Tuesday 31 May 2011

Wie se politieke onderrok hang uit?

De Lange se brief, "Dié klomp gekant teen kerk-eenheid" (DB,27.05), het betrekking. De Lange is bekend daarvoor dat hy sy verskille van my op persoonsaanvallende wyse verwoord (DB,20.03.10; 22.04.10; 21.05.10). Hy sê: "Breitenbach se politieke onderrok hang uit."

De Lange maak eksterne, buite-kerklike faktore soos ras en politiek tot brillense waardeur hy kyk. Hy laat onbeskaamd na om kerklik-interne faktore soos die Bybel, die kerk en geloofwaardige kerkleiers tot brillense te maak vir sy perspektief op die Belharbelydenis (BB) en kerkeenheid.

Kykende deur laasgenoemde brillense, sien ons nie juis 'n vleiende prentjie van die teenswoordige kerk nie. Daar is dermate met die Bybel gepeuter, dat tereg gevra kan word watter een nog die waarheidsgetroue weergawe is. Uit teologiese oord verneem ons skokkende stellings. So verkondig prof. Julian Müller in sy jongste boek, "Jy mag maar twyfel", die teenoorgestelde van wat die Bybel ons leer. Op die NG Kerk se Diversiteitsforum is dit skrikwekkend om te lees hoedat behoudende lidmate as "verregse" en "rassistiese fundamentaliste" geskel word. En dit word toegelaat. Ferdie Mulder word ná tugverhore deur sowel die Universiteit van Pretoria as die NG Kerk geskors omdat hy durf beswaar maak oor hoe Jesus se maagdelike geboorte, Sy opstanding en Satan as werklikheid, in dié Teologiese Fakulteit hanteer is. Prof. Johan Janse van Rensburg wys daarop (Volksblad,25.05) hoedat dieselfde Wes- en Suid-Kaaplandse streeksinode wat die BB aanvaar het, terselfdertyd artikels 12 en 34 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwerp.

De Lange,vir my is die Bybel en kerk die brillense waardeur ek na die BB en kerkeenheid kyk, maar as dié lense troebel geword het, hoe kan van my verwag word om leiding vanuit sodanige lensperspektief te volg? Vele lidmate verloor hul vertroue in die kerk om dieselfde rede. De Lange, wie se "politieke onderrok" hang werklik uit: Myne, of dalk joune?




Friday 27 May 2011

Los skrywer en debatteer saak

My klip-in-die-bosbrief, "Ook 'onbybels' om plakkers te weier" (DB,24.05), het opvallend vir beide C.J. (DB,25.05) en Marianne (DB,26.05) op ongemaklike plekke getref. Kritiek het ek lank al reeds leer hanteer   -   en dit is julle reg om te mag kritiseer   -   maar julle het albei skynbaar nog nie leer onderskei tussen persoonsgerigte en debatsgerigte kritiek nie. Dit dui op gebrekkige insig.

Iemand wat oor genoegsame debatteringservaring en voldoende volwassenheid beskik, val nie die persoon van die debatteerder aan nie, maar debatteer die debatsonderwerp. Nie alle briewe wat hier verskyn, beskik oor ewe veel debatspotensiaal nie. My brief het wel, dog C.J. en Marianne is beide blind daarvoor. C.J. het dit teen my "breedsprakigheid", "selfvoldaanheid" en "vooroordeel", sonder enige poging om dit hoegenaamd motiverend met voorbeelde te probeer toelig.

Vanuit Marianne se Akademie vir Taalkritiek, verneem ek dat my taalgebruik "te formeel, verouderd en ingewikkeld" vir haar is. My bydraes besorg haar "slegte spysvertering". Dat 'n mens jou in jou alleenheid met só 'n abdominale ongemak kan martel met die lees van my skrywes, en dan in die openbaar by lesers medelye soek, verg besondere waagmoed. Hoe is dit dan? Die spreekwoord lui dat selfs 'n donkie nie twee keer agtereenvolgens sy poot teen dieselfde klip stamp nie. Waarom dan aanhou om my bydraes tot jou selfmarteling te lees?

Beide C.J. en Marianne verteenwoordig leunstoel-kritici, elk in sy eie gemaksone van waaruit ek my nie kan herinner ek nog ooit enige bydrae van hulle hier op Brieweblad gelees het nie. Hulle is verteenwoordigers van die beter-weters-aan-wal.

C.J. en Marianne, julle persoonsgerigte beskuldigings kom onoortuigend oor. Dit verdoesel eintlik maar net julle verskil van my aangaande die werklike debat ter sprake, die Belharbelydenis. Wees grootmoedig genoeg, kom uit agter jul skuilnaam-fasade, los die skrywer en debatteer die saak.




Wednesday 18 May 2011

Ook "onbybels" om plakkers te weier

Dawie se "Kerk moet Belhar so gou moontlik aanvaar" (DB,14.05), het betrekking. Hy sê: "...die besluit deur die Wes- en Suid-Kaaplandse sinode van die NG Kerk...is die eerste stap op die pad om die onbybelse besluit van die sinode van 1857 om te keer.". Die presiese omstandighede tot dié besluit het dermate in die vergetelheid versink in 'n ingrypend veranderde wêreld sodat Dawie maklik 'n onkunde-slagoffer kon word en net opportunistiese kritiek daarvoor het.

Met sy verwytende verwysing na "die onbybelse besluit" maak Dawie 'n uiters aanvegbare stelling wat hy ongemotiveerd laat en hoop om ewe-oningeligtes in dieselfde strik mee te vang. Het hy die vaagste benul van die effek van die kultureel-diverse samestelling, die geletterdheidsvlak en taalvaardighede van die Christengelowiges op die kerk van dié tyd; die ontwaking van Afrikaner-nasionalisme in samehang met sy kerk; die verdelende Britse angliseringsbeleid en toenemende verliberalisering, as slegs enkele faktore wat kon inspeel op dié sinodale besluit? Terselfdertyd maak hy verlede-gebede verdag; daarmee ook kontemporêre gebede.

Met sy opmerking: "...die implikasies van die (Belhar) belydenis, ook vir die huidige politiek...", ontmasker Dawie homself as 'n politieke propagandis eerder as 'n kerklik-historiese analis. Oordeelkundiger skrywers as Dawie wys juis op die gevare van die vermenging van kerk en politiek.

Dit is opvallend dat die opheffingswerk van die NG Kerk onder bruin mense nêrens vermeld en erkenning geniet nie, maar net kritiek ontlok. Hoe verwyderd van die werklikheid; net nog 'n geleentheid om wit Afrikaners verdoemend by te kom?

Dawie, deur nie hawelose plakkers op jou werf toe te laat nie, is dit nie nét so onbybels as die 1857-sinodebesluit nie? Dieselfde kontekstueel-praktiese oorwegings, hoewel eiesoortig   -   dog vergelykbaar   -   wat tans vir jou mag geld, kon eweneens ook in die verlede gegeld het. Akkommodeer eers plakkers "bybels" op jou werf, en ek neem jou ernstig op.




Monday 16 May 2011

Oningeligtes word maklik gemanipuleer

Lidmate van die NG Kerk vir wie die toekoms van dié kerk belangrik is, mag nie langer op die kantlyn as oningeligte toeskouers vertoef nie, maar moet aktief betrokke raak by gesprekke en debatte wat tans daarbinne rakende sy toekoms gevoer word, soos oor die Belharbelydenis (BB).

Hoe moeilik dit ook al mag wees om te erken, is dit slegs diegene wat met geestelike blindheid geslaan en deur wêreldbekoring betower is wat nié kan sien vanwaar die BB kom en waarheen dit met dié kerk onderweg is nie. Maar presies so is dit dan ook vir ons vooruit as kenmerk van die eindtyd voorspel, dat die god van hierdie wêreld, Satan, mense se oë sal verblind. Sou die NG Kerk in geheel dus uiteindelik die BB aanvaar, gee hy daarmee te kenne dat hy 'n geestelik-blinde leier van blindes geword het. Hieroor moet dié kerk betyds baie ernstig besin.

Lidmate, in gemeenteverband, beskik oor 'n vetoreg ten opsigte van die BB en moet daarvan gebruik maak. Gemeentelede moet egter verseker dat hulle hierin wel deur hul kerkraad geken en geraadpleeg word, en nie toelaat om afgerangeer en/of gestoomroller te word nie.

Ds. Theo Danzfuss van die Witfield-gemeente (011-826 1878) se boek, "Belhar  -  Bely of Bestry?", word gereken as die beste kritiek wat oor die BB in Afrikaans beskikbaar is. In 'n skrywe van "Gospel Defense League" word beweer: "If the Afrikaners can be made to condemn themselves...to reject their history, culture and religion, then their enemies will gladly destroy them...The irony is that Dr Boesak who works so hard to get the DRC to declare its guilt, has never yet acknowledged or repented of his own sins. The Belhar...as a whole...is an anti-Christ confession."

Moenie toelaat dat u gemanipuleer word vanweë oningeligtheid nie.      (ngn)






Wednesday 11 May 2011

Evangelie word skaamteloos vervals

Lesers sal dalk weet van 'n relatief nuwe programreeks op TV2 Sondagoggende om 08:30 getitel: "What does God think of us?", (lees: "What do we think of God?") aangebied deur Theo Geyser. Coetzee Zietsman, een van die kameramanne van gemelde reeks, het ongeveer sestien jaar gelede 'n program vir SABC TV gemaak oor die inisiasie van sangomas vir die prakyk van kommunikasie met voorvadergeeste.

Gedurende dié inisiasie-seremonie is die vroulike sangoma en 'n bok saam onder 'n velkombers bedek waarna die bok se nekslagaar gesny en die sangoma die bloed moes drink. Danksy hul aanvaarding van die verlossingsboodskap van Jesus Christus het sommige sangomas sodanige praktyke laat vaar.

Die program van 24 April het gehandel oor "Church and culture". Ter inleiding is 'n bekeerde sangoma vertoon waar sy al haar toebehore, benodig vir toorkunsbeoefening, op 'n hoop gedra en aan die brand gesteek het. 'n Dergelike voorbeeld van sodanige verbranding vind ons in Handelinge 19:19.

Wat vir ons as Christene van besondere belang in verband met hierdie spesifieke aanbieding is, is die ontstellende kommentaar van Geyser teen die einde van dié uitsending. Sy slotkommentaar was: "I was wondering. Is this the best way to engage a culture, to burn somebody's religion...What if the approach need to be like Jesus, more interested in the person than in the method or the expression of their faith?

"What if this can be one of the biggest opportunities to meet God and to be changed yourself in that circumstance? I think maybe that is the way we need to go if we have a conviction that we can't take Jesus to anybody but that he's already present in somebody's life. Maybe a sangoma can be an opportunity to meet Jesus."

Is dit nie blatant-skaamtelose vervalsing van die Evangelie nie?           (ngn)

Monday 9 May 2011

Mag só 'n kerk ander teregwys?

Ek meen dat die NG Kerk se teregwysing van die ANC se misbruik van spesifiek die Christelike godsdiens vir verkiesingsdoeleindes om twee redes bevraagteken kan word.

Ingevolge die grondwet is S.A. 'n sekulêre staat, geniet alle gelowe gelyke status, mag teen geen godsdiens gediskrimineer word nie, en is alle landsburgers se vorme van geloofsuitdrukking gewaarborg. As hoogste gesag in die land, is ook alle gelowe ondergeskik aan die grondwet. Die NG Kerk moet daarom daaraan herinner word dat hy nie langer die "nie-amptelike staatskerk" is nie, en dat vele van sy lidmate hul stem en steun verleen het vir die onderhandeling van juis dié sekulêre grondwet.

Die Bybel vertel ons van twee kerktipes binne die Christendom: die "ware kerk" en die "valse kerk". Ek stel dit as hipotese dat die NG Kerk-besware vanuit 'n selfbeskouing as verteenwoordigend van die "ware kerk" kom   -   wat bevraagteken moet word.

Dit is beslis so dat die NG Kerk deesdae, plek-plek, die evolusieleer ondersteun en ontken dat ons van Adam afstam (soos die Bybel leer), maar wel van aapagtiges; dat die Bybel net mensewoorde oor God is en nié God se woorde oor en vir die mens is nie; die maagdelike geboorte van Jesus ontken; Satan as 'n fiktiewe voorstelling van die menslike bewussyn verklaar; met homoseksualiteit, voorhuwelikse seks en -saamwoon simpatiseer; en oor dergelike dwaalleringe swyg. Die Bybel noem dit dwaalleer, en tref nie onderskeid tussen die omvang van sonde nie. Sonde is sonde, groot of klein.

Nou vra ek myself: Waarom hoor ons nie dieselfde teregwysings vanuit dié "ware" Christengeledere van die NG Kerk oor Bybelse dwalinge in eie geloofshuis nie? Daar is mos dan nou geen verskil tussen die NG Kerk se "klein sonde" en Zuma-hulle se "groot sonde" nie. Is dit dan nie juis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel nie? Mag dié kerk daarom ander teregwys?                 

Thursday 5 May 2011

Kies dan self jou eie interpretasie

Wessel van Dyk se brief (DB,05.05) het betrekking. Hy sê ek gee te kenne "dat 'n mens nie mag twyfel nie". Dit is nié wat ek gesê het nie, maar dit is wat die Bybel sê. Onderskei dus asseblief tussen my en die Bybel.

Van Dyk sê ook dat mense die Bybel geskryf het, besluit het watter boeke daarin opgeneem sou word, en dat "die kerk 'n fout kon gemaak het in sy samestelling van die Bybel..." Met laasgenoemde opmerking werp Van Dyk juis 'n skaduwee van twyfel oor die Bybel. Hy onderskryf blykbaar die organiese interpretasie en hantering van die Bybel.

Volgens die meganiese interpretasie van die Bybel, is die Bybel inderdaad deur mense as werktuie van God geskryf, maar is dit verbatim   -   woord-vir-woord   -   onder die direkte leiding van die Heilige Gees geskryf. Hierdie interpretasie impliseer dus die direkte betrokkenheid van die Heilige Gees, nie net by die skrywe van die Bybel nie, maar ook die voortgesette gebruik van mense as Sy instrumente oor die eeue heen in die samestelling daarvan, hoe "twyfelagtig" dit ook vir ons mag voorkom.

Christene kan nié ontken dat ons geloofslewe dikwels deur twyfel gekenmerk word nie. Maar twyfel is 'n kenmerk van geloofswakheid en  -versaking, daarom bid ons: Vader, kom my swakheid te hulp! Twyfel is 'n kanker wat geloof vernietig. Wat Müller doen, is om dié "kankervretende" twyfel te sanksioneer. Is dit aan die Bybel te verantwoord? (Watter Bybel; daar is reeds só 'n verskeidenheid!)

Daar is dus twee polig-teenoorstaande moontlike interpretasies waaruit gekies en dan tot geloofsrigsnoer gemaak kan word; God het Sy Woord aan menslike willekeur onderwerp, of Hy bly die Outeur en Beskermer daarvan, ongeag Satan se twyfelsaaiende vernietigingspogings. Daarom het Augustinus gesê: My siel is tot God geskape, en my siel is onrustig in my, totdat dit rus vind in God.

Monday 2 May 2011

Teoloog onbybels oor geloofstwyfel

Die bekende teoloog, dr.Julian Müller, se jongste boek heet, "Om te mag twyfel", waarvan hy self sê: "...dit staan teenoor die (Bybelse/TCB) boodskap dat dit verkeerd is om te twyfel..." (By,23.04). Vir hom gaan dit "...in die kerk nie oor ' 'n vasgestelde, korrekte (Bybelse/TCB) manier van doen nie. Dit gaan bloot oor Christenskap'. " Ons mag mos nou vra: Wat is die vertrekpunt en eindbestemming van dié "Christenskap"; veral in die lig van sy eie dualistiese onderskeiding tussen "wedergebore" en "gewone" Christene?

Müller sê prontuit: "Ek het met verloop van tyd skepties geword oor die konsep 'geloofsekerheid' ". Sy boek is bedoel vir diegene wat "...as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar nou sukkel om steeds so naïef te vertrou." Dit is om die rug te draai op wat Jesus self in Matteus 18:3 gesê het: As ons nie "...soos kindertjies word nie...", sal ons "...beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie."

Met die voorgenoemde neem hy "...stelling in teenoor die 'kampioene van geloof ' en skaar hom eerder by die 'ongelowige gelowiges' ". Wat 'n anomalie en/of diskrepansie is dit nie? In sy boek wil hy "...juis nie oor die oorwinnings van geloof praat nie...", want vir Julian Müller het geloof "...geen inherente krag en betekenis nie..." Is dit aanvaarbare taal van 'n teoloog wat deel het aan die opleiding van die huidige predikantegeslag? As dit nie dwaalleer is nie, wat is dwaalleer   -   as afwyking van die Bybelse waarheidsleer   -   dan?

Direk teen die Bybelse opdrag van nie-twyfel in, sê Müller Christene mag maar twyfel. Twyfel is egter die "oersaad" wat gesaai word om 'n bestel te skep wat moet kulmineer in die geloofsvernietiging van Christengelowiges. Twyfel is die oerstrategie deur Satan gebruik vir die mens se sondeval. Müller is ongetwyfeld onbybels in sy propagering van geloofstwyfel.