Thursday 5 May 2011

Kies dan self jou eie interpretasie

Wessel van Dyk se brief (DB,05.05) het betrekking. Hy sê ek gee te kenne "dat 'n mens nie mag twyfel nie". Dit is nié wat ek gesê het nie, maar dit is wat die Bybel sê. Onderskei dus asseblief tussen my en die Bybel.

Van Dyk sê ook dat mense die Bybel geskryf het, besluit het watter boeke daarin opgeneem sou word, en dat "die kerk 'n fout kon gemaak het in sy samestelling van die Bybel..." Met laasgenoemde opmerking werp Van Dyk juis 'n skaduwee van twyfel oor die Bybel. Hy onderskryf blykbaar die organiese interpretasie en hantering van die Bybel.

Volgens die meganiese interpretasie van die Bybel, is die Bybel inderdaad deur mense as werktuie van God geskryf, maar is dit verbatim   -   woord-vir-woord   -   onder die direkte leiding van die Heilige Gees geskryf. Hierdie interpretasie impliseer dus die direkte betrokkenheid van die Heilige Gees, nie net by die skrywe van die Bybel nie, maar ook die voortgesette gebruik van mense as Sy instrumente oor die eeue heen in die samestelling daarvan, hoe "twyfelagtig" dit ook vir ons mag voorkom.

Christene kan nié ontken dat ons geloofslewe dikwels deur twyfel gekenmerk word nie. Maar twyfel is 'n kenmerk van geloofswakheid en  -versaking, daarom bid ons: Vader, kom my swakheid te hulp! Twyfel is 'n kanker wat geloof vernietig. Wat Müller doen, is om dié "kankervretende" twyfel te sanksioneer. Is dit aan die Bybel te verantwoord? (Watter Bybel; daar is reeds só 'n verskeidenheid!)

Daar is dus twee polig-teenoorstaande moontlike interpretasies waaruit gekies en dan tot geloofsrigsnoer gemaak kan word; God het Sy Woord aan menslike willekeur onderwerp, of Hy bly die Outeur en Beskermer daarvan, ongeag Satan se twyfelsaaiende vernietigingspogings. Daarom het Augustinus gesê: My siel is tot God geskape, en my siel is onrustig in my, totdat dit rus vind in God.

No comments:

Post a Comment