Sunday 29 April 2018

Hoe vier ons vryheid by gebrek daaraan?




Nie almal deel in die entoesiasme van Vryheidsdagvieringe nie. Bedoel as nasionaal inklusiewe viering, wys die praktyk eerder op 'n eksklusiewe vieringswyse as 'n hoofsaaklik ANC-viering met       -toesprake. Ek het begrip daarvoor indien toegegee word dat voor 1994 Republiekdag en Geloftedag in hoofsaak Afrikaner-gedenkdae met  -toesprake was waaromtrent ook nie almal  gelukkig was nie.

My gebrek aan deelname aan dié dag sentreer nie primêr rondom die ANC se kaping   -   om verstaanbare redes   -   van dié dag nie, maar weens die ANC se vernietiging van die vryhede wat die grondwet ook aan minderheidsgroepe toeken.

Die grondwet maak beginselgewys die samelewingspeelveld gelyk vir almal wat regte en vryhede betref. Sedert 1994 stel die ANC egter progressief vryheidsbeperkende maatreëls in op die grondwetlik toegekende vryhede van minderheidsgroepe. So vind ANC-diefstal en  -plundering van minderhede se taal-, onderwys-, sport-  en ekonomiese vryheid, asook van besit-  en eiendomsvryheid, plaas. Is dit iets om op Vryheidsdag met entoesiasme te vier?

Afrikaners  se historiese goed-en-bloed opofferende bydraes tot SA se bevrydingstryd teen Britse kolonialisme en imperialisme geniet géén erkenning van ANC-kant nie. Waarom sal ek dus veinsend valslik voorgee dat ek in ANC-vryheidsvieringe deel terwyl ek sienderoë van my grondwetlik toegestane regte en vryhede ontneem word?

Ons talentvolle jongmense, wit én bruin, verlaat SA in hul duisendtalle weens dié vryheidsverlies waaraan hulle onderwerp word. Die ongrondwetlike berowing van ons vryhede lei tot die vraag: hoe vier ons vryheid by gebrek daaraan?




Sunday 22 April 2018

Oosthuizen wil sy eie kerkreëls formuleer






In Murray la Vita se Oop Kaarte, Bloedspoor van die Kerk (20.04), openbaar Jean Oosthuizen homself soos 'n eiewys seuntjie wat weier om saam met sy maats te speel volgens die reëls van hul kinderspel; hy wil speel volgens sy eie reëls. Dit maak hom kwaad.

In sy aanklag teen die NG Kerk ken hy aan homself 'n slagoffersrol toe. Ter aanvang moet ons egter onthou wát die kerk is, te wete die Liggaam van Christus waarvan Hy die hoof en eienaar is. Hieraan gee hy geen erkenning nie en wek die indruk van die kerk as menslike instelling.

Indien die NG Kerk 'n valse kerk geword het volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis, art.29, en Oosthuizen, soos Martin Luther, hom protesterend beywer vir die hervorming daarvan, ondersteun ek hom. Maar nee, inteendeel, hy is ten gunste van die transformasie van dié kerk volgens 'n kerkbeskouing wat teen Bybelse waarhede en voorskrifte   -   as die spelreëls vir die kerkspel   -   indruis.

Wat die Godheid as hoof van die kerk betref, het God vir hom bloot 'n metafoor van die onbekende geword; nie belangrik genoeg om hom daarmee te bemoei nie. Hy vind wonderlike mense onder ateïste. Besinning oor die nadoodse is irrelevant. As webmeester van Kletskerk op die internet het Oosthuizen, reeds in 2011, toegelaat dat dit as mondstuk vir erge godslastering deur ateïste sou dien.

Wanneer Oosthuizen sê: "God is nie meer vir my daai teïstiese god wat die kerk se belydenisskrifte vir ons vertel Hy is nie", is dit duidelik dat Oosthuizen hom op 'n volgens-eie-oordeel selfgemaakte kerkweg bevind. Kommerwekkend, egter, is sy aanspraak op die steun wat hy van " 'n hele klomp dominees" geniet, iemand wat sy eie reëls vir kerkwees wil formuleer.                     (ngn)






Tuesday 17 April 2018

Skrywer dra nie by tot probleemoplossing nie



Ek verwys na PvD se brief (16.04). Ek kan my nie 'n vroeëre soortgelyk rasongevoelige skrywe teen wittes herinner nie. Geregtig op sy mening, verskil ek egter radikaal daaromtrent.

Soos die filantroop-sendeling, dr. John Philip   -   sterk beïnvloed deur die bon savage-filosofie tydens die Franse Rewolusie   -   die Kaapse oosgrensboere voortdurend blameer het vir alles wat op dié grens verkeerd geloop het, so beskuldig PvD die wittes vir dit wat vandag in S.A verkeerd is. 

PvD gebruik honde as metafoor waarvolgens hy dan wittes met 'n maltese poedel, en swartes met 'n rottweiler vergelyk. Sy keuse van moeilik vergelykbare hondtipes in hul grootte en kragstatuur, is veelseggend. Hy swyg egter oor die ideologies veranderde eienaar van dié honde en hoe elkeen vandag daardeur geraak word.

Hy beskryf die poedel as bevoorreg, lekkerleefstyl, weelderig, selfsugtig, neuroties, aggressief en terughunkerend na "goeie ou dae", kortom: arrogant, onsimpatiek en meerderwaardig teenoor die rottweiler. Die rottweiler trotseer die koue, aangewys op selfoorlewing, liefdeloos behandel, ly honger, kry die oorskiet, wil graag met die poedel deel, is vergewensgesind met 'n ubuntu-mentaliteit, dog sy geduld kan opraak, kortom: die goeie, mededeelsame een wat verwaarloos en teen wie gediskrimineer word. Versigtig net as dié rottweilerborrel bars!

Uit die voorafgaande vergelyking blyk PvD se ooglopende antiwit sentiment. Sy veroordelende beskuldiging van Solidariteit en Afriforum   -   wat vir wit benadeeldes en verontregtes, deur die nuwe ideologiese eienaar, in die bres tree   -   dat hulle " 'n groter gevaar vir wit Suid-Afrikaners is as Malema en grondonteiening sonder vergoeding", bevestig dié negatiewe sentiment.

PvD se skaamtelose aanval op wittes dra net by tot verdere bitterheid, rassepolarisasie en 
-vervreemding, en lewer geen bydrae tot die oplossing daarvan nie.












Sunday 8 April 2018

Erken heldestatus binne kultuurkonteks





Die nadoodse heldeverering van Winnie Madikizela-Mandela roep onwillekeurig die spreekwoord: die een se held is die ander se skurk, na vore. Hoewel moeilik, glo ek Afrikaners moet die moreel hoë grond behou deur nie mee te doen aan dermryging oor haar as omstrede openbare figuur nie.

Elke kultuurgroep beskik oor die eie helde. Respekteer dié feit en gun elkeen sy held, ongeag die aanvaarbaarheid al dan nie van sodanige held vir ander. Ons kan nie maklik die heldestatus van ander se helde, soos Winnie, binne hul eie kultuurkonteks vernietig nie. Aanvalle op ander se helde verkwis psigiese energie wat eerder die eie helde toekom.

Afrikaners beskik oor 'n veelheid van helde binne 'n konteksteverskeidenheid soos die staatkunde, krygskunde, geneeskunde, taal-  en letterkunde, en nog vele meer. Ons ken die verguising van ons eie helde. Kritiek teen Winnie se omstrede lewe ontneem nie haar heldestatus vir haar bewonderaars nie. Dit geld ook Afrikaners se nadoodse bewondering vir wyle Hansie Cronje.

Die illusie van permanensie gaan mettertyd ook haar heldestatus, soos dié van Madiba, erodeer. Gun haar ondersteuners daarom die routydperk van hul "Mother of the nation" waarvan Afrikaners nie deel is nie. Heldeverering is 'n belangrike voederelement van ons psigiese energiereservoir, 'n energiekomponent wat vandag die Afrikanerpsige ontbreek.

Seker een van die grootste uitdagings binne alle SA-samelewingsfere van vandag, is die kweking van respek vir alle mense, hul lewens en eiendom, in 'n histories diepverdeelde heterogene bevolking   -   haat-  en wraakgedrewenes uitgesluit. 

Respek begin met selfrespek wat ook respek vir die eie helde insluit, maar toelaat dat diegene van wie ons verskil, ook hul helde mag respekteer binne 'n samelewing van respekwaardige burgers. Riglyne hiertoe is die wete dat ons maar almal breekbare erdekruike is, en dat, slegs deur ander te vergewe, ons self vergewe word.