Monday, 30 May 2016

Politieke figure bly 'n bron van humorskepping

Die politieke landskap het as 'n bron van humor vir spotdrywing, gekskeer, grappe en spotprenttekeninge oor politici gedien, en leen sigself nog steeds daartoe.

Genl. J.B.M.Hertzog, 'n Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO,1899-1902), en 'n histories bekende politieke figuur, was 'n lid van genl. Louis Botha se eerste Unie-kabinet van 1910. Botha   -   met sy onrealistiese beleid dat Afrikaners hulle slegs agt jaar ná die ABO met Britse imperialisme moes versoen   -   en Hertzog   -   met sy beleid van "Suid-Afrika eerste" en Afrikanernasionalisme   -   het sodanig gebots dat dié twee leiers se paaie geskei en Hertzog in 1914 die Nasionale Party in Bloemfontein gestig het. Dit was die begin van die Afrikaner se politieke verdeeldheid tussen "Nat" en "Sap" wat oor dekades sou strek.

Natuurlik het die Nat-Sapverdeling sigself geleen tot vele oor-en-weer beskuldigings, maar ook vir humoristiese gespot. Sestig plus jaar gelede vertel my ouma van twee jong seuns   -   die een 'n Smuts-  en die ander 'n Hertzog-ondersteuner   -    wat handgemeen geraak het oor hul verskille. Uiteindelik beland die Smutsman bo-op die Hertzogman waarop hy die Hertzogman toesnou: "Hertzog onder!", waarop laasgenoemde reageer met: "En varksog bo!".

Wat vandag in SA gebeur, herinner my aan dié stukkie eenvoudige humor soos deur my ouma verhaal. Daar is die kamp gekenmerk deur korrupsie, bedrog, misdaad, moord, verkragting, stakings, armoede en toenemende verval en agteruitgang. Daarteenoor is daar die kamp wat vir presies die teenoorgestelde staan en eersgemelde kamp hand en tand beveg. 

Hierdie gepolariseerde SA-scenario laat my dink aan D.J.Opperman se gedig, "Kersliedjie", wat eindig met: "Oor die hele affêre het uit 'n hoek 'n broeis bantam agterdogtig gekloek." Dit verg nie veel humoristiese verbeelding om Nammawaan te sien as die "agterdogtige broeis bantam" met Luthuli Huis en/of die parlement as die "hoek" waaruit hy "kloek" nie.







Thursday, 26 May 2016

Eensydig misleidende joernalistieke beriggewing

Na die lees van Allister Sparks se artikel, "Politieke waansin is óral" (DB,25.05), besef ek dat ek voortaan met 'n meer kritiese ingesteldheid sy toekomstige artikels sal moet lees. Waarom? In sy artikel maak Sparks, na my mening, hom skuldig aan onaanvaarbaar swak joernalistieke beriggewing in dié sin dat hy lesers mislei deur 'n uiters eensydige voorstelling van internasionale opposisie-politieke leiers soos Trump (VSA), Le Pen (Frankryk), Petry (Duitsland), Hofer (Oostenryk) en Johnson (Brittanje) wat, as "verregses", hulle beywer vir "regse supernasionalisme". Wat 'n klomp bog.

Sparks bied die leser geen verduidelikende uiteensetting en/of verklaring vir dié persone se politieke opkoms in hul onderskeie lande nie. Daar móét tog redes daarvoor wees. Dié redes verswyg Sparks egter gerieflikheidshalwe. 

Omstandighede in Europa, Brittanje en die VSA , en veral in Europa, het in die jongste tyd dramaties verander as gevolg van die instroming van honderdduisende "vlugtelinge" uit Moslemlande met die uitgesproke doel om Europa volkome te Islamiseer. Europese burgers voel, met goeie redes waarvan daar talle voorbeelde is, hulself en hul nasionale voortbestaan bedreig. Sparks noem dié reaksie "xenofobie"    -     belaglik.

Brussel en die Europese Kommissie, wat blyk toenemend al meer lidlande se interne huishoudelike sake vir hulle te wil voorskryf, luister nie na besware van bekommerde Europese burgers nie, en beswaarmakers word deur die media van rassisme, fascisme en nazisme beskuldig.

Op dié aksie van die EU volg reaksie om nasionale oorlewing. Dit is dié reaksie wat gemelde leiers na vore roep om die strewe na nasionale selfbehoud te beantwoord. Van dié redes meld Sparks absoluut niks. Wat my betref is dit 'n voorbeeld van die manipulering van die media, soos ook in Europa, om 'n vooropgesette beeld na buite uit te dra waardeur die waarheid geweld aangedoen word en die leuen floreer.







Thursday, 19 May 2016

Alle onderwysfasette verdien verbetering




Ek verwys na dr.Jurie Joubert se artikel: "Vir 'n blinker toekoms" (DB,18.05), waarin hy dit in hoofsaak het oor die gebrekkige onderrigmodel van die ANC-skoolstelsel. Hy sê: "Fundamentele verandering...is nodig om ons onderrig weer op die regte spoor te bring...Swak akademiese vertonings is die resultaat van die...onderwysmetodiek...die probleem is die pedagogiek (hy bedoel waarskynlik eerder pedagogie) wat beoefen word. Die...oplossing lê...in gehalteonderrig."

Onderrig in isolasie gesien, kan egter nie alleen   -   in die afwesigheid van ander voorwaardelike onderwysfaktore, wat gesamentlik en geïntegreerd   -   leersukses waarborg nie. Onderrig is een, dog baie belangrike, faset van onderwys. Dit is by uitstek die taak van die onderwyser. Kinders gaan skool om, volgens elkeen se vermoëns, suksesvol te leer. Onderrig móét dus rekening hou ook met kinders se leervermoëns, -potensiaal en -style. 

Wat pas gesê is, impliseer 'n gedifferensieerde onderrig-leerbenadering, dog ANC sosialistiese dogma beklemtoon die ongedifferensieerde groep en -behoeftes veel eerder as die indiwidu en dié se behoeftes. Laasgenoemde benadering herinner die ANC darem té veel aan die vorige bedeling se suksesvolle benadering van gedifferensieerde onderwys. Die ANC sê: "We all have potential" (wat ongetwyfeld waar is), maar ontken dat indiwidue deur potensiaalverskille gekenmerk word.

Onderliggend aan suksesvolle onderrig (onderwysmetodiek) en leer op skool, is daar fundamentele boustene as voorwaardes vir suksesrealisering. Die totale spektrum van dié noodsaaklike boustene is te veel om hier te noem. Ek noem daarom slegs enkeles soos die keuring van onderwysstudente; deeglike onderwysersopleiding; gesonde onderwyser-kindverhouding, gesagsbalans, orde en dissipline; moedertaalonderrig; 'n veilige skoolomgewing; leefwêreldlik relevante leerinhoude, en gepaste leerlingmotivering.

Alhoewel Joubert volkome gelyk gegee moet word oor sy onderrigpleidooi, is dit alleen nie voldoende om leerlinge se onderwystoekoms te verseker nie. Daar moet op álle fasette van die ANC-skoolstelsel verbeter word.



Tuesday, 10 May 2016

Die ma agter dié bekroond suksesvolle vrou

Die afgelope Sondag het ons ons moeders, wat ons daagliks behoort te waardeer, herdenk. My eie, en dié van my tydgenote, is lank nie meer daar nie, en tog bring ons steeds waarderend hulde aan hulle.

In aansluiting by die Moedersdagtema het Willemien Brümmer vir Tinarie van Wyk Loots, veelbekroond suksesvolle verhoogkunstenares, onder meer ook oor haar kankeropgeëisde ma, wyle dr. Ansie van Wyk Loots, uitgevra waarop Tinarie geantwoord het: "Ek dink elke dag aan my ma. Ek dra alles wat ek doen op aan my ma" (By,07.05).

Wie was ma Ansie? Sy was ons fakulteitskollega aan die NMMU. Wat my betref, was sy 'n uitsonderlik begaafde persoon wat haar onderskei het deur voluit te geleef het   -   dinamies, energiek, entoesiasties, sprankelend, motiverend en blymoedig   -   vir haar vak sowel as die potensiaalontwikkeling van haar studente.

Rudyard Kipling se digwoorde: "If you can ...walk with kings nor lose the common touch. If all men count with you..." is waar van haar. So ook die woorde: "If you can meet with Triumph and Disaster..." Sy kon beide hanteer.

Ons almal is sterflik, dog sommige leef voort na hul dood. Tinarie se opmerkings oor haar ma bevestig dit. Wat Paulus vir Timoteus gesê het: "...dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was...ook in jou is" (2 Tim.1:5), geld ook Tinarie en Ansie.

Ek is beslis nie die skerpste potlood vir 'n elegiese skrywe oor wyle Ansie nie, dog sy verdien nie net die erkenning van haar bekroond begaafde dogter nie, maar ook die nadoodse eerbetonende huldiging van al haar vroeëre kollegas en studente. Ons volg die dogter se prestasies belangstellend en waarderend, telkens terugdinkende aan ma Ansie.








Tuesday, 3 May 2016

Studie wys korrupsie kenmerk Afrikakultuur

Pres. Zuma se 783 oortredings van "rampokkery, korrupsie en bedrog" (DB,30.04) is 'n ongeëwenaarde skandvlek in SA se presidensiële geskiedenis. Die Afrikakultuur verskil egter skerp hieromtrent. Die rede daarvoor blyk by implikasie uit 'n studie van Petria M.Theron, van die Noordwes-universiteit, getitel; "Kulturele perspektiewe op korrupsie in Afrikalande suid van die Sahara".

Theron verwys na "Transparancy International (TI)" se 2012 "Corruption Perceptions Index" waarvolgens   -   op 'n skaal van 100 waar 0 op hoë en 100 op geen korrupsie dui   -   SA 'n telling van 43, en 89,6% van sub-Saharalande minder as 50 gekry het. Hiervolgens blyk korrupsie endemies aan Afrika te wees.

Gelei deur die definisie: "Corruption is the misuse of a public office or a position of authority for private material or social gain at the expense of the people", bevind die 2012 TI-korrupsie-ondersoek, onder meer, die volgende:

1. Afrika is besonder kwesbaar vir korrupsie; veral Afrika-waardes en  -norme.
2. Geskenkgewing is 'n onbevraagtekende normale praktyk terwyl ander kulture dit as omkopery       beskou.    
3. Kulturele relativisme wat tot nie-eenvormige gedrag lei, skep 'n teelaarde vir korrupsie.
4. Die sterk kommunale band tussen privaat en openbare besit vervaag en bevorder korrupsie.
5. Die druk van uitgebreide familiesorg, lei maklik tot begunstigende nepotisme, stamvoorkeur en
    ekonomiese korrupsie.
6. Tevredestelling van voorvadergeeste word ook voorgehou as verskoning vir korrupte gedrag.
7. Kenners beweer die Afrikagewete verskil aansienlik van die skuldbewuste gewete van die 
    ontwikkelde (veral Christelike) wêreld.

Met hul lojaal volgehoue steun aan Zuma toon ANC-ondersteuners juis daarmee hoe aanvaarbaar korrupsie vir die Afrikakultuurmens is. Korrupsievryheid blyk nie deel van die ANC-vryheidstryd te wees nie. Minister Angie Motshekga kan gerus die instelling van antikorrupsie-programme op skool oorweeg. SA het opvoeding tot korrupsievryheid dringend nodig.