Wednesday 27 April 2011

Besin deeglik oor die "Love Gospel"

Kan die Christendom en Islam, Skrifgefundeerd, verenig tot 'n "nuwe geloof", bekend as Chrislam? Dit is wat die artikel, "Chrislam Starts To Spread In America", in 'n onlangse uitgawe van The Last Crusade, rapporteer. Volgens dié artikel is daar "love gospel preachers" in die VSA wat graag hul kerkbanke en bankrekeninge voller wil maak deur maniere te vind waarvolgens hulle die Christendom en Islam samesmeltend in 'n eenheid kan laat opgaan.

Rick Warren, stigter en geestelike leier van die Saddleback Community Church in Orange County in Kalifornië   -   by vele NG-gemeentes en lidmate bekend vanweë hul deelname aan, onder meer, Warren se kursus, "Doelgerigte Lewe"   -   is een van die vooraanstaande Amerikaanse Christenleiers wat hom beywer vir die eenwording van die Christendom en die Islam.

Die Memorial Drive Presbyterian Church in Houston (Texas), tesame met Christengemeenskappe van Atlanta (Georgia), Seattle (Washington) en Detroit (Michigan), het 'n reeks van preekdienste georganiseer met die oog op die ekumeniese versoening tussen Christene en Moslems. Sondagskoollesse sal voortaan fokus op die geïnspireerde leringe van die profeet Mohammed, terwyl Korans ook naas Bybels in kerkbanke geplaas sal word. Leerstellinge bekend onder die benaming, "Jesus in die Koran", word onderrig.

Die Chrislambeweging in die VSA het in momentum toegeneem vanweë president George W.Bush se uitspraak dat Christene, Jode en Moslems dieselfde God aanbid, asook deur Rick Warren se verwysing na Isa (die Moslemnaam vir Jesus) in sy gebed tydens die inhuldiging van president Barack Obama.

Die Koran erken nie Jesus Christus as die Seun van God nie, en ook nie as die Ou Testamenties-beloofde Messias nie, maar beskou Hom as 'n deur Allah-aangestelde profeet om die mensdom voor te berei vir die koms van Mohammed. Dwing dit nie Christene om deeglike te besin oor die "love gospel" nie?






No comments:

Post a Comment