Thursday, 4 February 2010

Kry samewerking deur volk te erken

Die Afrikaner-volksgeskiedenis wys op 'n inherente dualistiese verdeeldheid in die ontwikkelende volksgeledere wat by geleentheid in bittere onderlinge verskille gemanifesteer het, veral op kerklike en politieke terrein.

Dit is vandag nie anders in die Afrikaner se jongste stryd om identiteitsoorlewing nie. Die 1830's is gekenmerk deur trekkers en agterblyers ; die Anglo-Boere-oorlogjare deur  "joiners"  en bittereinders ; die 1970's deur  "verligtes"  en  "verkramptes".

Wat noem ons hulle vandag : liberale integrasioniste en konserwatiewe segregasioniste? Terwyl liberale integrasionistiese Afrikaners hulle agter geesverwante leiers skaar, lyk dit asof konserwatiewe segregasionistiese Afrikaners leierloos is, maar is dit waar?

Het Afrikaners nie sedert Uniewording (1910) gefouteer deur leierskap hoofsaaklik polities te definieer nie, en sodoende toegelaat dat polities buite-kontekstuele leiers verdwerg is, terwyl ons vandag weet ons kom baie goed reg sónder die FW's en Pik Bothas? Polities mag die volksgesinde Afrikaners dalk leierloos wees, maar beslis nie op die terreine van die landbou, kerk, onderwys, gesondheid, ekonomie, regspleging, finansies en wetenskap nie.

Die verdringing van wit Afrikaners uit leiersposisies deur regstellende aksie beteken beslis nié daar is geen leiers onder Afrikaners nie. Allermins. Hulle is daar.

Waarom nie hierdie sektorale Afrikanerleiers binne volksgeledere identifiseer en byeenbring ten einde te besin oor die voortbestaan en toekoms van die Afrikanervolk nie? Om welke rede? Omdat ek daarvan oortuig is dat Afrikaners graag bydraend wil meewerk tot vrede, voorspoed en stabiliteit in 'n land wat ook húl vaderland is ; wel nie net as individue erken nie, maar ook behorende tot 'n selfrespekterende en erkende volk.

No comments:

Post a Comment