Saturday 2 April 2011

Moet liefs nie diskrediteer nie

Edmund, jy is duidelik nie ernstig nie wanneer jy sê: "Dr.T, ons sal jou mis, maar Orania het 'n nuwe leier nodig" (DB,26.03). Jy verwys na wyle prof. Carel Boshof, 'n besondere Afrikanerleier, se afsterwe.

Jy verwys, spottenderwys, na my as 'n opvolger vir hom. Is dit nie dikwels tipies van 'n mens om, in jou poging om ander te diskrediteer, jyself eintlik die gediskrediteerde word nie? Grawe 'n gat vir iemand anders, en val self daarin.

Indien jou suggestie wel 'n oorweging was, sou ek dit nie sonder jou aanpak nie. Blykbaar beskik jy oor die buitengewone vermoë om Orania-opvolgleiers te kan identifiseer sonder om vooraf enigiets van hulle te weet. By my afsterwe sal jy daar wees om dié selfopgelegde takie, ongevraagd, vir die Oraniërs te verrig.

Om nadoods deur vriend én vyand vereer te word, is nie vir almal beskore nie; slegs vir die uitsonderlikes onder ons. So 'n persoon was prof. Boshof wel. Jy sou tog immers self van hom gelees het: "Van die VF+ tot die ANC het die dood gister van prof. Carel Boshof, stigterleier van Orania, diep betreur...Mnr.Zamani Saul, provinsiale sekretaris van die ANC, het gesê Zuma...het groot bewondering en respek gehad vir...Boshof se leierskap" (DB,17.03).

Edmund, as jy nie deel in, onder meer, Zuma en die ANC se agting vir wyle prof. Boshof nie, is dit jou reg. Jou assosiëring van my met Boshof, 'n persoon van besondere statuur, beskou ek as 'n kompliment. Dankie daarvoor.

Ag nee wat, Edmund, kom ons styg uit bo kleinlike diskreditering. Moenie ander (Orania) goedsmoeds probeer diskrediteer nie; dit is net destruktief. Kom ons bou volgens die beginsel van leef-en-laat-leef saam aan S.A., jy op jou terrein, ek op myne en Orania op syne, sonder om mekaar bespotlik te probeer maak.





No comments:

Post a Comment