Showing posts with label Taal. Show all posts
Showing posts with label Taal. Show all posts

Tuesday, 20 September 2016

Ons taalgebruik weerspieël ons innerlike

Ek verwys na Corrie Kühn (DB,20.09) se brief. Wat my betref, skryf ek soos wat ek praat. Mense wat my ken, kan dit bevestig. Dit is wie ek is, en ek druk myself konsekwent sodanig uit in beide vorme van taaluiting. Ek dink nie ek hoef enigeen om verskoning te vra, of myself te verdedig, oor my taal-  en skryfstyl nie.

Word ons nie deur ons taal, soos spoelklippe op 'n rivierbedding, verskillend geslyp nie? Waarom dan daarop aandring dat slegs die eie persoonlike voorkeur en taalbehoefte as norm sal geld? My taal-  en skryfstyl blyk vir sommige 'n bedreiging eerder as 'n uitdaging te wees. Is middelmatigheid die maatstaf, en afwykendes dan taalketters wat uitgeban moet word? Word die waarheid van taalomgang op verskillende  -vlakke tot leuen gemaak?

Job 34:3 sê: "Die oor (en ook die oog) toets woorde soos die verhemelte kos proe." Waarom nie ook my reg van keuse tot taaluitdrukking erken sodat dit ook smaaklike "kos" vir my eie "taalverhemelte" kan wees (en dalk ook vir ander) nie? Ignoreer gerus my skrywes as u nie daarvan hou nie, of raadpleeg 'n woordeboek en brei u woordeskat uit. So bou ons, en breek nie af nie; hef ons op, en trek nie mekaar af nie.

Praat Saam (PS) was nog altyd vir my 'n almal akkommoderend, leef-en-laat-leef, vrylik toeganklike meningsuitruilende omgewing. In die lig van die besware teen my skrywes laat dit my wonder of daar diegene is wat graag wil toesien dat hul eie selfsugtige behoeftes as norm en maatstaf vir PS sal dien.

En, nee, Marietjie (DB,16.09), ek het nog niks in Kühn se skrywes gelees wat "aanstoot" gee nie. Doem (DB,17.09) se: "Julle gebruik toiletpapier nes ons gewone mense", vind ek wel in swak smaak en aanstootlik. Ons innerlike self word juis weerspieël in ons taalgebruik.




Monday, 4 April 2016

"Nugterdenkende" skrywe, of Aprilgrap?

Barend (DB,01.04) sê hy is "keelvol verby gelees aan Maties se 'taal-penarie' (en)... ek, nugterdenkende van die Baai, sê...stuur al die belangrike mense...na die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit sodat hulle hier kan kom leer hoe...gestudeer kan word sonder dat taal 'n issue gemaak word."

Hoe "nugterdenkend" is dit regtig as jy nie besef dat 'n mens nie appels (Maties) met nie-appels (NMMU), ook op taalterrein, met mekaar kan vergelyk nie? Waarom sal taal 'n issue wees in 'n Engelstalig dominante omgewing soos dié van laasgenoemde? Taal is mos nie 'n issue in Engelstalige omgewings soos dié van Ikeys, Rhodes of Wits nie? Of wil Barend te kenne gee dat Afrikaans nog hoegenaamd 'n faktor by NMMU is?

Voor 1994 het die Oos-Kaap oor vyf universiteite beskik: Rhodes, Transkei, Fort Hare, 'n Vista-satellietkampus en UPE. Met die uitsondering van die UPE   -   50% Afrikaans en 50% Engels   -   was die res almal Engelsmedium. Die Afrikaans/Engelsverhouding van Oos-Kaapse universiteite was dus 90% Engels teenoor 10% Afrikaans.

Voor 1994 reeds was Engels dus die dominante universiteitstaal van die Oos-Kaap. Sedert 1994 het die druk op die 10% Afrikaans der mate toegeneem dat dit spoedig deur Engels vervang is. Daarby het soveel voornemende Afrikaanssprekende studente uitgewyk na tersiêre inrigtings te Stellenbosch, Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein waardeur die Afrikaanssprekende studentetal tot 'n onbeduidende getal verminder het.

Die NMMU het verengels, het dit nie, Barend? Daarteenoor is Maties in 'n dominant Afrikaanssprekende geografiese omgewing geleë, én vanaf sy ontstaan 'n volledig Afrikaanstalige universiteit. Dink "nugterdenkende" Barend die taalsituasies by Maties en die NMMU is werklik vergelykbaar? Kan dit dalk wees dat Barend se skrywe van 1 April sy bydrae tot die April-gekskeerdag is?






Monday, 21 March 2016

Blameer ANC-skooltaalbeleid; nié Afrikaans

Die artikel: "Engels is g'n wonderkuur" (DB,17.03), is een van die mees akkurate in die heersende universiteitstaaldebat. Daarin sê prof. Du Plessis: "Anglomaniese aktiviste...hou Engels voor as die gelykmakende oplossing om ongelykhede in tersiêre onderwys uit te wis."

Ongelykhede word op 'n bedrieglike wyse aan apartheid, rassisme en wit bevoorregting toegeskryf. Du Plessis sê dat: "die huidige vlaag van Engelsbesetenheid...(en) verwydering van Afrikaans ...ons aandag van 'n groter nasionale krisis aflei...(die) onderprestasie van (veral swart) skoolgaandes." Swart leerders wat op skool in Engels onderrig word, is aan die einde van die sekondêre skoolfase "minstens vyf jaar agter hul 'bevoorregte' eweknieë" wat in hul moedertaal   -   Afrikaans of Engels   -   onderrig ontvang het.

Die funksionele ongeletterdheid onder swart leerlinge is ontstellend hoog. "Universiteite 'erf' dus hierdie sistemiese ongelykheid" waarvoor die ANC met sy "belemmerende rol van Engels as voertaal in swart skole", te blameer is. Vir kognitiewe ontwikkeling is die moedertaal onontbeerlik, nie-moedertaal-onderrig lei tot katastrofiese gevolge en hoë onbekostigbare druipsyfer.  Du Plessis sê: "tersiêre onderrig staan en val ... by kognitiewe vaardigheid (benodig) ... om tekste analities te kan lees."

Omdat hulle "nie op gelyke voet kan meeding met Afrikaanse en Engelse studente nie... raak swart studente gefrustreerd (en) ... kanaliseer hulle hierdie frustrasie na Afrikaners en 'blanke bevoorrregting' ". Du Plessis sê: "die verwydering van Afrikaans verander nie 'n duit aan die onderprestasie van swart studente nie (en) ... die slegs-Engelsbeleid vererger dié benarde situasie."

Volgens Du Plessis skep die "slegs-Engels-veldtog...valse verwagtinge by swart studente en mislei hulle om te glo dat die verwydering van Afrikaans hulle gaan help (en is) so 'n veldtog eintlik immoreel". Dit alles is die gevolg van "ideologiese verblinding". Afrikaans is daarom nié te blameer vir die huidige taalkrisis nie; die ANC-skooltaalbeleid wel.               (ngn)




Wednesday, 16 March 2016

Taalproblematiek verg soepelheid van denke

De Lange se reaksie (DB,15.03) op my skrywe (DB,12.03) het betrekking. Ons verskil oor die behoud (ek), óf prysgawe (sy), van Afrikaans op universiteit. Sy noem haar taalprysgawe " 'n onselfsugtige taaluitkyk"; diegene wat verskil, is "selfsugtig".

De Lange sê: "dit (is) ons Christelike plig om op te hou om selfsugtig ten koste van ons oorgrote meerderheid studente" te wees. Los gerus dié onvanpaste kwasie-vroom "christelikheid"   -   wat Afrikaans van sy grondwetlike taalregte wil beroof   -   om daarmee 'n bedenklike taalstandpunt te probeer regverdig. Sê die Bybel ons moet ons taal selfvernietigend prysgee? Waar is die bewyse vir die kwaadwillige bewering dat Afrikaans "ten koste van ons oorgrote meerderheid studente" behoue moet bly?

Volgens De Lange het sy "klasgegee"; maar was dit aan 'n universiteit? Beskik sy oor selfdeurleefde ervaring daarvan? Ek het wel. Saam met studente en kollegas het ek self die uitwerking van psigiese teistering, wat die verwerping van jou taal en die afdwinging van Engels tot gevolg het, ervaar. In vele gevalle het dit tot depressie en die gebruik van anti-depressante gelei. Het De Lange dit deurgemaak?

Natuurlik kan De Lange ook geen waarborg bied dat, met die volslae verengelsing van die tersiêre onderwyskonteks, anglisering nie ook mettertyd   -   met 'n domino-effek   -   na die sekondêre, primêre én voorskoolse onderwyskontekste sal oorspoel nie.

Vir De Lange is "Engels as tersiêre onderrigtaal...'n aanvaarbare middeweg." Vanwaar dié "middeweg"? Middeweg impliseer 'n tussenin posisie tussen ander potensiële opsies. Van sulke opsies sprak sy geen sprook nie. Wyer oplossingsoekende opsies ontbreek by haar.

Groter soepelheid van denke is nodig vir dié taalproblematiek; nie 'n gefikseerde denkverstardheid nie. Die toepassingsmoontlikhede van die elektronika is een so 'n opsie ter oorweging vir taaldoeleindes. Voorbeeld: met 'n persoonlike blog beskikkende oor 103 vertalingsopsies word my skrywes wêreldwyd gelees. Die voorheen onmoontlike is vandag moontlik. Dit geld ook die posisie van Afrikaans op universiteit.               (ngn)










Tuesday, 8 March 2016

Beveg defaitistiese taalkapitulering

Afrikaners bevind hulself in 'n morbied neerdrukkende tyd en omgewing, gekenmerk deur aanvalle op verskeie fronte; waaronder ook die Afrikaanse taalfront. Ons taal is in 'n intens verskerpte oorlewingstryd gewikkel wat reeds vir twee eeue duur sedert die Britse besetting van die Kaap in 1806.

Hein van Kabeljous vra: "Sal dit regtig so 'n ramp wees indien almal in Engels onderrig ontvang?" (DB,07.03). Ja, Hein, beslis meer as 'n ramp; 'n tragedie. Vroeër reeds vra Duifie de Lange (DB,01.03): "Is ons Afrikaners te onnosel om in Engels te studeer?" Nee, Duifie, onnosel is Afrikaners beslis nie. In teenstelling met Engelssprekendes is die meeste taalhandhawende Afrikaanssprekendes goed tweetalig. Luister dus goed, dan mag jy dalk tot die insig kom aan watter kant van die taaldraad die werklike "onnoseles" (jou woord) is.

In 'n gesprek met 'n swart kollega oor die meriete van taal, sê hy hy het sy taal met moedersmelk ingekry. 'n Pragtige beeld, dog geldende vir alle taalgroepe. Die vraag is net aan skrywers, soos Hein en Duifie, óf ons vandag wel nog ons taalmoeder respekteer.

Hein en Duifie se vrae getuig van 'n inherente gees van defaitistiese taalkapitulasie. Dit laat ons wonder oor hoeveel soortgelyke defaitistiese stemme daar nog onder Afrikaanse moedertaalsprekers mag wees.

Nee, Afrikaans is en bly ons pêrel van groot waarde, kosbaar om te bewaar vir die nageslag. Ons durf dit nie voor die swyne werp nie, maar voortgeset bly verdedig. Beveg daarom taalkapitulasie, hetsy druk van buite óf van binne 'n taalvyandige omgewing.






Monday, 8 February 2016

Beskerm Afrikaans teen US-taalkremasie

Die ANC-getransformeerde besluitnemingskamers van voorheen Afrikaanstalige universiteite is omskep tot taalkrematoriums waarbinne die verassing van die Afrikaanse taal reeds geskied het, en steeds geskied. Ook binne die US is daar diegene wat met groot ongeduld nie kan wag dat dié taal 'n natuurlike dood moet sterf nie, maar dit, steeds lewend, tot as wil verbrand. Met dié taalmoeder se  -bors tot as verbrand, word ons kinders verplig om aan die taalbors van 'n vreemde  -moeder te drink.

Die afgelope week het daar tegelyk interessante én insiggewende artikels van Leopold Scholtz (DB,04.02), prof.Christo Viljoen (DB,04.02) en Max du Preez (DB,06.02) oor die US-taaldebat verskyn.

Scholtz sê Lovelyn Nwadeyi   -   doktorale US-student in politieke wetenskap en afkomstig van Nigerië   -   het tydens die Stellenbosse konvokasievergadering " 'n hartstogtelike pleidooi gelewer dat wit mense met 'n oop gemoed na swart mense moet luister." Scholtz vra: "Moet swart mense nie ook na wit mense, ja, selfs na Afrikaners, luister nie?...Ons wil oorleef. Nie slegs as individue nie, maar as volk (Scholtz kursivering)...want wanneer Afrikaans sy hoër funksies soos akademiese taal verloor...lui mettertyd die doodsklok."

Prof.Viljoen wys op die stryd tussen die histories georiënteerde aansprake voortvloeiend uit die erflikheidselemente van die US, en die aansprake van die kontemporêre omgewing. Kompromieë tussen dié aansprake moet gevind word. Hierin vra Afrikaans nie "spesiale behandeling nie, maar net gelykberegtiging."

Du Preez sê: "Skreiende onkunde oor Suid-Afrika se geskiedenis...geld ook die geskiedenis van Afrikaans." Hy haal prof.J.J.Smith aan wat beweer dat Afrikaans reeds rondom 1750 "ongetwyfeld in Stellenbosch, Paarl en Malmesbury" sy moderne vorm gekry het. Hoe tragies sal die toekomstige verwyt nie teen ons geslag wees indien dié Wes-Kaapse kraamkamer van ons taal ook die sterfkamer daarvan moet word.








Thursday, 10 December 2015

Ondersoek psige vir taallojaliteit

Leopold Scholtz (DB,03.12) en Heindrich Wyngaard (DB,08.12)  skryf oor bruin mense wat nie, volgens verwagting, Afrikaans heelhartig ondersteun nie. Beide bied redes, en oplossings   -   boetedoening (Scholtz) en materiële kompensasie (Wyngaard)   -   daarvoor aan. Die vraag is óf hulle die primêre, of dalk eerder sekondêre, redes identifiseer.

Tesame met ons denke, intellektuele en skeppende vermoëns, psigiese vitaliteit en geheue   -   en nog meer   -   is ook taal 'n funksie van ons psige wat ons in staat stel om ons fisiese omgewing, sinvol kommunikerend naas ander, tot kulturele woonplek te omskep.

Indien taal dan 'n funksie van die psige is   -   en wêreldwyd kom daar 'n menigte van tale voor   -   beteken dit dat daar ook 'n aanienlike psige-verskeidenheid moet bestaan soos uitgedruk in 'n taleverskeidenheid. Kulturele-verskeidenheid, as "produkte" van psige-verskeidenheid, bevestig die voorafgaande.

Die Engelse, Duitse, Franse en Russiese nasionale psiges, saamgestel uit relatief homogene indiwiduele psiges, weerspieël onderskeibare tale en kulture as nie-identies. Waarom sal die psiges van bruin mense en Afrikaners nie ook van mekaar verskil, en ook neerslag vind in elkeen se ingesteldheid teenoor die Afrikaanse taal nie?

Khoitaalmense het hul taal sedert 1652 geleidelik verloor en vervang met Afrikaans soos, in hoofsaak, uit Nederlands ontwikkel. Is dié plaasvervangertaal vir Khoinasate 'n tipies psigies-eie taal? Laat bruin mense self oordeel. Nie-psigies-eie verengelsing was vir die ontwakende Afrikanervolkpsige 'n rede vir die Groot Trek.

Die taaltransformasiegolf, spoelende oor SA, is essensieel grondwetlik-ontoelaatbare aggressie van ANC-kant teen nie-Engelse moedertaalsprekers. Ons taleverskeidenheid is gesetel in ons psige-verskeidenheid wat die ANC wil transformeer tot 'n enkele ANC-verknegte psige. Om, daarom, Afrikaners en bruin mense se lojaliteit teenoor Afrikaans te probeer verklaar, verg, primêr, 'n ondersoek na die nie-identiese psiges van dié twee kultuurgroepe.                     (ngn)








Thursday, 3 December 2015

Mag US simbool van taalgeregtigheid word

'n US-studenteraadslid bepleit, teleurstellend, op TV die verengelsing van die Matiekampus. Waarom dié selektief eensydige beeldsending as sou dié student se mening verteenwoordigend van alle Afrikaanssprekende US-studente wees?

In dieselfde Afrikaans-onvriendelike trant sê André le Roux in "Maandag Aktueel" (DB,30.11) dat "Afrikaans in die breë S.A. diskoers (anglisisme!) ...nie veel wyer strek as 'n selfkwetsende bekgeveg onder wit Afrikaners nie."

Tydens 'n onderhoud met US-rektor, prof. Wim de Villiers (Matieland, Jaargang 58, 2015), is Jan-Jan Joubert op soek na "die wese van die nuwe rektorsiel". Benewens sy uitmuntende prestasies as US-student, ervaar dié rektor jarelange blootstelling aan buitelandse Engelstalige universiteite soos Oxford, Harvard en Kentucky   -   en mees onlangs ook Ikeys.

As rektor wil hy "Stellenbosch diversifiseer sodat 50% van ons studente teen 2020 swart is" (tans 38%)   -   'n optimistiese langtermynkwota dat dit slegs by 50% sal bly? Hy is "ten gunste van studente-aktivisme", en was in sy "studentejare lid van 'n groep genaamd 'Stellenbosch moet oop!' " As studenteraadslid was hy een van "vier linkses in 'n studenteraad van dertien."

Joubert bied hiermee beslis insig in dié "nuwe rektorsiel". Hy verdien egter krediet vir sy aanvaarding van die US Raad se mosie oor taalinklusiwiteit waardeur Afrikaans hopelik tot sy reg sal kom, en die US Bestuurspan se taalplan van algehele verengelsing verwerp word.

Mag die US 'n navolgenswaardige voorbeeld en nasionale simbool van taalgeregtigheid word. Laat ons vertrou dat die rewolusionêre elemente nie met vandalisering van US-eiendom sal reageer nie, maar wel grondwetlik-demokratiese volwassenheid sal openbaar.



Monday, 23 November 2015

Bestry ANC-taalhegemonie deur -kongres

Die US-taalgebeure is geen geïsoleerde gebeure nie; ook nie beperk tot net die hoër-onderwyskonteks nie, maar hou implikasies in vir die breër Afrikaanse taalgemeenskap van SA. Dit verg die breeds moontlike visie op dié jongste taalbedreiging.

Reeds sedert 1806 word daar op die Afrikaanse taal, soos op 'n voëlvryverklaarde, jag gemaak, eers deur Brits-imperialistiese anglisering en nou deur sosialisme-kommunisme (s-k). Eersgenoemde kon nie ons taal vernietig nie. Ondanks grondwetlike taalregte, verjaag die ANC se s-k gevlegde sweep Afrikaans van die SA openbare taalmarkplein.

Die Afrikaanstaalwoning, met verskillende woonvertrekke waar verskeie variante van dié taal gehuisves word, behoort aan almal wat dit praat, lees en skryf. As gemeenskaplik gedeelde taal kan niemand dit eensydig opeis nie.

Elke individuele bewoner van die Afrikaanstaalhuis het 'n tweeledige plig: 'n algemene plig tot die huisgeheel, en 'n besondere plig tot die taalwoonvertrek waartoe hy behoort. Versuim een woonvertrekbewoner sy plig teenoor ons taal, ly die hele Afrikaanstaalwoning daaronder.

Waarom nie die hou van 'n Afrikaans-taalkongres oorweeg waar verteenwoordigers van al die taalwoonvertrekke gesamentlik kan besin oor 'n strategie teen die volgehoue aanslag op ons taal nie? Koördineer só al die huidige gepraat/geskryf en stel 'n lewensvatbare aksieplan saam. Solopogings gaan nie ons taalsaak dien nie; taalsolidariteit wel.

Tacitus, senator en historikusvan die Romeinse Ryk, het gesê: Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van 'n slaaf. Ons durf nie Afrikaans verslawend uitlewer aan die ANC se taalhegemonie nie.









Monday, 27 January 2014

Doen jou eie dinkwerk op jou taalvlakte

Ek verwys na Nato Zondagh se brief (DB,24.01) waarin hy, volgens hóm, reageer op my skrywe oor "taalaristokrate". Hy tas heeltemal mis, want my brief (DB,21.01) het gehandel oor Standaardafrikaans.

Vergelyk ek dié skrywe van my met 'n weegskaal, het ek voorspraak vir die behoud van Standaardafrikaans in die een weegbak, en die pleidooi vir die afwaartse aanpassing daarvan (DB,18.01) in die ander weegbak geplaas. Vergelyk ek Zondagh se kritiek op my skrywe óók met 'n weegskaal, posisioneer hy homself in die "positiewe", en vir my in die "negatiewe" weegbak. Hy wend geen poging aan om Standaardafrikaans beredeneerd te debatteer nie.

Hy sê van homself: "Ons wat op die taalvlaktes dink, dink varser, oorspronkliker en slimmer...ek...is heel gelukkig daar...(en) ons horison is allesbehalwe beperkend." Van my sê hy: "...ek wat volgens Breitenbach op die taalvlakte beweeg...vind dit steurend dat Breitenbach impliseer dat die vlaktebewoners...taalgebruikers van mindere intelligensie is...mense sal geaffronteer voel oor Breitenbach se neerbuigende houding..."

Watter klomp bog! Zondagh, ék het jou beslis nié op die taalvlakte geplaas nie. Jy doen dit jouself, en indien die skoen jou pas as sélfverklaarde "vlaktebewoner...van mindere intelligensie", trek dit gerus aan. Ek het wel verwys na 'n algemeen gestratifiseerde denk-, -taal en intellektuele gelaagdheid binne die Afrikaanse taallandskap. Weerlê gerus dié universele gelaagdheid wat binne enige taalgemeenskap voorkom.

Zondagh pas die strategie van inlegkunde toe waarvolgens hy geriefshalwe dinge "inlees" in wat ek nié gesê het nie. Hy praat van "steurend" en "geaffronteer" te wees deur my skrywe. Wat moet ek van syne sê, hy wat sê: "Standaardafrikaans het my volle ondersteuning", dog vir my vra om " 'n trefwoord te gee om cool mee te vervang"? Zondagh, doen dit self. Jy dink dan so "vars, oorspronklik en slim" op jou taalvlakte!




Wednesday, 22 January 2014

Minagting werk minagting in die hand

Agting vir die ander spruit uit selfagting. Dit geld ook ons agting vir die taleverskeidenheid. Respekteer ek my moedertaal, respekteer ek ook dié van ander. Die ANC-regime blyk nie oor genoegsame interne taalrespek te beskik nie; vandaar sy minagting vir Afrikaans as 'n grondwetlik erkende amptelike landstaal.

Waarom dié bewering? In 2010 het 'n ANC-minister 'n verklaring van voorneme om samewerking as lid van die Nederlandse Taalunie   -   'n verdragsorganisasie waarvan Nederland, Vlaandere en Suriname ook lede is   -   tydens die dertigjarige bestaansviering van dié Unie te Brussel onderteken.

Sedert 2010 is niks weer van S.A. (lees ANC) verneem nie. Géén reaksie is op skrywes van die Nederlandse Taalunie ontvang nie. S.A. het géén belangstelling in enige vorm van samewerking getoon nie. Nou, egter, het S.A. (ANC) sy spyt uitgespreek oor sy 2010-onderneming en het hy hom onttrek aan die Nederlandse Taalunie. 

Martin Bosma, 'n Nederlandse woordvoerder, sê hiervan: "De Zuid-Afrikaanse regering heeft geen enkele belangstelling voor het Afrikaans. Het regime staat met zijn rug naar deze taal, alle vrome praatjes over zijn liefde voor de elf officiële talen ten spijt. Het was veelzeggend dat de Zuid-Afrikaanse minister die in 2010 zijn handtekening kwam zetten geen enkel idee had wat hij kwam doen en totaal niet wist wat de Taalunie is."

Met sulke ANC-"konstitusioneel taalbeskermende vriende" het Afrikaans geen erger taalvyande nodig nie. Minagting werk minagting in die hand, geld hier.              (ngn)






Monday, 20 January 2014

Is dít ons toekomsideaal vir Afrikaans?

Die artikel, "Afrikaans moet meer inklusief raak' (DB,18.01), het betrekking. Hierin word 'n pleidooi gelewer vir die afwaartse aanpassing van standaard-Afrikaans omdat "gestandaardiseerde Afrikaans verteenwoordig nie die hele Afrikaanse taalgemeenskap nie... moet meer inklusief...(en) so soepel moontlik gemaak word."

Die heersende tendens in S.A. is om standaarde afwaarts aan te pas en só die ideaal en strewe na uitnemendheid te vervang met middelmatigheid. Word Afrikaansgebruikers se taalvesel in -konteks gekenmerk deur 'n toenemende gebrek aan ambisie vir opheffende vooruitgang deur dié taal?

Daar bestaan 'n onbetwisbare verband tussen taal, denke en intellek. Ons giet ons denke in intellektuele taalvorm. Ons woordeskat bepaal nie net die horisonne van ons taallandskap nie, maar ook die berg-  en vlaktelandskappe daarvan. Binne die Afrikaanse taallandskap vind ons berg-  én vlaktebewoners. Binne dié landskap is daar onteenseglik verskillende denk-  en taalvlakke. Die hoëre vlakke dien as inspirasie vir die laere vlakke om daarheen uit te styg.

Is die bestaan van "Kaaps- of Griekwa-  of Overberg-Afrikaans" nie juis 'n duidelike aanduiding van hoedat die Afrikaanse taal binne dié taallandskap homself reeds,gedifferensieerd, "soepel" manifesteer al na gelang van die taalbehoeftes van -gebruikers wat hulself op verskillende vlakke binne dié landskap bevind nie? Wil die toonaangewende taalleiers nou van ons almal bewoners van die taalvlaktes maak? 'n Belangrike vraag is derhalwe óf ons berglandskap-bewonende taalaristokrate   -   soos filosowe, skrywers, digters, akademici en vertalers   -   hul moeitevol verworwe taalomgewings moet verlaat en verhuis na die beperkende horisonne van die taal-  en denkvlaktes?

Ontbreek die psigiese vitaliteit om deur opeenvolgende taalplato's na hoër  -hoogtes te reik omdat 'n vlaktetaallewe geïdealiseer word? Verlaging van standaard-Afrikaans sal die huidige algemene landswye standaardverlaging, groter taal-  en denkluiheid, en 'n donkerwordende taaltoekoms in die hand werk. Is dít ons toekomsideaal vir Afrikaans?






Wednesday, 16 January 2013

Taal as kritieke versoeningsdeterminant

Verdien ons landstale nie die SA-owerheid en  -burgery se dringende besinning aan die begin van 2013 nie? Menswees sonder taal is haas ondenkbaar. Ons bly noodwendig lewenslank taalgemoeide wesens. Taal is lewe. Dit is dié sleutel wat ons potensiaal ontsluit, en die grondvoorwaarde daarvoor. Taal, denke en bewussynslewe is aaneen geskakel. Alleen deur taal kan ek toenemend 'n "greep" kry op die wêreld waarin ek my bevind, want niemand kan vérder dink of ánders dink as wat sy taal hom toelaat nie.

Daar word geredelik maklik van versoening in SA gepraat, maar het iemand al ooit 'n realistiese roete na dié hersenskimmige  bestemming uitgewerk? Taal is ongetwyfeld een so 'n determinant op dié versoeningsroete. Dit beteken, eerstens, dat alle landsburgers terdeë sal besef wat die unieke doel en waarde van taal is, en dat dit die demokratiese reg van elkeen is om vry te wees om sy potensiaal maksimaal in sy eie taal te kan ontwikkel. Begrip daarvoor, insig daarin en die erkenning daarvan, lei tot respek vir mekaar se tale. Tweedens sal die vergunning van bestaansruimte vir ons tale méér kan bydra tot ons gemeenskaplike ontwikkeling en vooruitgang. Om tale te degradeer tot tweedeklas-tale, lewer géén bydrae tot versoening nie.

Deur middel van 'n grootskaalse nasionale opvoedingsprojek behoort alle landsburgers   -   in 'n veeltalige land soos SA   - tot groter taalbewustheid,  -begrip en  -respek gebring te word vir mekaar se tale as determinant ook tot bemagtiging met die oog op 'n beter toekoms vir almal. Alleen sodanige taalbesef kan 'n noodsaaklike bydrae lewer tot nasionale versoening. Ons tale moet in landsbelang ontwikkel word; nié om ideologiese gewin ver(s)moor word nie.               

Mag 2013 gekenmerk word deur 'n toename in insig dat taal, as kritieke determinant, 'n onmisbare versoeningsrol in ons veeltalige land te speel het.               (ngn)




Monday, 12 November 2012

Toenemende Afrikaner-kultuurverarming

Elke mens, ongeag ras, is 'n kultuurwese en  -draer wat tot 'n bepaalde kultuurgroep   -   onderskeibaar deur taal, geloof, geskiedenis, afkoms, tradisies, waardes en identiteit   -   behoort. Die Afrikanerkultuur is geen uitsondering nie waar ook dié kultuur in en deur taal gedra word.
 
Meinhard Peters van die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis beweer dat die Afrikanerkultuur toenemend in armoede verval. Hy staaf sy bewering deur te wys op die Afrikaanse taal wat vinnig besig is om uit sy hoëre funksies aan tersiêre instellings gerangeer te word. Dieselfde lot tref dié taal in staatsdepartemente, geregshowe en poskantoor. Selfs Afrikaners in die sakewêreld skryf selde meer sakebriewe in Afrikaans, adverteer in Engels, en gee Engelse name aan hul ondernemings.
 
Die ANC-regering benadeel Afrikaans in plekke soos kunsmuseums, argiewe, biblioteke, wetgewing, amptelike kommunikasie, die SABC en SAA. Peters sê al is Afrikaans nog die voertaal by kunsfeeste, is dit eintlik multikulturele feeste waar liberale waardes geld. Arm Afrikaners het nóg die tyd nóg die middele om aan die kultuurstryd te kan deelneem terwyl welvarendes dikwels min blyke gee dat  hulle enigsins omgee. Anders as voorheen laat veral skole en kerke nie meer blyk dat hulle oor die Afrikanerkultuur besorg is nie. Wat veral die NG Kerk en sy eenheidstrewe met sy "dogterskerke" betref, is dit 'n kritieke vraag wat die kommunikasietaal binne so 'n kerkeenheid gaan wees. Dat dit Engels sal wees in die geval van die NGKA en die RCA is waarskynlik gewis. Voeg daarby dat die VGK se dokumentetaal tydens sy jongste sinodesitting Engels was, en dat die NGK-moderator sy groeteboodskap óók in Engels gelewer het, is die taalskrif van dié voorsiene kerkeenheid duidelik aan die kerkmuur. So kan dié kerk se deurvoering van kerkeenheid bydra tot die verdere verarming van die Afrikanerkultuur op taalterrein, 'n voorsienbare moontlikheid wat egter verswyg word.
 
 
 

Thursday, 4 October 2012

Erken DA wel die Afrikaanssprekende stem?

Ek reageer op P.Mackenzie (DB,04.10) wat beweer: "Dianne Kohler-Barnard kan nie Afrikaans praat nie...en nie omdat sy nie wil nie." Ek verskil van hom. Só eenvoudig is dié taalinsident nie. Hy kritiseer Jaco van Uitenhage (DB,02.10) wat sê: "Ná Dianne Kohler-Barnard se opmerking dat sy nie Afrikaans sal praat nie, kan sy maar my en baie ander se stem vergeet."
 
Mackenzie sê "Dat sulke kleinlikhede 'n besprekingspunt moet word, is belaglik." 'n "Kleinlikheid" vir iemand, soos Jaco en vele ander, vir wie sy/haar taal so belangrik is? Nee, Mackenzie, ek dink jy onderskat mense se taalgevoelens.
 
Beide Jaco en Mackenzie reageer op "Die Burger" (29.09) se beriggewing: " 'Oor my dooie ligaam. Ek praat eerder Spaans.'  Só het Dianne Kohler-Barnard ... in die parlement gereageer op 'n versoek om Afrikaans te praat. Sy is ...gevra om dele van haar toespraak ... in Afrikaans te herhaal. 'Ek praat nie Afrikaans nie, maar is bereid om eerder Spaans te praat.' " Spaans praat in 'n SA-taalkonteks? Maak dit enigsins sin, of spreek dit eerder boekdele van haar gesindheid jeëns Afrikaans?
 
Ek vereenselwig my met Jaco se reaksie sowel as Michelé O'Connor (DB,29.09) se opmerking: " Dalk moet senora Kohler-Barnard net bietjie in die gang af stap en vir die DA-navorsers vra hoeveel Afrikaanssprekendes vir die DA gestem het..."  'n Uitstekende vraag   -   watter persentasie DA-ondersteuners, landswyd, is wél Afrikaanssprekend? Sal die DA steeds die amptelike opposisie wees sónder die erkenning van die Afrikaanssprekende stem?
 
 
 

Monday, 6 June 2011

Negatiewe kritiek het ook 'n keerkant

Marianne oordeel dat haar vroeëre kritiek (DB,26.05) teen my skrywes onvoldoende is. Aanvullend daartoe sê sy: "Dis teen jou hoogdrawende taalgebruik wat ek dit het" (DB,02.06). Marianne, ek reageer nie self op jou kritiek nie. Ek laat ander lesers dit doen. Laat my dus toe om, aan die hand van lesersvoorbeelde, ook op keerkantperspektiewe betreffende jou kritiek te wys.

Monica sê: "Hannes Slabbert en T.C.Breitenbach, jul taalgebruik is puik en jul kommentaar kleur die prent nog mooier in" (28.06.08). Jannie du Toit sê: "En is dr.Breitenbach se bydrae 'n bietjie bo jou vuurmaakplek, daarom al die woordeboeke wat jy benodig?" (01.07.08). Genl. Muller sê: "Ek het groot waardering vir dr.T.C.Breitenbach se inhoudvolle briewe" (02.08.08). Moni sê: "Dr. B., dit is wonderlik om Afrikaans te lees wat onverstaanbaar is vir die gewone lesende persoon. Ek is skaam dat ek my taal so verwaarloos het" (24.09.09). Barkhuysen sê: "Goeiemôre aan mnre. Hannes Slabbert, E.C.Botha en T.C.Breitenbach. Julle skryf lekker verstandige briewe" (06.04.10). Karin sê: "...ek bewonder T.C.Breitenbach se moed om te sê wat baie mense wil, maar te bang is" (09.04.10). Wessel sê: "T.C.Breitenbach, jou menings verteenwoordig dié van baie wit Afrikaners. Jy verwoord dit net beter as wat ons kan" (19.04.10). Moni sê: "Breitenbach, jou taalgebruik is puik. Jou skrywes dui op deeglike dink en navorsing. Hou so aan" (03.05.10). Karin sê: "Marianne, los T.C. uit! Ek kyk soggens eerste of hy nie 'n brief in het nie" (04.06.11).

Marianne, hierdie kommentare van lesers stem my tot dankbaarheid én nederigheid, en is bedoel om jou daarop te wys dat jou negatiewe kritiek ook wel 'n positiewe keerkant het. Ek wonder of dieselfde kommentatore gaan saamstem met jou opmerking: "T.C.Breitenbach, jy vlei jouself. Jou storie laat my koud."






Monday, 29 March 2010

Steun alle bruines taalkreolisering?

Jaco Fouché se brief, "Laat eerder toe dat Afrikaans groei" (DB,27.03), verwys. Hierin sê Fouché: "Ek stem saam met bruin mense wat voel dat Afrikaans 'n kreoolse...fase moet betree...(want) deel van die geneuk is dat baie wit mense vrek bang is iemand verdink ons van verwantskap met bruin mense."

Dis jammer dat Fouché wit-bruinverhoudinge by die taalkwessie betrek. Elke geleentheid word benut om dié verhoudinge te vertroebel, maar gelukkig verskyn die meer realistiese artikel, "Afrikaans nie net vir straatdeuntjies nie" (DB,27.03), bokant sy brief.

In hierdie artikel verwys Magdel Fourie na die menings van Ettienne van Heerden, Christo van der Rheede en professore Ampie Coetzee, Hermann Giliomee, Willie Burger, Joan Hambidge en Theo du Plessis oor die toekoms van Afrikaans.

Dit is duidelik dat die gesprek oor Afrikaans op minstens twee vlakke gevoer word: op die vlak van "Straatafrikaans" vir "straatdeuntjies", asook op universiteitsvlak wat betref sy hoër funksies. Hieromtrent sê Van Heerden: "...die sterfte lê op die hoër vlak, eerder as straatvlak."

Waar Fouché se mening in hoofsaak op "straatvlak" lê, lê dié van Van Heerden op die vlak van die hoër funksies van Afrikaans.

Dis géklik-absurd om te dink dat jy mense intellektueel kan ophef ("bemagtig") deur die verlaging van taalstandaarde. "Straatafrikaans" verteenwoordig laevlak-denke; universiteitstaal verteenwoordig gespesialiseerde vaktaal op hoëvlak-denke.

Kundiges van vroeër het gesê: die (hoëvlak) denke kan nie ontwikkel as die denkinhoud en denkresultaat nie in (hoëvlak) taalvorm gegiet word nie, en : niemand kan ook "verder" (hoër) dink of "anders" dink as wat sy taal hom toelaat nie.

Verteenwoordig Fouché se bedenklike standpunt oor taalkreolisering die mening van alle bruin mense? (ngn)

Monday, 15 February 2010

Artikel oor Afrikaans was 'onbedagsaam'

Henry Jeffreys se jongste artikel getuig van swak oordeel, onbedagsaamheid en 'n negatiewe ingesteldheid teenoor 'n sektor van sy koerantlesers   -   wit Afrikaners.

Wanvoorstellings, rustende op onkunde, kwalifiseer nie as joernalistiek nie. Hiervan is Jeffreys se artikel,  "Los die 'ons' en 'hulle' van 'n nasie de moer in" (DB,08.02.2010), 'n goeie voorbeeld.

Jeffreys het kennelik nie die vaagste benul van wat in die hart en gemoed van Afrikaners aangaan nie. So maak hy nie net sy eie naam krater nie, maar vervreem hy ook Afrikaners. Apartheid synde 'n  "ideologiese misdaad" , plaas Jeffreys Afrikaners op gelyke voet met  "Nazisme, Stalinisme en Maoïsme"   -   'n onvergelykbare stelling bedoel om te kwets.

Jeffreys maak Afrikaners se reaksie op die Beeld-peiling as belaglik af. Wat gee enigeen van ons én Jeffreys, as koerantredakteur, die reg om mense só aan te vat met wie verskil word   -   onverbloemde onverdraagsaamheid?

Saturday, 6 February 2010

Vee eers voor die eie taaldeur

Die berig,  "Groter uitreiking nodig vir Afrikaans" (DB,29.01.2010), verwys. Die FW de Klerk-stigting se taalberaad oor die toekoms van Afrikaans het nie net weer die taaltonge losgemaak nie, maar beslis die emosies ook.

Die aanloop tot dié beraad is gekenmerk deur spanning onder Afrikaans-taalgroepe ; in besonder wit en bruin. Wittes word veral vanuit bruin taalgeledere daarvan beskuldig dat hulle Afrikaans uitsluitend vir hulself opeis.

Is dit dan nou só moeilik om deur middel van navorsing te kan vasstel   -   indien nie rééds gedoen nie   -   wat die besondere aandeel en bydrae sedert 1652 was van onderskeidelik wit en bruin tot die ontstaan, volgehoue ontwikkeling, die stryd om die erkenning van Afrikaans as onderrig-, kansel-  en wetenskapstaal, asook inisiatiewe in die aanknoop van die vroegste taalbande met lande soos Nederland, België en Vlaandere, die oorsprong van die grootste gros boustene van ons taal? Of is hierdie taalmylpale in die huidige taalgesprek 'n gerieflik-ignoreerbare irrelevantheid?

Al verneem ons ook die uitslag van sodanige navorsing, wat dan gemaak? Sal dit ons bring tot groter erkenning en die begrip van, en waardering vir, mekaar as taalgenote? Of eis die  "wenner", wit óf bruin, Afrikaans monopoliserend op vir sigself, en om welke rede?

Laat ons die klem verskuif van 'n vernietigende interne taalverdeeldheid   -   waaroor die taalimperialis hom heimlik verheug   -   na 'n taalbevorderende eensgesindheid vanweë ons liefde en respek vir ons moedertaal,  Afrikaans.

Laat ons mekaar hierin eerder telkens vermaan tot selfondersoek deur eers voor die eie taaldeur te vee as om die vinger beskuldigend na mekaar te wys.

Monday, 1 February 2010

Bekentenis oor taal spreek boekdele

Phylicia Oppelt se artikel,  "Dis nie net jul taal" (DB,27.01.2010), word nie net deur aanklaende verwyte gekenmerk nie, maar ook deur uiters onsensitiewe opmerkings.

Oppelt verraai 'n verwytende ingesteldheid wanneer sy erken dat sy  "...frases soos julle wit mense"  in gesprekke gebruik en dat  "...sy moeg is van 'wit mans' se patetiese gekerm omdat 'hul' taal...in gevaar...verkeer"  en dat  "..vir baie van ons hul taalstryd nie gesien...word sonder 'n politieke konteks van die verlede nie..." Net Oppelt kan haarself bevry van die uitgediende sillogisme van : Wit = apartheid ; Afrikaans = wit ; daarom sal Afrikaans  "...vir baie van ons...(in) 'n politieke konteks..." (apartheid) gedrapeer bly. Oppelt se verwysing na  "...die getjank van ou wit mans...(en) wit mans wat op en af spring omdat "hul" taal uit die Nuwe Suid-Afrika gestoot word...", vind ek onsensitief.

Sal ek toegelaat word om dieselfde in 'n artikel van bruin mense te sê? Dis 'n moedswillige versteuring van taalverhoudinge oor die kleurgrens heen. Ten slotte stel Oppelt haar persoonlike ingesteldheid teenoor Afrikaans in kontras met dié van die  "...getjank van ou wit mans...wat op en af spring..."  wanneer sy sê : "...ek (kan) nie dieselfde opgewondenheid en vurige ywer aan die dag lê as die taalpatriotte nie" (om aanwysbare taalhistoriese redes!) ; "Vir my dogters hou Afrikaans geen magiese magte in nie ; dit beliggaam nie 'n geskiedenis wat Voortrekkers en Afrikaner-heldedade vier nie...Vir hulle is dit net nog 'n taal." Spreek hierdie bekentenis nie boekdele nie?