1. Inleidende opmerking
Die doel van hierdie laaste hoofstuk is nie om die leser te probeer oortuig - by wyse van oorvloedige aanhalings en bewyse - dat die demoniese evolusieteorie wel aan ons kinders in openbare skole onderrig word nie. Dit is ‘n feit wat deur enige belangstellende en geestelik meelewende persoon nagegaan kan word. Die fokus is derhalwe op die aanwesigheid van die misleidende evolusieleuens in SA-skoolhandboeke se onderrigmateriaal.
Die kernmotief waardeur hierdie bydrae oor die dodelike evolusiegeloof gedryf word, is die tydig waarskuwende bewusmaking van die gevaar wat dit vir ons kinders, wat die ware kerk van die toekoms moet verteenwoordig, inhou. My indruk is ongelukkig dat vele Christene egter weinig erg het aan sodanige bewusmaking, en nog minder aan die waarkuwende gedagte daaragter.
In voorafgaande hoofstukke is daar gewys op dr.Kent Hovind se verwysing na diesulkes as die “willingly ignorant” - gewilliglik tevrede oningeligtes - waarna Petrus in 2 Petrus 3:5 verwys het as hulle wat “moedswilliglik vergeet”. Wil Christenverbondsouers werklik willens en wetens onder laasgenoemde gereken word? Ek kan my dit nie voorstel nie.
In hierdie hoofstuk kom dit aan die lig dat evolusie-onderrig in sowel laer- as hoërskole ‘n voldonge feit is; dat ‘n stamland soos Nederland dié onderrig hier te lande finansieel sterk ondersteun; die verhouding tussen die evolusie- en Christelike geloof; die teenwerking van evolusie-beïnvloeding; ouers se verantwoordelikheid in die onderwys van hul kinders en, ten slotte, die (NG)Kerk se posisie met betrekking tot evolusie en die skoolse onderrig daarvan.
2. Die onderrig van evolusie op skool
Die evolusieteorie kom feitlik sonder uitsondering voor in skoolhandboeke oor die biologiese wetenskap. Vandag, so word beweer, aanvaar by verre die meeste wetenskaplikes die evolusieteorie as korrek. Hierdie teorie, wat direk indruis teen wat die Bybel ons leer, konfronteer Christenouers met die vraag oor wat hulle hieromtrent te doen staan. Wat staan veral dié ouers te doen wie se kinders in staatskole is?
Dit is so dat ouers verskillende menings het aangaande die onderrig van evolusie op skool. Daar is diegene wat beide die Bybel én evolusie aanvaar sonder om die verwantskap tussen dié twee teenoorstaande kontekste behoorlik na te gaan.
Diesulkes verdeel die lewe dualisties in geloofs- en sekulêre domeine en skei so dié twee van mekaar. Vervolgens is daar dié Christene wat glo aan evolusie as ‘n proses wat deur God daargestel en deur Hom voltrek word. Derdens is daar hulle wat glo aan God se direkte inmenging met die ontstaan van lewe, maar tegelyk ook heelwat van die evolusionêre wetenskap se uitsprake aanvaar, veral dié wat op sogenaamde “bewyse” berus. ‘n Vierde groep is diegene wat uitsluitlik die Bybel se weergawe van die skepping aanvaar en vir wie die evolusieteorie, en ‘n aarde ouer as 10 000 jaar, onbybels is.
Van Zyl beweer dat die evolusiedebat ongetwyfeld vir Christene belangrik is. Eerstens bevraagteken die evolusieteorie God se bestaan, en is daar selfs militante ateïstiese evolusioniste wat godslasterlik teen die bestaan van God argumenteer en wat hulself in gesagsposisies, as doserende personeellede, voor groepe kinders en studente bevind van wie hul geloof in God Drieënig afgebreek word. Tweedens het die evolusie-idee ‘n belangrike deel van die openbare debat geword waarvan, veral Christenouers, nie durf wegskram nie. Derdens het die aansprake van die evolusioniste ernstige implikasies vir die Christelike geloofstradisie wat geen Christengelowige, oud of jonk, durf ignoreer nie.
Wat Christene, en veral ouers, te doen staan, is om seker te maak dat hulle voldoende ingelig sal wees betreffende die hele evolusie-aangeleentheid en nie wegskram van deelname aan gesprekke daaroor nie. Ouers moet dermate ingelig wees dat hulle in staat sal wees om met hul kinders aan huis daaroor te kan praat. Ouers en kinders kan saam daaroor besin oor watter tipe vrae gevra behoort te word aangaande evolusie-propagandamaking. Dit is juis hiermee dat dié boekie probeer om kinders, ouers, onderwysers en predikante hierin behulpsaam te wees.
3. Evolusie-onderrig op laerskool
Indiwidue verskil van mekaar ten opsigte van die tydstip waarop sekere dinge onder die aandag kom en werklik tot hulle begin spreek. Die berig, “Evolusieleer in skole is realiteit wat bly - Hanekom”, in Die Burger (Oos-Kaap) van Saterdag, 15 November 2008, was waarskynlik vir my die finale besef van evolusie-onderrig op skool en die finaliteit daarvan. Voorafgaande hiertoe was daar beriggewing oor dié aangeleentheid, maar nie in so ‘n finale standpuntname van die ANC-owerheid gegiet nie.
Mnr.Derek Hanekom, destydse adjunkminister van wetenskap en tegnologie, het tydens die tweede Nasionale Wetenskap-joernalistiekkongres in Johannesburg in die week van 10 tot 15 November 2008 gesê: “…dat die evolusieleer in Suid-Afrikaanse skole geleer word en dat daar aangehou sal word om dit te doen, omdat dié wetenskap ‘n feit is…Ons kan ook nie alternatiewe teorieë wat nie bewysbaar is, akkommodeer nie, want dit is gegrond op fanatisme…evolusie is as die waarheid bewys.”
Met hierdie ministeriële uitspraak is dit duidelik dat evolusie-onderrig op skool gekom het om te bly vir solank as wat dit die ANC-regering behaag, ‘n regering wat - volgens ‘n uitspraak van een van sy leiers - aan die bewind sal bly tot en met die wederkoms van Christus.
Die evolusieleer word reeds so vroeg as in die graad 5-handboek aan kinders, waarvan meer as 70% uit Christenhuise kom,onderrig. Dit ondermyn, onder meer, die ouerlike gesag, want: “Juffrou het so gesê!” In die graad 7-handboek word in hoofstuk 4 beweer dat ons in Suid-Afrika die oudste geskiedenis ter wêreld het, want “bewyse” is gevind van die eerste mensagtige wesens in Suid- en Oos-Afrika. Menslike lewe het kwansuis in Suidelike Afrika ontstaan en vandaar na die res van die wêreld versprei. Geen wonder dat daar so ‘n “kreatiewe energie” hier by ons aanwesig is nie.
Studie-eenheid 1 vertel vir kinders dat evolusie ‘n proses is waarvolgens lewende dinge, soos plante en diere, verander oor die tyd wat hulle help om veranderende toestande te oorleef. Kinders word vertel dat fossiele miljoene jare oud is en, met behulp van foto’s van skedels, dat die mens drie miljoen jaar gelede in Afrika ontstaan het en dat alle mense hul voorgeslagte hierheen kan terugvoer.
In studie-eenheid 2 word beweer dat die mens oor miljoene jare aansienlik verander het. Die mens het kwansuis ongeveer vyf miljoen jaar gelede uit ape ontwikkel en oor miljoene jare geleer om regop te loop en het ook groter breine ontwikkel.
Geen ouerlike toestemming is vooraf verkry vir die onderrig van hierdie evolusie-leuens aan hul kinders nie. Kinders word geensins aangemoedig om hierdie onderrig-inhoude te bevraagteken nie. Die invoering, onderrig, vaslegging en versterking van idees, soos evolusie, totdat dit nie meer bevraagteken word nie, is niks minder as indoktrinasie nie. In ons skole word dit vandag as onderwys beskou.
Enigeen wat deur die Amerikaanse skolestelsel, onder die invloed van John Dewey, beweeg het en nié in evolusie glo nie, word as onopgevoed, reaksionêr en godsdienstig fundamentalisties beskou. Ons, in Suid-Afrika, volg in dieselfde spoor.
Soos in die VSA, word, deur middel van ons skolestelsel, ook by ons kinders ‘n denkwyse gevestig waardeur die logika aangaande kennis getransformeer word met besliste implikasies vir ons sedes, politieke en godsdienstige lewe. Die bewoording in handboeke stel kinders bekend aan ‘n Godlose wêreldbeskouing waarbinne die mens ‘n geëvolueerde dier is. Diegene wat in God glo, bedrieg dan glo hulleself. God word gediskrediteer, afgemaak as ‘n mite, gelykgestel op dieselfde vlak as ander gode, en is kwansuis slegs ‘n skepping van die verbeelding in die menslike bewussyn.
Die evolusieleer is niks anders as ‘n antichristelike wêreldbeskouing wat skuil agter die masker van “wetenskap” nie. Hierdie “wetenskap” wil graag enige verband tussen die mens se ontstaan en die Godheid uitwis. Met Hom uit die weg, verdwyn ook Sy voorskrifte oor hoe ons moet lewe. Dit is niks anders nie as opstand teen God en ‘n rebellie teen wat Sy Woord vir ons voorskryf.
Volgens Pelser is daar drie belangrike kwessies wat die aandag verdien in die eerste hoofstukke van die graad 7 Sosiale Studies leerplaninhoude, te wete: die verskuilde boodskap in skoolhandboeke; die doelstellings wat die Onderwysdepartement wil verwesenlik en die onderliggende aannames of vooronderstellings waarop die leerinhoude berus.
Die verskuilde boodskap in skoolhandboeke
Wat betref die aard en herkoms van die mens, dra die Departement van Onderwys tans ‘n “wetenskaplike en waardevrye” mens- en wêreldbeskouing die skool en klaskamer binne. Die “wetenskaplike” deel van dié beskouing wil die kind laat glo dat alles waarmee hy te doen kry van ‘n algeheel neutrale aard is.
Suid-Afrika is ‘n veelrassige, multikulturele en multi-religieuse land en, beweer Pelser, dit wil voorkom of die Onderwysdepartement deur sy nuwe leerinhoude alle inwoners van ons land wil gelykskakel tot “universele persone”, gestroop van enige besondere identiteit soos gesetel in ras, volk, kultuur, taal en lewens- en wêreldbeskouing; slegs behorende tot die “reënboognasie”.
Omdat mense godsdienstig van mekaar verskil, kan hulle nie deur godsdiens saamgesnoer word nie. Die weg na eenheid van ons land se inwoners loop dus deur ‘n terrein waarop, misleidend, geag word almal eendersdenkend is, naamlik die wetenskap. Laasgenoemde word deur die onderwysowerhede geag waardevry en neutraal te wees, maar wat ‘n ernstige mistasting. Godsdiens word gesien as op gevoel te berus en wetenskap op feite en rasionaliteit wat kwansuis dan ook eenders vir alle mense sou wees - nog ‘n verdere stuk misleiding. Die wetenskap kan dus almal saamsnoer ongeag godsdienstige verskille, en hierdie “wetenskap” berus op die evolusieteorie. Alle skoolgaande kinders moet derhalwe ‘n “wetenskaplike” lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel, dit wil sê gebring word tot die aanvaarding van die ateïstiese evolusieleer wat as onbetwisbare waarheid aanvaar en onderrig word.
Die statistiese feit dat nagenoeg 70% van S.A. se inwoners Christene is, word van die tafel gevee daar waar die bloudruk vir ‘n Nuwe Wêreldorde - een wêreldgemeenskap met slegs een gemeenskaplike lewens- en wêreldbeskouing en denkwyse - gereed lê en wag vir implementering. Ons word reeds vertel dat “all of Africa is one”. Hierin word die evolusieleer op skool instrumenteel ingespan as die getransformeerde “nuwe weg, waarheid en lewe” vir ons jeug en sy toekoms.
Wat ons tans beleef, noem Pelser “wetenskaplike imperialisme”.Hierdie ideologiese imperialisme maak daarop aanspraak dat hy alles onder die son kan verklaar waaronder ook sedelik-normatiewe aangeleenthede soos die huwelik, egskeiding, seks, aborsies, homoseksualiteit en nog vele meer. Dit is in aangeleenthede soos hierdie wat daar rampspoed wag op ‘n ideologie wat meen dit kan dié sake “wetenskaplik” hanteer sonder die onderbou van godsdienstige geloofsoortuigings. Daarsonder verval ons geloof in ‘n Skeppergod en word ons jeug weerloos gelaat sonder enige ware geestelike waardes, norme en standaarde, en geen beloning of straf op grond van gedrag nie.
Gesien synde as ‘n dier - geëvolueerde materie - word die mens finaal bevry van sy transendentale naelstring, geestelike norme en van ‘n bestaan gekenmerk deur “onkunde”, aldus die evolusioniste. Geestelike norme wat wél mag oorbly, is nié van ‘n Bybelse aard nie, maar wel ‘n sinkretistiese mengsel vanuit alle wêreldgodsdienste. Dit, volgens Pelser, is die verskuilde boodskap in die huidige handboeke op skool.
Doelstellings wat die Onderwysdepartement wil verwesenlik
Op die vraag na die herkoms van die mens, bestaan daar slegs twee teenstrydige antwoorde: of ons is deur God geskape, of die evolusionêre produk van biljoene jare. Evolusioniste verwerp die eerste moontlikheid en aanvaar die biljoene jare-opsie.
Professor George Wald van die Harvardse Universiteit in die VSA sê, soos aangehaal deur Pelser: “Time is in fact the hero of the plot…Given so much time, the impossible becomes possible, the possible probable, and the probable virtually certain…time itself performs the miracles.”
Hierdie keuse berus nie op rasionele en bewysbare gronde nie, maar op geloof, dog nie op geloof in ‘n Skepper nie. Dié geloof, want evolusie berus op geloof, maak van materie sy aprioriese vertrekpunt. Enige bewysmiddele word vertolk uitsluitlik in die lig van hierdie aprioriese verbintenis as uitgangspunt. Alle bewyse wat nie hiermee versoenbaar is nie, word verwerp, want “…it is better to put up with a lot of bad science than allow a Divine Foot in the door”, aldus prof. Philip Johnson van die Regsfakulteit van die Universiteit van Kalifornië, en soos aangehaal deur Pelser.
Pelser maak die stelling dat die ANC-onderwysowerheid die keuse gemaak het vir onverdunde materialistiese ateïsme deur die evolusiegeloof in S.A. skole in te voer. Die doel hiervan is om God Drieënig uit die harte en verstand van ons kinders uit te wis. ‘n Belangrike vraag is derhalwe of ons kan stilsit en passief toekyk hoedat ons Christenjeug, asook toekomstige geslagte, hiertoe gebreinspoel word.
Die aannames van die ANC-onderwysowerheid
Aannames of vooronderstellings is altyd onderliggend aan ons denke, spreke en handelinge. Dit word egter selde gemeld omdat ons meestal nie eers daarvan bewus is nie. Hierdie aannames berus op wat ons glo soos aan ons oorgedra deur ons opvoeding en onderwys as synde die waarheid te wees. Wát iemand dus sê of sou skryf (inhoud), is dikwels nie so belangrik as wáárom dit gesê of geskryf word nie. Wát maak dus dat die skrywer van ‘n skoolhandboek wel daarin sê wat hy sê?
In ons dag hoef ons nie te raai wát skrywers van skoolhandboeke met die inhoudelike daarvan beoog nie. Hulle wil daarmee “bewys” dat ons almal hier is as die resultaat van ‘n proses van evolusie oor miljoene jare. Dit berus op die onderliggende (geloofs-) aanname dat daar géén sprake is van die bestaan van ‘n Godheid as Skepper nie, en dat alles bloot op grond van toeval deur evolusie oor miljoene jare ontstaan het. Diegene wat dit nie aanvaar nie, word beskou as vyandiggesind teenoor die evolusie-gekaapte wetenskapsbeoefening van die dag. Die evolusieleer is onaantasbaar en duld nie enige bevraagtekening nie.
4. Evolusie-onderrig op hoërskool
In sy boek, Verken Lewenswetenskappe verder, wys dr.Hennie Mouton op skitterende wyse op die vervalste evolusiemateriaal wat in die graad 12-handboek vir hoërskool-leerders aangebied word. Die titel van hierdie skoolhandboek is, Verken Lewenswetenskappe, deur F.Clitheroe en medeskrywers. Ek kan onmoontlik nie op Mouton se werk verbeter nie, en beveel dit baie sterk by ouers, onderwysers en predikante aan wat dit met groot vrug kan gebruik om kinders op die bedrog van evolusionistiese aannames, bewerings en stellings te wys. So kan hulle kinders help om die leuen van evolusie te ontmasker en alleen maar in die waarheid gelei te word. Vir die doel van die toeligting van my stelling, wys ek derhalwe slegs op enkele eksemplare soos aangehaal uit die werk van Mouton.
In die graad 12-handboek waarna verwys is, word beweer dat die aarde “ongeveer” 4500 tot 5000 miljoen jaar oud is; lewende organismes het “moontlik” 3000 miljoen jaar gelede verskyn; die eerste mens het die aarde “ongeveer” 2 miljoen jaar gelede bewandel met die “moderne” mens wat tussen 50 000 en 100 000 jaar gelede sy verskyning gemaak het. Hierdie evolusionêre tydskaal berus egter op wat evolusioniste “glo” en waarmee skeppingsleerwetenskaplikes beslis nie saamstem nie.
Die aansprake van die evolusionêre tydskaal word weerlê deur, onder meer, die toenemende heliuminhoud in die atmosfeer, die toename in die soutgehalte van die oseane, die afname van die aarde se magneetveld, ongefossileerde dinosourusbene, die laboratorium-bewyse dat steenkool onder natuurlike omstandighede binne een jaar kan vorm en nie miljoene jare benodig soos wat evolusioniste beweer nie, kontinentale erosie en rivierafsettings in oseane wys op veel jonger ouderdomme van vastelande, en die tempo van aanwas van die wêreldbevolking klop met ‘n wêreldvloed wat slegs agt mense lewend gelaat het.
Graad 12-handboekleerders word ook vertel dat (evolusie-) navorsing aantoon dat die mens en die sjimpansee baie genetiese materiaal met mekaar in gemeen het. Selfs indien dit waar sou wees, verg dit miljarde jare en laat die aangetoonde gemeenskaplike voorganger-voorsaat van 10 miljoen jaar gelede veels te min tyd dat die mens uit dié sogenaamde “voorganger” kon ontstaan het. Dit staan as Haldane, ‘n evolusionis-genetikus, se dilemma bekend. Haldane self het daarop gewys dat, vanweë die beperkte tempo van voordelige mutasies, dit vir die mens nie moontlik was om oor 10 miljoen jaar uit ‘n gemeenskaplike aapagtige voorsaat te kon evolueer nie.
Graad 12-leerders word ook gevoer met die evolusieleuen dat Stanley Miller van die Universiteit van Chicago deur middel van ‘n eksperiment daarin geslaag het om te verklaar hoe lewe op aarde ontstaan het. Miller het waterdamp, metaan, ammoniak en waterstof in ‘n glasfles gemeng en toe ‘n sterk elektriese stroom daardeur gestuur. Na verloop van ‘n week sou hy dan kwansuis bevind het dat die fles amminosure bevat wat met mekaar verbind het om proteïne te vorm, een van die belangrikste boustene van lewende organismes. Miller het beweer dat hy ook ander chemiese verbindings wat in DNA aanwesig is, in die fles aangetref het. DNA is dié genetiese stof wat die struktuur en funksie van ‘n sel beheer.
Dit is egter heeltemal onwaar dat Miller proteïne in sy glasfles gevind en sodoende die vorming daarvan bewys het. Wat hy wel gevind het, was aminosure sowel as ander newe-produkte, maar niks van die aard van proteïne, DNA of enige lewende sel nie. Opvolgeksperimente kon niks meer as net dit oplewer nie. Die aminosure wat wel gevind is, het uit sowel links- as regshandige aminosure bestaan. Proteïne kan slegs gevorm word indien linkshandige aminosure geïsoleer kan word. Tot dusver kon evolusioniste nog nie daarin slaag om sodanige isolasie op ‘n natuurlike wyse te laat plaasvind nie.
In die vorige hoofstuk wat handel oor evolusieleuens in VSA-skoolhandboeke, is daar reeds gewys op Haeckel se vervalste voorstellings van die embrio’s van, onder meer, ‘n vis, padda, hoender, vark en mens ten einde daardeur te kenne te gee dat alle lewe uit ‘n gemeenskaplike voorouer ontwikkel het. Ten spyte daarvan dat Haeckel se bedrog aan die kaak gestel is, verskyn sy vervalste embrio-voorstellings en beskrywings ook in die handboek van S.A. graad 12-leerders. Die opstellers van dié handboek kan tog seker nie oningelig wees aangaande dié embriobedrog van Haeckel nie!
Darwin self het baie sterk gesteun op die korrupte werk van Haeckel waaruit hy gemeen het hy baie sterk getuienis kon put vir sy teorie van evolusie vanuit ‘n enkele voorganger-voorsaat. Mouton wys daarop hoedat getuienis (teen Haeckel) verdraai kan word om die evolusieteorie te pas, en dat die graad 12-leerderhandboek steeds met dié leuen volhou. Waarom? Met geen ander doel om God as die Skepper te diskrediteer nie.
Soos in die aanvangsparagraaf van hierdie afdeling daarop gewys is,is daar talle meer voorbeelde in Mouton se boek, Verken Lewenswetenskappe verder, as ‘n kritiese evaluering van die evolusieleuens waaraan ons kinders uitgelewer word, in die besonder aan die hand van die graad 12-handboek in die vak Lewenswetenskappe as basis daarvoor. Daar word derhalwe volstaan met die enkele voorafgaande voorbeelde van evolusiebedrog en -leuens waaraan ons kinders deur die ANC-onderwysowerheid blootgestel word.
5. Nederland bevorder evolusie-onderrig in S.A. skole
Die Burger (Wes-Kaap) berig op 17 Maart 2009 oor ‘n skenking van R16 miljoen wat van Nederland ontvang is vir die doel van die beter opleiding van hoërskoolonderwysers in dié provinsie wat hulle sal bekwaam om die evolusieleer op die korrekte wyse aan kinders te kan onderrig. Hierdie Wes-Kaapse projek van onderwysersopleiding vir die onderrig van evolusie op skool, is maar een van nege wat deur Nederland geborg word om die evolusieleer dwarsoor ons land in al die openbare skole te vestig teen ‘n totale koste van R160 miljoen.
Een van die bestuurders van die Wes-Kaapse evolusieprojek, mev.Cheryl Douglas, is ‘n onderwyseres verbonde aan die Christelike skool, Bishop’s Diocesan College, ‘n Anglikaanse kerkskool in Kaapstad. Dié skool se Christelike geloofsverklaring is op sy webwerf te lees waarin die geloof in God as Skepper onomwonde bely word, heeltemal teenstrydig dus met die evolusiegeloof waarby dit betrokke is.
Douglas het gesê dat mites oor evolusie, natuurlike seleksie as die meganisme wat evolusie dryf, die bewyse daarvoor, die aard van wetenskap en geloofstelsels behandel sal word in die opleiding van hoofsaaklik onderwysers wat die vak Lewenswetenskappe aanbied. Onderwysers sal ook toegerus word met strategieë, behoorlike leermateriaal en internet-tegnieke vir hul nuwe onderrigtaak.
‘n Steekproef het aan die lig gebring dat ouers totaal oningelig en onbewus was van die Nederlandse skenking ter bevordering van die evolusieleer op skool en dat sodanige onderrig wel reeds plaasvind. Die “Western Cape Consultation of Christian Churches” het ‘n brief aan die Nederlandse ambassade gerig waarin ‘n versoek gerig is om ‘n dringende ontmoeting met hulle rondom die kwessie van die befondsing van evolusie-onderrig op skool. Onwillekeurig kom die vraag by ‘n mens op aangaande wat ons eie drie susterkerke - die Ned.Geref.Kerk, Geref. Kerk en Hervormde Kerk - al in hierdie verband gedoen het, of beplan om te doen. Die Ned.Geref.Kerk bevind hom nou al geruime tyd in “’n seisoen van luister”, maar wanneer het hy genoeg “geluister” en gaan hy begin handel?
Op 25 Mei 2009 het ek ‘n telefoniese gesprek gevoer met prof. Pieter Strauss, moderator van die Algemene Sinode van die Ned.Geref.Kerk, in dié tyd wat hy die Pinksterdienste te Kuruman gelei het. Hiertydens het ek my diepe kommer oor die onderrig van die evolusieleer aan ons Christenverbondskinders met hom gedeel en dit, op sy versoek, opgevolg met die versending van ter sake inligting, vergesel van ‘n brief, aan hom. (Sien dié brief aan die einde van die hoofstuk.) Na die ontvangs van my brief en relevante inligting, het hy my telefonies geskakel, die ontvangs daarvan erken en my daarvoor bedank.
Op 25 Mei 2009 het ek ook ‘n telefoniese gesprek gevoer met mnr. Paul Colditz, voorsitter van Fedsas (Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolkomitees), en my kommer ook teenoor hom uitgespreek aangaande die R160 miljoen-skenking van Nederland en vir watter doel presies.Ook hy het met ‘n baie simpatieke ingesteldheid na my geluister en gesê dat hy dié saak met sowel Fedsas as prof.Strauss, met wie hy goed bevriend is en dikwels mee skakel, sou opneem.
Dit is so dat die onderwyswet sekere regte aan ouers toeken. Die vraag is of ouers altyd op hoogte is van wat hierdie regte is waarop hulle statutêr aanspraak kan maak. Skoolgeboue behoort wel aan die staat, maar behoort die siel en gees van elke indiwiduele kind ook aan die staat? Die besonder aktuele vraag is dus: aan wie behoort die kind, aan die staat of aan die ouers? Hoe beantwoord Christenverbondsouers, wat ‘n doopgelofte in die gemeente se teenwoordigheid teenoor God afgelê het, hierdie vraag, veral met betrekking tot die skoolse opvoeding en onderwys van hul kinders?
‘n Beginstap wat ouers kan neem, is om die skoolhoof te skakel en hom te versoek om ‘n inligtingsaand vir ouers te reël waartydens hulle ingelig kan word oor presies wát aan hul kinders onderrig word, die gevolge daarvan vir hul kinders, die ouers en die samelewing. Ouers moet veral nie toelaat dat hulle deur skoolhoofde, onderwysers of onderwysdepartement geïntimideer word nie. Dit is hieromtrent dat ouers dusver vrugteloos opsien na die kerk om hierin, soos duidelik uit ons onderwysgeskiedenis blyk, die leiding te neem en vir die ouers in die bresse te tree.
6. Evolusie versus die Christelike geloof - Branch se tipologie
George Branch is ‘n emeritus-professor in Dierkunde van die Universiteit van Kaapstad. In ‘n artikel getitel, “Teaching and learning about evolution:Part 2”, soos gepubliseer in die tydskrif, “Quest - Science for South Africa”, huldig hy die volgende mening oor evolusie, in die algemeen, en dra dit dan oor na die onderwys, in die besonder. Terloops, hierdie glanspapier-tydskrif se prys beloop R29-95 per eksemplaar en word op groot skaal gratis aan kinders op hoërskool, wat Lewenswetenskappe bestudeer, verskaf. Hier is dus groot somme geld ter sprake wat in evolusie-onderrig belê word. Waarin en waarom? Ek is van oordeel dat dit gaan om die subtiele indoktrinasie van ons kinders tot die geleidelike aanvaarding van die evolusiegeloof, al is dit dan ook net om hulle tot die oortuiging te probeer bring dat evolusie geen bedreiging inhou vir die Christelike geloof nie - sommige Christen-teoloë sê dan self ook so!
Terug by Branch.Volgens Branch is die volgende tipes te onderskei binne die raamwerk van die verhouding tussen wetenskap (waarop die evolusiegeloof aanspraak maak) en godsdiens of geloof: 1. die “geen God”-ateïsme wat die bestaan van die Godheid totaal en al ontken en van die wetenskap hul “god” maak; 2. die “deïstiese God”-tipe wat God as Skepper van die heelal erken, dog ‘n Skepper wat Sy skepping daarna aan sigself oorgelaat het, en daarom moet wetenskap en godsdiens of geloof dualisties van mekaar geskei word; 3. die “naturalistiese God”-tipe wat beweer dat ‘n “naturalistiese God” die wette van die heelal geskape het,waaronder ook dié van evolusie, ‘n God wat Hom egter selde by Sy handewerk inmeng; 4. die “teïstiese evolusionis”-tipe wat die antropiese beginsel aanvaar dat die heelal die skepping van God is. Branch klassifiseer homself as behorende tot laasgenoemde tipe. Wat hy dus verder beweer, moet in die lig van laasgenoemde gesien word.
Branch glo dat evolusie ‘n gevestigde feit is en dat Darwin se idees korrek, dog nog onvolledig is. Derhalwe glo Branch dat die volgende vier aspekte van die evolusieleer aan leerlinge en studente oorgedra moet word:
1. die kernidees van Darwin se evolusieteorie;
2. hoedat evolusie getoets kan word in terme van bestaande bewyse;
3. vooruitgang in die wetenskap sedert Darwin en
4. die relevansie van die evolusieteorie vir ons huidige tyd.
Branch het ook oor ‘n periode van 25 jaar studente se kennis van en gesindhede teenoor die evolusieleer nagevors, en meld die volgende resultate op grond van ‘n vraelys wat vyf aspekte dek, nadat hulle ‘n kursus in evolusie voltooi het, voor en na sodanige kursus:
hul kennis van die evolusieleer het toegeneem vanaf 20% tot 69%; 2. diegene wat tegelyk in ‘n Skepper én evolusie glo, het toegeneem vanaf ongeveer 70% tot 90%; 3. die geloof dat evolusie die Skepper se werkswyse is, het toegeneem vanaf ongeveer 45% tot 70%; 4. dat evolusie bo alle twyfel bewys is, het toegeneem vanaf ongeveer 40% tot 80% en 5. dat God die aarde in ses dae geskape het, het afgeneem vanaf ongeveer 20% tot minder as 10%.
Branch beveel die volgende aan vir onderwysers in hul benadering tot evolusie op skool:
respekteer almal se sienings, hoe uiteenlopend ook al;
dring aan op die toetsbaarheid van uitsprake;
erken mense se oningeligtheid en onkunde;
moedig debat en selfstandige denke aan en
onderskei tussen die oogmerke van godsdiens of geloof en wetenskap.
Uiteindelik kom Branch tot die volgende gevolgtrekkings:
evolusie is ‘n welbewese en gevestigde feit ondersteun deur voldoende bewyse;
wetenskap kan nie alle vrae beantwoord nie, soos vrae van ‘n sedelike, spirituele, filosofiese en etiese aard nie;
wetenskap en godsdiens of geloof kan nie wedersyds aangewend word om mekaar te beoordeel nie, en
wetenskap en godsdiens of geloof kan komplementêr tot mekaar staan en nie antagonisties teenoor mekaar nie.
Branch se aanbevelings en gevolgtrekkings mag op die oog af baie aanneemlik voorkom, maar laat ons dit eers onderwerp aan die gesagstoets van die Woord alvorens ons dit ligtelik aanvaar.
7. Die bekamping van evolusie-invloede
‘n Vanselfsprekende vraag is hoedat die invloed van evolusie op ons kinders bekamp kan word. In hierdie verband gee dr.Hennie Mouton die volgende raad:
maak gebruik van die kragtige wapen van gebed, want sonder God se hulp en genadige voorsiening is niks moontlik nie; bekom soveel moontlik kennis deur inligting oor dié onderwerp te bestudeer vanuit artikels, boeke, die radio, TV, internet en gesprekvoering, en raak kundig eerder as oningelig te bly, en stel die kind bloot aan die evolusiedenke onder die leiding van Christengelowiges omdat kinders op die lange duur nie van die evolusieleuen weggehou kan word nie, maar beslis daarvan te wete gaan kom. Kinders moet derhalwe oor voldoende kennis van die Bybel beskik en gelei word in die vra van vrae gerig aan die ateïstiese evolusiegeloof.
Op die vraag, “Wat staan Christengelowiges te doen?”, gee dr.Kent Hovind weer die volgende antwoorde:
dit is tyd dat die volgelinge van Christus met Sy Gees vervul en gemotiveerd sal raak;
volgens Psalm 2 moet ons onthou dat God steeds in beheer is en dat ons Hom moet toelaat om ons te gebruik soos wat Hy goeddink;
onthou dat Jesus gesê het: “Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.” (Matteus 10:16);
ons hoofopdrag bly steeds om siele te wen, daarom moet ons maak soos wat Filippense 4:6 sê: “Moet oor niks besorg wees nie…”;
ons moet nie ophou bid, volgens 1 Timoteus 2:2, “…vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen…” nie;
doen presies dit wat Jesus in Markus 16:15 vir ons sê om te doen: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.”
ons moet steeds die sout van die aarde wees en bly soos wat in Matteus 5:13 vir ons gesê word;
as Christengelowiges moet ons oral, daar waar ons ons mag bevind, ons invloed gebruik;
ons moet volhou met die verkondiging van die waarheid aangaande God as die Skepper van die ganse skepping soos wat Paulus dit in Athene teenoor die Grieke in Handelinge 17:24 gedoen het;
sorg dat ons aandag nie weggelei word van die Goddelike opdrag waaronder ons staan nie;
ons moet onthou dat Jesus Christus reeds die oorwinning oor Satan en sy engele behaal het, en al sou die verdrukking en vervolging waarvan die Bybel ons vertel op ons wag, wéét ons reeds dat ons saam met Hom as oorwinnaars uit dié stryd sal tree.
Hovind sluit af deur te sê dat diegene wat dink hulle gaan ‘n Godlose Nuwe Wêreldorde tot stand bring, deur Satan mislei word, net soos wat Satan destyds diegene wat aan die Toring van Babel gebou het, mislei het. Daarom kan ons getroos word aan Paulus se boodskap aan die Romeine (16:20,OAV): “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.”
8. Ouers mag nie onverskillig staan teenoor die onderwys van hul kinders nie
Volwassenes, in die algemeen, en ouers en onderwysers, in die besonder, besef waarskynlik nie altyd dat daar nooit ooit enige sprake van neutrale opvoeding, onderwys of onderrig bestaan nie. Die geskiedenis leer ons dat, soos wat mense hulself in gemeenskappe begin organiseer het, daar nog altyd sprake was van informele en nie-formele opvoeding en onderrig in gemeenskapsverband, totdat die formele skool sy verskyning gemaak het as ‘n plek waar ‘n gemeenskap sy kinders op ‘n formele wyse deur onderwysers - as plaasvervangerouers - laat onderrig het, dikwels juis in ‘n godsdienstige gemeenskapsinstelling soos ‘n Joodse sinagoge of Katolieke klooster. Hierdie instellings was dan ook by uitstek die sentra vir intellektuele ontwikkeling by wyse van die leer van lees, skryf en reken en die oordrag van die kennis van die besondere kultuurgemeenskap aan sy kinders.
Vanuit sy vroegste ontwikkelingsgeskiedenis is die skool gesien as ‘n verlengstuk van die ouerhuis waarby die ouers, as die primêre opvoeders, die allergrootste belang het. Binne die skool is veral ook die gemeenskap se waardestelsel aan die jeug oorgedra. Geen ware opvoeding is moontlik sonder waarde-oordrag nie. Daarsonder verskraal dit tot die blote oordrag van feitekennis wat slegs maar opgeleide barbare tot sy gemeenskap toevoeg. Vanuit die Bybel word dit duidelik dat die Christenkind nie aan enige soort opvoeding, onderwys of onderrig uitgelewer mag word nie, en word Christenouers juis by die doopvont daaraan herinner.
Sedert 1652 is die blankedom van Suid-Afrika deurentyd gereken as van ‘n oorwegend Christelike aard te wees. Hierdie Christelike karakter het dan ook deurgaans inslag gevind in blanke onderwysinstellings soos wat ons onderwysgeskiedenis wel deeglik daarvan getuig, veral onder die Afrikaanssprekende gedeelte van die S.A. blanke bevolking. Met die oorgang van die “ou” na die “nuwe” Suid-Afrika, is daar weggedoen met ‘n grondwetaanhef wat gelui het: “In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God…” - wat ook neerslag gevind het in ‘n Christelik-nasionale onderwysbedeling - en is dit vervang met ‘n liberaal-humanistiese grondwet wat nie die Drieënige God erken nie, en so die deur vir alle gelowe, waaronder ook die evolusiegeloof, geopen het.
Die evolusiegeloof laat homself duidelik nie onbetuig as die openlike vyand van die Christendom nie. In hierdie verband is die bekende George Claassen, vroeër ombudsman by Die Burger en voorsitter van Skepties Suid-Afrika, ‘n goeie voorbeeld van die evolusioniste se vyandigheid teenoor Christene, ook in onderwyskonteks.
Claassen het ‘n veldtog teen die Christelike godsdiens in skole begin deur skole te wou moniteer vir die lees van die Bybel en gebed gedurende klastyd, met die doel om skole strafregtelik te laat vervolg. Claassen was van oordeel dat (die Christelike) godsdiens wederregtelik in skole bedryf word. Hy het hom egter spoedig aan dié vervolgingspraktyk , en die debat daaromheen, onttrek. Christenouers durf dus nié onverskillig staan teenoor die onderwys van hul kinders, die klaskamergebeure en die onderrig as deel daarvan nie. Verantwoordelike ouerskap verg dus betrokkenheid by die onderwys van kinders. Eendag sal almal van ons rekenskap aan God moet gee oor wat ons met ons kinders gedoen, en laat doen, het.
Waar staan die (Ned. Geref.) Kerk met betrekking tot die evolusieleer?
Bostaande vraag het waarskynlik een van die mees kritieke vrae vir Christengelowiges van ons tyd geword. In voorafgegane tye kon Christene nog altyd in tye van krisis reken op die hulp en ondersteuning van die kerkgenootskap waartoe hulle behoort het. Vandag is dit nie meer ‘n vanselfsprekendheid soos vroeër nie. Uit beskikbare inligting en gesprekvoering van die dag word dit duidelik dat die kerk se stem al stiller raak, asook dat dit toenemend weier om standpunt in te neem aangaande brandende kwessies wat Christengelowiges ten diepste raak. Teologiese- en kerkdenke het beslis ‘n radikaal nuwe rigting ingeslaan, weg van die vroeëre denke en rigting wat daardeur bepaal is.
Vir die Ned. Geref. Kerk se huidige standpunt, spesifiek aangaande evolusie as sogenaamde “wetenskap”, die onderrig daarvan in openbare skole asook leiding daaromtrent aan lidmate, maak ek vir hierdie doel gebruik van die korrespondensie tussen emeritus ds.Gideon Aggenbag (met sy toestemming) en die moderamen van dié kerk se Algemene Sinode. Vanuit hierdie enkele eksemplaar word die Ned. Geref. Kerk se standpunt aangaande bogemelde sake baie duidelik.
Aggenbag neem sy vetrekpunt vir korrespondensie met die moderamen in die artikel, Stryd tussen kerk en wetenskap onnodig, wat gedurende 2009 in die Kerkbode verskyn het. Hierin word berig: “Die NGKerk se jongste standpunt oor kerk en wetenskap is tydens ‘n moderatuursvergadering op Benoni geformuleer…Die kerk se moderamen sê die kerk is nie bevoeg om enige gesaghebbende uitsprake oor bepaalde wetenskaplike teorieë te maak nie…Daarmee laat die NGKerk dit skynbaar aan sy lidmate self oor om te besluit of hulle die evolusieteorie ondersteun of nie. Uit die verklaring blyk dit ook dat die kerk nie probleme daarmee het dat evolusie aan onderwysinstansies doseer word nie.” Tot sover dié Kerkbode-artikel.
In sy brief gerig aan Kerkbode-aanlynbriewe van 10-08-2009 sê ds. Aggenbag dat die artikel, Stryd tussen kerk en wetenskap onnodig, hom die gevoel van “subtiele misleiding” gee. Hy het geen beswaar teen die kerk se gesprek met die wetenskap nie, maar wil weet “…waarom die evolusiehipotese bysleep? Dit is tog geen wetenskap nie!! Dit is juis die leuen wat evolusioniste hoop om Bybel-gelowiges te laat glo.”
Aggenbag sê hy weet van geen “onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap” nie, maar wel van “volgehoue persoonlike aanvalle, etikettering en beledigings deur voorstanders van die evolusieteorie teenoor gelowiges wat Bybelse waarhede bly verdedig.” Aggenbag beweer ook dat kreasioniste of skeppingsleerders se briewe aan die Kerkbode “dikwels, blykbaar na willekeur, geblokkeer” word. Daarteenoor word evolusioniste “…ruimskoots geleentheid gegun om hul geloof in die Kerkbode te propageer en dié wat van hulle verskil, aan te val, te beledig en te etiketteer as narre en veel meer…Die NGKerk se leierskorps moes lankal reeds besef het dat die adder van evolusionisme (wat homself voordoen as sg. “wetenskap”) aan die boesem gekoester word.” Aggenbag versoek dus “…die moderamen/leierskap om amptelik, ex officio, aan lidmate leiding te gee - om die God-onterende konsekwensies van ‘n geloof in evolusie aan die kaak te stel.”
In ‘n daaropvolgende internetdebat beweer emeritus ds.Johan Kriel op 06-08-2009 dat “…’n lid van die Moderatuur ‘n boek geskryf (het) waarin hy dié (evolusie-) teorie uitvoerig verdedig.” Op dieselfde datum, deelnemende aan dieselfde debat, sê Giel Brand: “Met hierdie verklaring (in Kerkbode-artikel,Stryd tussen kerk en wetenskap onnodig) van die NGKerk is dit duidelik die kerk skaar hom nie aan die kant van die kreasioniste nie”, terwyl Daniël Michau soos volg opmerk: “…dit is allermins ‘n stryd teen wetenskap as sulks…maar ‘n valse hipotese soos evolusie wat duidelik teenstrydig met die Bybel is, behoort deur die kerk teengestaan te word.” Ook dr. Hennie Mouton vra in dieselfde debat: “Is dit reg dat die kerk optree asof die dikwels ateïstiese evolusionistiese wetenskaplikes noodwendig beter antwoorde het as Bybelgelowige wetenskaplikes?”
Op 18-11-2009 stuur ds. Aggenbag ‘n e-posbrief aan elk van die vyf lede van die Moderatuur van die Ned.Geref.Kerk se Algemene Sinode waarin hy dié persone daarop wys dat hulle op hul vergadering van 21-22/06/2009 naby Benoni”…die volgende standpunte oor die evolusieteorie ingeneem het: 1. Evolusie is ‘n wetenskap; 2. U het geen probleem daarmee dat evolusie in ons skole gedoseer word nie, en 3. u laat dit aan lidmate oor om self te besluit om evolusie te ondersteun of nie.”
Ds. Aggenbag gaan voort en sê: “Dit bekommer my dat die kerk die leuen van evolusie so gerus aanvaar. Na my mening moes ons leierskap erns gemaak het daarmee en dit beveg. Maar dit lyk vir my meer asof ons te gronde gaan by gebrek aan kennis omtrent die leuen van evolusie wat aan ons en ons kinders verkondig word.
“Ek wil hiermee ‘n ernstige beroep op u doen om u standpunt te heroorweeg, die evolusieteorie te verwerp en iets daadwerkliks te doen om ons lidmate die regte leiding te gee.”
Die enigste reaksie wat ds.Aggenbag ontvang het,was van dr.Kobus Gerber, sinodale sekretaris, wat die volledige besluit van die moderamen van Junie 2009 per e-pos aan hom gestuur het, ‘n antwoord bestaande uit slegs twee sinne met die aangehegte moderamen-besluit daarby aangeheg.
Hierdie moderamen-besluit verskyn onder die opskrif, KERK EN WETENSKAP - Standpunt van die Moderamen van die Algemene Sinode, waarin verklaar word: “As sodanig ondersteun of onderskryf die kerk nie noodwendig bepaalde wetenskaplike teorieë nie - is hy trouens nie bevoeg om daaroor enige gesaghebbende uitspraak te maak nie. Wat die kerk wel ondersteun en bely, is ‘n bepaalde geloofsuitspraak, naamlik dat God die Skepper van hemel en aarde is. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder, veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.”
Wat my betref, maak die moderamen met hierdie standpunt die deur volledig oop vir die binnelating van die evolusieteorie - met al die implikasies en gevolge daaraan verbonde - in die kerklike lewe sowel as die multi-fasettige lewens van sy belydende lidmate.
Op 05-01-2010 rig ds. Aggenbag ‘n tweede e-posskrywe aan die moderatuur van die Algemene Sinode van die Ned.Geref.Kerk waarin hy sê dat dit voorkom asof “…u tevrede is dat evolusie ‘n wetenskap is, dat dit in skole gedoseer word en dat elke lidmaat maar self kan besluit om evolusie te ondersteun of nie.” Vervolgens sê Aggenbag dit blyk “…uit u standpunt dat u evolusie napraat en ondersteun. U stel dit duidelik: ‘Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder…’ Dit is presies wat evolusie verkondig. God het niks binne enige wetmatighede geskep nie. Hy het alles bonatuurlik, deur Sy wonderwerkende krag, geskep - insluitende wetmatighede. God het geen wetmatighede nodig gehad om te skep nie.”
Aggenbag vestig die moderatuur se aandag daarop dat die Bybel en evolusie lynreg teenoor mekaar staan en sê: “Dit is jammer dat die moderatuur evolusie as ‘n wetenskap en ‘n draer van kennis sien…evolusie is ‘n leuen en vernietiger van kennis.” Sê die wyse Salomo dan tevergeefs vir ons: “Kennis begin met die dien van die Here” (Spreuke 1:7)?
Aggenbag eindig sy skrywe deur te sê: “…ons is nie net in die steek gelaat nie - ons kerkleiding het gekies vir evolusionisme. Besef u dan nie dat u daarmee as’t ware God se Woord tot ‘n leuen maak nie? Ek wil u uitdaag om te verduidelik hoe u dit kan glo en nog steeds aan die waarheid van God se Woord kan vashou.”
In ‘n skrywe aan advokaat Dirk Louw op 13-01-2010 sê ds.Aggenbag: “…ek wil probeer dat die volgende Algemene Sinode (2011) ‘n duidelike standpunt moet inneem ten opsigte van evolusie - en dan ‘kerklik’ op te tree…Ek wonder dikwels waarom ek so min (in der waarheid - géén) predikante sien skryf en baklei vir die waarheid van God se Woord…ek het ‘n broertjie daaraan dood dat mense hulle standpunte só toedraai en verpak in mooiklinkende woorde dat jy moeilik uitmaak wat hulle eintlik bedoel.”
Benodig die belydende Ned.Geref.Kerklidmaat, in die lig van die voorafgaande, nog enige verdere stawende getuienis aangaande hoé die Ned.Geref.Kerkleierskap se hart klop met betrekking tot evolusie, asook leiding dienaangaande aan lidmate, sowel as die onderrig van die evolusieleer aan verbondskinders op skool? Ons bevind ons tans in ‘n bedroewende kerklike bedeling.
Ter afsluiting van hierdie gedeelte moet ons vra of, onder meer, die volgende teksverse dan nie betrekking het op die kerkleiers in die huidige kerklike bedeling nie?
“Dié wat die volk moes lei, het hulle mislei, en dié wat gelei moes word, is verwar.” (Jesaja 9:15)
“Iets vreesliks en afskuweliks het in die land gebeur: die profete tree vals op , die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan.” (Jeremia 5:30-31)
“Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by julle gehoor nie.” (Jeremia 27:28b)
“…bedrog het die oorhand in die land, nie die waarheid nie.” (Jeremia 9:3)
“Hulle neem U naam graag op hulle lippe, maar U is nie in hulle hart nie.” (Jeremia 12:2b)
“Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ‘n volk.” (Spreuke 29:18)
Slotopmerking
Na analogie van 1 Korintiërs 13:2 wat sê: “…al sou ek…al die geheimenisse weet en al die kennis…en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie”, kan daar ook in ons geloofsverduisterende dag gesê word: al sou ek oor al die kennis aangaande die evolusieleer en inligting oor die gevare daarvan beskik, maar ek beskik nie oor die Goddelike Waarheidsgees in my lewe nie, dan baat dit my, my verbondskinders en die geloofsgemeenskap waartoe ek behoort, absoluut niks nie.
Soos wat die verlore seun by die varkbakke van sy werkgewer tot besinning gekom het en vir homself gesê het: “Ek sal opstaan en na my vader gaan” (Lukas 15:18), so sal dié boekie grootliks in sy doel geslaag het indien Christene, onder die leiding van die Gees van die Waarheid, sal opstaan teen die Godbespottende evolusie-invloede van ons tyd en saam met die jeugdige Dawid sê: “Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel wat jy uitgedaag het” (1 Samuel 17:45).
Laat ons onsself as Christengelowiges dus voortdurend stel onder die leiding van die Waarheidsgees in die stryd teen die ateïstiese evolusiegees. In hierdie stryd kan ouers, onderwysers en die kerk nie langer belangeloos, afsydig en neutraal staan nie. Niemand gaan ontkom aan die maak van keuses en die neem van besluite hieromtrent nie, en ook nie aan die dra van die verantwoordelikheid vir sulke keuses en besluite nie.
In ooreenstemming met die titel van hierdie boek, Waarheid en Wysheid, is daar vanuit die staanspoor gewys op die fundamenteel sentrale plek van waarheid in die lewe van elke indiwiduele mens. Aan die hand van elkeen se persoonlik geïnternaliseerde waarheidsperspektief, lees hy of sy dan ook wat in elk van die voorafgaande hoofstukke oor die evolusieteorie en die invloed daarvan op alle lewensterreine, gesê is.
Ek herhaal wat reeds vroeër gesê is, naamlik dat sommige lesers dalk mag saamstem met wat hierin gesê is; ander dalk gedeeltelik, en nog ander dalk gladnie. Saamstem of verskil is egter nie waaroor dit vir my gaan nie. My eie oortuiging bly steeds dat ook ek, soos elkeen van ons as Christengelowiges, ‘n opdrag en taak tot getuienislewering ontvang het, maar dat die oortuigingswerk dié van die Gees van die Waarheid is. Ek probeer dus nie om Sy werk vir Hom te doen nie, maar wel dat ek gehoorsamend Sy medewerkende getuie van die Waarheid én die waarheid wil wees. Vandaar dus dat hierdie skrywe van ‘n tydig-waarskuwend bewusmakende aard aangaande die dodelike gevaar van die evolusieleer wil wees.
Laat ons derhalwe gehoor gee aan presies wat die Bybel vir ons in hierdie verband in Psalm 45:5 sê, te wete: “Knoop die stryd aan vir die waarheid”, en dit, volgens Johannes 14:17, onder die leiding van “die Gees van die Waarheid” in ‘n tydsgewrig waarin, volgens 2 Petrus 2:2, “..mense kwaad praat van die Weg (Jesus Christus) van die waarheid”, “…omdat hulle kyk, maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie” (Matteus 13:13) en “…wat die waarheid van God verruil vir die leuen” (Romeine 1:25).
In navolging van die apostel Paulus sluit ek af op die tipiese wyse waarop hy al sy briewe afgesluit het en waarvan 2 Korintiërs 13:13 so ‘n toepaslike voorbeeld is: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees”, ook in die stryd teen die evolusieleuens.
Die beste boek wat ek oor hierdie tema gelees het, is "Refuting Evolution 1 & 2" van dr Jonathan Sarfati. 'n Verdere aanbeveling is nog 'n boek deur dieselfde skrywer, spesifiek vir Christene wat wil kompromiteer met Evolusie: "Refuting Compromise". Dit is van die beste lektuur op die mark.
ReplyDelete