Tuesday 10 May 2016

Die ma agter dié bekroond suksesvolle vrou

Die afgelope Sondag het ons ons moeders, wat ons daagliks behoort te waardeer, herdenk. My eie, en dié van my tydgenote, is lank nie meer daar nie, en tog bring ons steeds waarderend hulde aan hulle.

In aansluiting by die Moedersdagtema het Willemien Brümmer vir Tinarie van Wyk Loots, veelbekroond suksesvolle verhoogkunstenares, onder meer ook oor haar kankeropgeëisde ma, wyle dr. Ansie van Wyk Loots, uitgevra waarop Tinarie geantwoord het: "Ek dink elke dag aan my ma. Ek dra alles wat ek doen op aan my ma" (By,07.05).

Wie was ma Ansie? Sy was ons fakulteitskollega aan die NMMU. Wat my betref, was sy 'n uitsonderlik begaafde persoon wat haar onderskei het deur voluit te geleef het   -   dinamies, energiek, entoesiasties, sprankelend, motiverend en blymoedig   -   vir haar vak sowel as die potensiaalontwikkeling van haar studente.

Rudyard Kipling se digwoorde: "If you can ...walk with kings nor lose the common touch. If all men count with you..." is waar van haar. So ook die woorde: "If you can meet with Triumph and Disaster..." Sy kon beide hanteer.

Ons almal is sterflik, dog sommige leef voort na hul dood. Tinarie se opmerkings oor haar ma bevestig dit. Wat Paulus vir Timoteus gesê het: "...dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was...ook in jou is" (2 Tim.1:5), geld ook Tinarie en Ansie.

Ek is beslis nie die skerpste potlood vir 'n elegiese skrywe oor wyle Ansie nie, dog sy verdien nie net die erkenning van haar bekroond begaafde dogter nie, maar ook die nadoodse eerbetonende huldiging van al haar vroeëre kollegas en studente. Ons volg die dogter se prestasies belangstellend en waarderend, telkens terugdinkende aan ma Ansie.








No comments:

Post a Comment