Saturday 20 February 2010

Los ons en skryf oor jul eie mense

Henry Jeffreys se monduitspoel oor wit Afrikaners(DB,08.02) laat jou wonder wanneer hy die fokus na bruin mense gaan verskuif. Is daar nie ook onder hulle diegene wat, integrasie-gedrewe, van 'n eie identiteit wil afskeid neem, dog ook diegene wat dit wil behou nie?

Die volgehoue gesanik van hoë-profiel bruin skrywers, soos Jeffreys, Jansen en Kie., oor integrasie   -   gemik op wit Afrikaners   -   word regtig irriterend. Jeffreys, Jansen en Kie. probeer Afrikaners subtiel reduseer tot slegs indiwidue ter voorbereiding vir integrasie.

Hierin word opsetlike wanvoorstelling gebruik soos dat Afrikaners rassiste is en altyd, isolasie-gedrewe, 'n laertrekmentaliteit openbaar. Jeffreys, Jansen en Kie., neem kennis dat ons trotse volkshuisbewoners is en beoog om dit te bly.

Toe FW "aanmatigend" was deur te beweer "...die bruin mense is 'sy' mense en hulle noem hom 'pappa' "(DB,08.02), het prof. Danny Titus (Bruin Belange Inisiatief) hom daaroor voor stok gekry. Wie nog, ooit, het Jeffreys, Jansen en Kie. voor stok gekry oor wat hulle gereeld van ons as Afrikaners sê   -   dubbele maatstawwe?

Jeffreys, Jansen en Kie. is net soveel "skuldig" aan dieselfde tipe uitlatings oor wit Afrikaners as wat FW "skuldig" staan met sy opmerkings oor bruin mense. Die opportuniste onder ons moet waak om nie hul hand te oorspeel nie.

Julle hoë-profiel bruin skrywers, sê vir ons wat jul standpunt is oor Maleiba wat sê : "...dat die kennis van die Khoi-Khoin-identiteit, geskiedenis en kultuur nodig is 'sodat die mense kan weet van waar af hulle kom' "(DB,10.02), asook Titus wat se: "Ek is bruin, gemeng, geskape na die beeld van God en trots daarop, veral trots op my bruingeit"(DB,07.06.08).

No comments:

Post a Comment