Saturday 25 January 2003

Normaliseer taalgemeenskap

Die ANC-slagspreuk dat geen normale sport moontlik is binne 'n abnormale samelewing nie, is suksesvol in die verlede gebruik.

Dié slagspreuk blyk ook toepaslik te wees op die onderwysdepartement se voorgestelde taalbeleid vir hoër onderwys. Hoewel dit oënskynlik meriete het, ontbreek dit aan nugtere realisme in minstens een belangrike opsig: die vereiste van taalharmonie tussen die breë samelewing en die tersiêre gemeenskap.

Die lofwaardige ideaal van 'n taalbedeling aan tersiêre inrigtings waar al ons tale, insluitend Afrikaans, 'n gelykwaardige taaltuiste sal vind, klink egter na lippediens binne 'n onhaalbare taalpraktyk   -   vir so lank as wat die openbare taalgemeenskap, vanweë regeringsinmenging, uitgelewer is aan die onbeskaamde aggressie van verengelsing.

Die Afrikaanse taalruimte moet eers bevry word van die deur staatsgesanksioneerde Engelse taalaggressor binne die makrokonteks van die breë samelewing, alvorens Afrikaans ware vryheid en gelykheid binne die mikrokonteks van 'n tersiêre instelling kan geniet.

Wie hom blind hou vir die voorwaarde van taalharmonie tussen die breë samelewing en die tersiêre gemeenskap, sien 'n woestynlugspieëling illusionêr vir water aan.

Die posisie van Afrikaans buite ons tersiêre instellings moet eers genormaliseer word alvorens normaliseringspogings van ons taal binne dié instellings enige geloofwaardigheid kan geniet.

Dit is nie sonder waardering dat daar van die taalbeleid kennis geneem word nie. Dog, die minister behoort sy kollegas te versoek om hom te help om sy taalbeleid te laat slaag deur ons nasionale tale, waaronder ook Afrikaans, se ondergeskiktheid aan Engels onmiddellik te beëindig. Eers met die normalisering van ons openbare taalgemeenskap buite opvoedingsinstellings kan 'n genormaliseerde taalbedeling daarbinne te wagte wees.

Tuesday 14 January 2003

US-posmeester is 'n vriend vir taal

Vanweë die Universiteit van Stellenbosch se gradeplegtigheid bevind ek my vroeg in Desember op Stellenbosch.

Die daaropvolgende week span die ANC-kongres sy veiligheidsnet oor die US-kampus.

Gedurende die kongresweek bevind ek my in die Neelsie se Matieland-poskantoor, omring deur sestien advertensie-plakkate   -   alles slegs in Engels. Op versoek ontmoet ek die posmeester, mnr. Geduld, om navraag te doen oor dié onaanvaarbare taaldominansie en  -diskriminasie.

In reaksie word ek voorgestel aan mnr. Maanda Manyatshe, hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Poskantoor en ook 'n kongresafgevaardigde   -   wat hom toevallig in die poskantoor bevind het   -   om my navraag eerstehands te beantwoord.

Die gesprek verloop in polities-korrekte Engels. Ek maak beswaar en verneem waarom 'n veeltalige gemeenskap onderwerp word aan advertensies uitsluitlik in Engels. Ek kry die standaard-antwoord: Advertensies kan nie in al elf landstale gedruk word nie. Ek verwerp dié antwoord en skets die taalwerklikheid van streekstale en verwante behoeftes.

Sonder om kommentaar te lewer, volg die tweede stereotipe antwoord: die geldelike onhaalbaarheid van meertalige advertensies. Die besparing wat die eentaligheidsbenadering meebring, maak dit glo moontlik om posgeriewe in die landelike gebiede te verskaf.

My verweer dat taal nie in geld omgedink moet word nie, het slegs hul lagspiere geprikkel. Met handgebare is duidelik aangetoon dat kosvoorsiening aan die hongerlydendes belangriker is as taal. Hiermee verskuif die klem van voorsiening van posgeriewe, na kosvoorsiening.

My standpunt dat mense in taalvriendelike, openbare diensverskaffingsplekke hulle met die eie taal behoort te kan identifiseer, is afgemaak as emosionaliteit.

Belangriker dalk as dié gesprek is die Matieland-posmeester se raaksien en benutting van die geleentheid tot beswaarmaking. Hy verseker my dat weens soortgelyke vroeëre taalbesware, hy aan sy poskantoor 'n meer taalverteenwoordigende karakter kon gee. Die nuutste besending advertensies laat hom egter geen keuse nie.

Afrikaans het beslis 'n taalvriend in dié Matieland-posmeester.