In Murray la Vita se Oop Kaarte, Bloedspoor van die Kerk (20.04), openbaar Jean Oosthuizen homself soos 'n eiewys seuntjie wat weier om saam met sy maats te speel volgens die reëls van hul kinderspel; hy wil speel volgens sy eie reëls. Dit maak hom kwaad.
In sy aanklag teen die NG Kerk ken hy aan homself 'n slagoffersrol toe. Ter aanvang moet ons egter onthou wát die kerk is, te wete die Liggaam van Christus waarvan Hy die hoof en eienaar is. Hieraan gee hy geen erkenning nie en wek die indruk van die kerk as menslike instelling.
Indien die NG Kerk 'n valse kerk geword het volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis, art.29, en Oosthuizen, soos Martin Luther, hom protesterend beywer vir die hervorming daarvan, ondersteun ek hom. Maar nee, inteendeel, hy is ten gunste van die transformasie van dié kerk volgens 'n kerkbeskouing wat teen Bybelse waarhede en voorskrifte - as die spelreëls vir die kerkspel - indruis.
Wat die Godheid as hoof van die kerk betref, het God vir hom bloot 'n metafoor van die onbekende geword; nie belangrik genoeg om hom daarmee te bemoei nie. Hy vind wonderlike mense onder ateïste. Besinning oor die nadoodse is irrelevant. As webmeester van Kletskerk op die internet het Oosthuizen, reeds in 2011, toegelaat dat dit as mondstuk vir erge godslastering deur ateïste sou dien.
Wanneer Oosthuizen sê: "God is nie meer vir my daai teïstiese god wat die kerk se belydenisskrifte vir ons vertel Hy is nie", is dit duidelik dat Oosthuizen hom op 'n volgens-eie-oordeel selfgemaakte kerkweg bevind. Kommerwekkend, egter, is sy aanspraak op die steun wat hy van " 'n hele klomp dominees" geniet, iemand wat sy eie reëls vir kerkwees wil formuleer. (ngn)
No comments:
Post a Comment