Monday 1 February 2010

Bekentenis oor taal spreek boekdele

Phylicia Oppelt se artikel,  "Dis nie net jul taal" (DB,27.01.2010), word nie net deur aanklaende verwyte gekenmerk nie, maar ook deur uiters onsensitiewe opmerkings.

Oppelt verraai 'n verwytende ingesteldheid wanneer sy erken dat sy  "...frases soos julle wit mense"  in gesprekke gebruik en dat  "...sy moeg is van 'wit mans' se patetiese gekerm omdat 'hul' taal...in gevaar...verkeer"  en dat  "..vir baie van ons hul taalstryd nie gesien...word sonder 'n politieke konteks van die verlede nie..." Net Oppelt kan haarself bevry van die uitgediende sillogisme van : Wit = apartheid ; Afrikaans = wit ; daarom sal Afrikaans  "...vir baie van ons...(in) 'n politieke konteks..." (apartheid) gedrapeer bly. Oppelt se verwysing na  "...die getjank van ou wit mans...(en) wit mans wat op en af spring omdat "hul" taal uit die Nuwe Suid-Afrika gestoot word...", vind ek onsensitief.

Sal ek toegelaat word om dieselfde in 'n artikel van bruin mense te sê? Dis 'n moedswillige versteuring van taalverhoudinge oor die kleurgrens heen. Ten slotte stel Oppelt haar persoonlike ingesteldheid teenoor Afrikaans in kontras met dié van die  "...getjank van ou wit mans...wat op en af spring..."  wanneer sy sê : "...ek (kan) nie dieselfde opgewondenheid en vurige ywer aan die dag lê as die taalpatriotte nie" (om aanwysbare taalhistoriese redes!) ; "Vir my dogters hou Afrikaans geen magiese magte in nie ; dit beliggaam nie 'n geskiedenis wat Voortrekkers en Afrikaner-heldedade vier nie...Vir hulle is dit net nog 'n taal." Spreek hierdie bekentenis nie boekdele nie?

No comments:

Post a Comment