Thursday 18 February 2010

Artikel blaas lewe in sterwende 'kole'

Stef Delport se verdienstelike artikel, "Droster-Kakie in ere herstel"(DB,16.02), verwys. Ek het groot waardering vir hom en Dirk Schellingerhout wat die sterwende kole van ons volksgeskiedenis hier in die Oos-Kaap lewendig probeer hou.

Ek vestig kortliks die aandag daarop hoedat historiese bronne van mekaar kan verskil, soos ook in die geval van Francois Edward Davis op wie gemelde artikel fokus.

Ek beskik oor die boek, "So Het Hulle Gesterf! Laaste ure van diegene oor wie die doodvonnis uitgespreek en voltrek is in die Kaapkolonie gedurende die oorlog van 1899 - 1902", versamel deur G.Jordaan (HAUM Boekhandel, Kaapstad, 1940).

Die beginsin van Delport se artikel beweer dat Davis op 25 Januarie 1902 tereggestel is terwyl dit in werklikheid op 25 Januarie 1901 was. Die artikel meld 15 Oktober 1901 as die datum waarop Davis op 'n Vrystaatse plaas gevang is, terwyl my bron dié datum as 23 November 1900 aangee.

Volgens die artikel het die skroewe van die stoel waarop Davis doodgeskiet is in die hande van 'n posmeester beland wat geweier het om dit aan Davis se familie te gee. Volgens my bron is dié skroewe deur 'n sekere mevrou "S" aan Davis se vrou gestuur met dié boodskap: "Neem hierdie skroewe as 'n aandenking; wys dit aan die Boere wat hul koning nie eer nie en sê aan hulle dat hulle ook doodgeskiet sal word as hulle nie kom oorgee nie."

Voorgemelde verskille ontneem niks aan die meriete van Delport se artikel nie. Wat van 'n artikel(s) oor die konsentrasiekampe te Uitenhage en Oos-Londen?

No comments:

Post a Comment