Wednesday 18 May 2011

Ook "onbybels" om plakkers te weier

Dawie se "Kerk moet Belhar so gou moontlik aanvaar" (DB,14.05), het betrekking. Hy sê: "...die besluit deur die Wes- en Suid-Kaaplandse sinode van die NG Kerk...is die eerste stap op die pad om die onbybelse besluit van die sinode van 1857 om te keer.". Die presiese omstandighede tot dié besluit het dermate in die vergetelheid versink in 'n ingrypend veranderde wêreld sodat Dawie maklik 'n onkunde-slagoffer kon word en net opportunistiese kritiek daarvoor het.

Met sy verwytende verwysing na "die onbybelse besluit" maak Dawie 'n uiters aanvegbare stelling wat hy ongemotiveerd laat en hoop om ewe-oningeligtes in dieselfde strik mee te vang. Het hy die vaagste benul van die effek van die kultureel-diverse samestelling, die geletterdheidsvlak en taalvaardighede van die Christengelowiges op die kerk van dié tyd; die ontwaking van Afrikaner-nasionalisme in samehang met sy kerk; die verdelende Britse angliseringsbeleid en toenemende verliberalisering, as slegs enkele faktore wat kon inspeel op dié sinodale besluit? Terselfdertyd maak hy verlede-gebede verdag; daarmee ook kontemporêre gebede.

Met sy opmerking: "...die implikasies van die (Belhar) belydenis, ook vir die huidige politiek...", ontmasker Dawie homself as 'n politieke propagandis eerder as 'n kerklik-historiese analis. Oordeelkundiger skrywers as Dawie wys juis op die gevare van die vermenging van kerk en politiek.

Dit is opvallend dat die opheffingswerk van die NG Kerk onder bruin mense nêrens vermeld en erkenning geniet nie, maar net kritiek ontlok. Hoe verwyderd van die werklikheid; net nog 'n geleentheid om wit Afrikaners verdoemend by te kom?

Dawie, deur nie hawelose plakkers op jou werf toe te laat nie, is dit nie nét so onbybels as die 1857-sinodebesluit nie? Dieselfde kontekstueel-praktiese oorwegings, hoewel eiesoortig   -   dog vergelykbaar   -   wat tans vir jou mag geld, kon eweneens ook in die verlede gegeld het. Akkommodeer eers plakkers "bybels" op jou werf, en ek neem jou ernstig op.




No comments:

Post a Comment