Tuesday 27 July 2021

So is krisis in Kerk voorheen hanteer



 

Onlangse berigte en skrywes oor dolerende NG-gemeentes dui ondubbelsinnig op die aanwesigheid van twee botsende sienings van die Bybel in dié kerk. Nuwe vertalings en interpretasies daarvan, sedert 1933 en 1952 veral, het tot groot verdeeldheid gelei. Dolering is 'n simptoom van 'n kerklike krisis rondom die Bybel.

 Twee Bybelse vakwetenskaplike gemeenskappe  -  teologiese paradigmas  -  is onderskeibaar. Vir die een is die Bybel die geïnspireerde Woord van God, geskryf onder die leiding van die Heilige Gees en selfgenoegsaam sodat die Skrif deur die Skrif self verklaar kan word. Vir die ander is die Bybel bloot mensewoorde oor God  -  'n feilbare historiese verhaal  -  en verklaar aan die hand van die evolusieteorie.

 Oor jare heen al word Bybelse waarhede geïnfiltreer deur evolusie georiënteerde oortuigings in die NG kerk en, in 'n "nuwe verstaan" daarvan, tot mites gereduseer. In 2011 sê prof. Willie Esterhuyse, teoloog en filosoof, dat God self "deur sy eie proses van evolusie gaan...(en) geen geloof kan sonder die wetenskap oorleef nie" (By 22.01.11). Wat 'n aanspraak.

 Enkele kenmerke van botsende (ook teologiese) paradigmas is dat hulle mekaar wedersyds uitsluit, onversoenbaar van mekaar verskil, 'n konseptuele transformasie vind plaas, 'n nuwe stel verbintenisse word aanvaar, veranderde siening van die ondersoekterrein (Bybel) vind plaas met onderlinge kommunikasieprobleme.

 In wetenskapsfilosofiese terme bevind die NG Kerk sigself tans in 'n krisis, uiteindelik gevolg deur 'n wetenskaplike revolusie waardeur een van die kompeterende teologiese paradigmas verwerp sal word. Met die oog op minimalisering van kerklike skade, asook waarheidsbehoud, word dit 'n oorweging om betyds paaie te skei soos in die verlede, ook tydens 'n kerklike krisis, tussen Protestante en Katolieke.

 (ngn)


 

 

Tuesday 20 July 2021

Hieroor mág ons van mekaar verskil


 


 Daar bestaan 'n lang lys van siekte-pandemies wat die mensdom deur die eeue getref het. In die 6de eeu sterf die helfte van die Europese bevolking aan builepes. Gedurende die 14de eeu eis die Swart Dood (builepes) ongeveer 25 miljoen lewens.

 Tussen die 15de en 17de eeue versprei pokke vanuit Europa na die Nuwe Wêreld (Amerikas) waar 90% van die inheemse bevolking daaraan sterf. Sewe agtereenvolgende cholera-pandemies volg mekaar in die 19de eeu in Indië op. In die 20ste eeu besmet die Spaanse griep ongeveer 'n derde van die wêreldbevolking met aansienlike lewensverlies.

 By gebrek aan kennis van die mediese wetenskap het diie vroegste pandemie-slagoffers hul toevlug tot die Kerk en hul Christelike geloof geneem. 'n Oorblyfsel hiervan is die tienjaarlikse Passiespele in Oberammergau.

 Met verloop van tyd het vooruitgang van die geneeswetenskap 'n verskuiwing vanaf geloof na wetenskap, as kuur vir pandemies, meegebring. Deesdae vra ons baie vrae soos: word ons alleenlik deur die wetenskap van siekte genees, of is die wetenskap 'n gawe van Bo as genees-instrument in diens van die Gewer daarvan?

 Binne ons sekulêre staat, waarvan die SA-grondwet aan elke landsburger godsdiens-  en meningsvryheid toeken, vind ek dit jammer dat ons as Christengelowiges nie groter blyke gee van ons siening van die wetenskap-geloofsverhouding nie. Word laasgenoemde tans ondergeskik gestel aan eersgenoemde?

 Natuurlik mag ons, vreedsaam, van mekaar verskil. Waarom nie, met groot dankbaarheid, die wetenskap as gawe van Bo onder die sambreel van ons Christelike geloof plaas, en nie andersom nie? Wetenskap kan my help tot by die "grens' , maar geloof dra my daaroor.

 


Tuesday 13 July 2021

Nuwe deuntjie oor veraf komende taal




Na analogie van die liedjie "Kinders, moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink...Dit kom van ver af, van Piet le Roux se plaas", sê ons: "US, moenie met Afrikaans mors nie, moedertaal-studente het dit nodig. Dit kom van ver af..." Hoe ver?

In sy bydrae: "Die oerwortels van Afrikaans" tot die bundel, "Afrikaans ons Pêrel van groot waarde", beweer prof. HJJM van der Merwe dat ons taal 'n spontane voortsetting van sewentiende-eeuse Nederlands is. Soos ander tale, is Afrikaans terug te voer tot ouer- of oertale.

Afrikaans se baarmoederlike ontwikkelingsgang begin by die Nostratiese talegroep waaruit Indo-Germaans ontstaan het. Daaruit het die Kentumtale, waarvan Germaans een was, ontwikkel. Uit Germaans het Suid- en Noord-Germaans voortgekom.

Suid-Germaans skenk geboorte aan Binnegermaans, en dié weer aan Kontinentaal-Germaans. Uit laasgenoemde kom Nederduits waaruit Saksies en Nederfrankies kom. Wes-Nederfrankies gee geboorte aan Nederlands en Vlaams waaruit die 17de eeuse Nederlands-Vlaams ontstaan en na Suid-Afrika oorgeplant is.

In US-lesingsale klink tans 'n ander deuntjie op oor dié van die veraf komende taal, te wete: "Siembamba, Moeder se taal, draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood."

(ngn)






Monday 5 July 2021

Gesondheidswelsyn ons almal se plig




Briefskrywers huldig opponerende standpunte oor die inentingskwessie. Sommige wys op raakpunte; ander op verskilpunte, en nog ander neig om daarvan geskilpunte te maak  -  'n polarisasie van menings rustende op oorwegend subjektiewe oortuigings. Is 'n middeweg te vinde?

Ek maak dit nie tot my taak om enigeen vir of teen inenting te beïnvloed nie. Ek maak nie ander mense se persoonlike en/of groepsverantwoordelikheid , allermins op arrogante wyse, tot myne nie.

Indien wel daarom gevra, gee ek my mening en tree dan terug. Elke persoon het die reg op selfstandige besluitneming, in ag genome die welsyn ook van ander. So, vanwaar my reg om ander tot my sienswyse te wil dwing?

Kan ons aanvaar dat diegene wat druk op ander uitoefen, en dit waarskynlik as hul burgerlike plig beskou, ook op vele ander belangrike nasionale terreine hul burgerlike plig nakom deur drukuitoefening ook daar?

Ek staan begrip en verdraagsaamheid teenoor beide individu èn groep voor; die erkenning van persoonlike keusevryheid en dat besluitneming deur talle oorwegings onderlê word, asook dat ongewensde drukuitoefening gestaak word.

Die soeke na die vinding van 'n middeweg in belang van ons nasionale gesondheidswelsyn is ons almal se plig.             (ngn)