor wit minderwaardigheid reg vanaf die begin, en nié andersom soos wat Ramphele suggereer nie. Die verlede bewys dus die Ramphele-stelling as bedrieglik en onwaar.

Vir swartes om die "swart psige" as minderwaardig teenoor dié van wittes te ervaar, en dan wittes daarvoor te blameer   -   sonder 'n deeglike vooraf ondersoek na en ontleding van die "swart psige"   -   is onverantwoordelik en vertel ons reeds iets van hoe die "swart psige" opereer. Waar is Ramphele se navorsingsbewyse dat "swart, wit, bruin, geel,ens." psiges wél met mekaar vergelykbaar is? Weet Ramphele wat presies die samestellende algemene én besondere konstituente van die menslike psige is? Kan Ramphele dit dalk vir ons sê?

Is dit te veel gevra van enige doktoraal-gepromoveerde persoon om vooraf eers deeglik te besin oor sy/haar uitsprake, of impliseer hierdie vraag reeds 'n bepaalde onderskeibaar psigiese ingesteldheid vanuit 'n besondere psige-konteks? Vir Ramphele om sodanige stelling te maak sónder enige feitelike bewyslewering daartoe, is nie net onverantwoordelik nie, maar vertroebel ook intergroepverhoudinge waaroor swartes hul oënskynlik nie bekommer nie. Hulle beskik oor beide sodanige mag én beheer waarvolgens minderheidsgroepe irrelevant blyk te wees.               (ngn)




Thursday 8 March 2012

Hierin is Jeffreys blatant moedswillig

Ek verskil radikaal van L.Laubscher (DB,08.03) se opmerking: "Dankie, Henry Jeffreys, vir jou nugtere rubriek vandag." Oor jare heen het Jeffreys homself aanwysbaar bewys as negatief-afbrekende kritikus van die wit Afrikanerbeeld in ons kultureel-diverse samelewing. In sy jongste skrywe (DB,07.03) sê Jeffreys: "...ek kan Zuma of die ANC nie in dieselfde geselskap plaas as...Adolf Hitler...Josef Stalin...Mao Zedong of die moorddadige Mobutu Sese Seko en sy vele geesgenote in post-Uhuru-Afrika...of selfs ons eie eertydse Christen-Nasionaliste..." nie. Om hierdie kwaadwillige bewering teenoor Afrikaners te ignoreer, of soos Laubscher daarmee om te gaan, is om Jeffreys kondonerend gelyk te gee.

Wat het kommunisme, Nazisme en Afrika-uhuru met mekaar in gemeen? Ongetwyfeld grootskaalse menseslagtings waarvan meer as 'n honderd miljoen onder kommunisme alleen. Deur sy verwysing na "moorddadige", blyk moord Jeffreys se maatstaf te wees waaraan hy kwaadwilliglik ook "Christen-Nasionaliste" (wit Afrikaners) onderwerp. Jeffreys vergeet gerieflikheidshalwe van die ANC se lakeiskap van kommunisme. (Wys my wie jou vriende is en...)

Anders as Laubscher, maak ek ten sterkste beswaar teen Jeffreys se ongesubstansieerde en korrupte bewering waarby hy wit Afrikaners betrek. Daarmee wys hy sy minagting vir die brose proses van intergroep-verhoudingsbou in S.A. Wat sou hy wil bereik deur sy strieming van nasionale verhoudingsbou? Dit is moeilik om te glo én aanvaar dat iemand soos Jeffreys, wat groter sensiwiteit aan die dag behoort te lê, so blatant moedswillig kan wees.

Tree "Die Burger" dan nie voorkomend op deur artikels voor plasing eers te redigeer nie? Dit kan vertolk word as dat dié dagblad hierdie tipe uitsprake goedkeur en sodoende meewerk om aan sommige lesers aanstoot te gee.              (ngn)




Wednesday 7 March 2012

Vinnig op weg na diktatoriale outokrasie

Uit die SAUK/RSG se mandaatvervulling blyk dit dat ons vinnig onderweg is na diktatoriale outokrasie binne 'n totalitêre staat. Waarom word luisteraars volgehou deur die openbare uitsaaier blootgestel slegs aan links-liberale humaniste se opinies   -   soos nou weer in Kobus Bester se aanbieding vanaf die Stellenbosse Woordfees in gesprek met Johan, Jean en selferkennende gay Hennie (06.03)   -   dié keer oor die gay-kwessie in die NG Kerk? Waarom mag daar nie 'n verteenwoordigende balans wees in die samestelling van deelnemende gespreksgenote tydens RSG-debatte nie? Dr. Henrietta Klaasing sê op "Kerkbode Facebook" : "'n Mens het nie 'n graad in kommunikasiekunde nodig om te besef dat die keuse van paneellede die uitkoms van 'n debat kan bepaal."

RSG se debatsaanbieding en gesprekvoering het tipies in wanbalansige eensydigheid ontaard. So, byvoorbeeld, word die menings van die Pierre de Vosse en Piet Croucamps aan luisteraarsore opgedring asof húlle die enigste is wat nog ooit die "ware lig" gesien het. Dit dra 'n monoloog-karakter; nie dialoog nie   -   eenrigting gesprek van: "Ek praat en jy luister sonder teëpraat!", kenmerkend ook van diktatoriale indoktrinasie in 'n totalitêre staat. En ons het gedink ons is 'n demokrasie? Is RSG, daarom, 'n onafhanklike openbare uitsaaier, of deur "His Master's Voice" gekaap? En as vakbondlede kan staak, die land lamlê en ekonomie knou, waarom kan anti-outokrate nie die betaal van luisteraarslisensies aan die SABC staak nie?

Die ANC-regering se voorgenome grondwetwysiginge en RSG-optrede is maar twee simptome van die diktator-sindroom waarbinne ons tans na die afgrond beweeg. Die pendulum swaai vanaf 'n aan-Afrika-vreemde demokrasie, na 'n tipiese Afrika diktatoriale outokrasie.              (ngn)




Monday 5 March 2012

Benader "mediawaarheid" met perspektief

Die volgende is geen aanval nie, maar bloot die indruk wat ek kry dat mediaverbruikers toenemend bewus word van hoedanig die media met die weergawe van die waarheid omgaan. Ek noem dit "mediawaarheid". Die uitlig en beklemtoning van net sekere waarheidsfeite, die ooreenstemmende onderbeklemtoning en/of verswyging van kontekstueel verbandhoudende waarheidsfeite, dien as strategie vir waarheidsmanipulasie ten einde sodoende 'n vooropgestelde waarheidsbeeld aan die publiek voor te hou, en wel in die belang van persone, instansies, partye of ideologie.

Hierdie waarheidsmanipulering deur die media bring mee dat sy onderskrywing van die Suid-Afrikaanse Perskode se gestelde waardes   -   waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid   -   verdag, deursigtig en bloot lippediens is. Dit is die media wat vir die SA-burgery wil besluit wát waarheid is.

Die media hou Mandela, 'n voormalige Russiesgesteunde SAKP-lid, uitsluitlik voor as die verlosser-ikoon van die "onderdruktes", maar verswyg sy aandadigheid aan die agendas van ANC-moordbeplanninge. In "Mandela & the Church Street Bombing", sê die skrywer; "...for some reason...the media are ignoring all of this and misrepresent the actual situation" (Terrorist Watch!,16.08.2011) Waarom?

Oud-generaal Johan van der Merwe sê in sy memorandum aan die Moderamen van die NG Kerk oor die Belharbelydenis: "Ek het oor verskeie feite in die memorandum onder eed voor die Waarheids- en Versoeningskommissie getuig. Tydens die aflê van my getuienis was die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke deur 'n senior advokaat en regspan verteenwoordig. Geeneen van hulle het my getuienis in twyfel getrek nie." Stel die media hoegenaamd in Van der Merwe se WVK-getoetsde waarheidsfeite belang om dié te rapporteer, of wel eerder belang in die kommentaar van sy kritici?

So sou verdere voorbeelde van die SA Perskode se vermoede waardes-kontradiksie vermenigvuldig kon word. Die media se manipulasie van die volledige waarheidspektrum is agterdogwekkend. Dit stel lesers voor die uitdaging om "mediawaarheid"  met die regte perspektief versigtig te benader.