Monday 9 May 2011

Mag só 'n kerk ander teregwys?

Ek meen dat die NG Kerk se teregwysing van die ANC se misbruik van spesifiek die Christelike godsdiens vir verkiesingsdoeleindes om twee redes bevraagteken kan word.

Ingevolge die grondwet is S.A. 'n sekulêre staat, geniet alle gelowe gelyke status, mag teen geen godsdiens gediskrimineer word nie, en is alle landsburgers se vorme van geloofsuitdrukking gewaarborg. As hoogste gesag in die land, is ook alle gelowe ondergeskik aan die grondwet. Die NG Kerk moet daarom daaraan herinner word dat hy nie langer die "nie-amptelike staatskerk" is nie, en dat vele van sy lidmate hul stem en steun verleen het vir die onderhandeling van juis dié sekulêre grondwet.

Die Bybel vertel ons van twee kerktipes binne die Christendom: die "ware kerk" en die "valse kerk". Ek stel dit as hipotese dat die NG Kerk-besware vanuit 'n selfbeskouing as verteenwoordigend van die "ware kerk" kom   -   wat bevraagteken moet word.

Dit is beslis so dat die NG Kerk deesdae, plek-plek, die evolusieleer ondersteun en ontken dat ons van Adam afstam (soos die Bybel leer), maar wel van aapagtiges; dat die Bybel net mensewoorde oor God is en nié God se woorde oor en vir die mens is nie; die maagdelike geboorte van Jesus ontken; Satan as 'n fiktiewe voorstelling van die menslike bewussyn verklaar; met homoseksualiteit, voorhuwelikse seks en -saamwoon simpatiseer; en oor dergelike dwaalleringe swyg. Die Bybel noem dit dwaalleer, en tref nie onderskeid tussen die omvang van sonde nie. Sonde is sonde, groot of klein.

Nou vra ek myself: Waarom hoor ons nie dieselfde teregwysings vanuit dié "ware" Christengeledere van die NG Kerk oor Bybelse dwalinge in eie geloofshuis nie? Daar is mos dan nou geen verskil tussen die NG Kerk se "klein sonde" en Zuma-hulle se "groot sonde" nie. Is dit dan nie juis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel nie? Mag dié kerk daarom ander teregwys?                 

1 comment:

  1. ek stem heelhartig saam. ek is besig om die Trojaanse boek te lees, en ek huil elke aand, so hartseer is ek. ek is al amper 15 jaar uit die NG kerk, en al vir baie jare in 'n sendingkerk, en dit breek my hart om te dink dat die Kerk waar ek grootgeword en Jesus leer ken het, so dwaal.

    ReplyDelete