Monday 2 May 2011

Teoloog onbybels oor geloofstwyfel

Die bekende teoloog, dr.Julian Müller, se jongste boek heet, "Om te mag twyfel", waarvan hy self sê: "...dit staan teenoor die (Bybelse/TCB) boodskap dat dit verkeerd is om te twyfel..." (By,23.04). Vir hom gaan dit "...in die kerk nie oor ' 'n vasgestelde, korrekte (Bybelse/TCB) manier van doen nie. Dit gaan bloot oor Christenskap'. " Ons mag mos nou vra: Wat is die vertrekpunt en eindbestemming van dié "Christenskap"; veral in die lig van sy eie dualistiese onderskeiding tussen "wedergebore" en "gewone" Christene?

Müller sê prontuit: "Ek het met verloop van tyd skepties geword oor die konsep 'geloofsekerheid' ". Sy boek is bedoel vir diegene wat "...as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar nou sukkel om steeds so naïef te vertrou." Dit is om die rug te draai op wat Jesus self in Matteus 18:3 gesê het: As ons nie "...soos kindertjies word nie...", sal ons "...beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie."

Met die voorgenoemde neem hy "...stelling in teenoor die 'kampioene van geloof ' en skaar hom eerder by die 'ongelowige gelowiges' ". Wat 'n anomalie en/of diskrepansie is dit nie? In sy boek wil hy "...juis nie oor die oorwinnings van geloof praat nie...", want vir Julian Müller het geloof "...geen inherente krag en betekenis nie..." Is dit aanvaarbare taal van 'n teoloog wat deel het aan die opleiding van die huidige predikantegeslag? As dit nie dwaalleer is nie, wat is dwaalleer   -   as afwyking van die Bybelse waarheidsleer   -   dan?

Direk teen die Bybelse opdrag van nie-twyfel in, sê Müller Christene mag maar twyfel. Twyfel is egter die "oersaad" wat gesaai word om 'n bestel te skep wat moet kulmineer in die geloofsvernietiging van Christengelowiges. Twyfel is die oerstrategie deur Satan gebruik vir die mens se sondeval. Müller is ongetwyfeld onbybels in sy propagering van geloofstwyfel.

No comments:

Post a Comment