Monday 30 June 2014

Christene se geloofsdenke by 'n kruispad

Die begrip transformasie beskryf een van die mees uitstaande kenmerke van die nuwe S.A. Dit laat geen lewensfeer onaangetas nie; ook nie die kerklik-geestelike nie. Wag daar dalk vir laasgenoemde kontekstueel-transformerendes 'n ontnugtering aan die einde van hul lewensreis? Op grond waarvan dié bevraagtekenende vraag? Die bestaande Skrif-  en Godsbeskouing word tans só radikaal getransformeer dat die oue en die nuwe haas onversoenbaar en wedersyds uitsluitend is.

Die eeue-oue meganiese interpretasie dat die Bybel God se geïnspireerde Woord óór en vìr die mens is, word nou verwerpend vervang met die organiese interpretasie wat beweer dat die Bybel bloot mensewoorde oor God en mens is. Dit is presies wat, onder meer, prof. Wilhelm Jordaan in sy "Ruimer denke, nes geloof, kán jou lewe verryk" (Beeld,25.06), beweer. Hy sê dat "...bepaalde Christelike godsdiensbegrippe...(en) God se eienskappe... sterk beïnvloed (én verryk) is deur gelykluidende (af-)godestories..." Jordaan erken dat kinders en jongmense geskok word wanneer hulle "...gekonfronteer word met (dié) vernuwende denke waarvan hulle nog nooit gehoor het nie." Hy versoek Christene om nie "...hardnekkig vol te hou (met) 'my geloof en godsdiens' aanbid die enigste ware God en is die enigste saligmakende waarheid" nie.

Dié "vernuwende" geloofsdenke bring Christengelowiges by 'n kruispad. Ek, wat nie dié "nuwe" getransformeerde geloofsroete   -   wat die Bybel tot mites en mensewoorde reduseer en 'n Godsbeeld konstrueer in sameflansing van vreemde afgodsbeelde   -   wil inslaan nie, verkies om eerder Paulus se raad aan Timoteus   -   "Bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo" (2 Tim.3:14)   -   te volg.








Thursday 26 June 2014

Petrus kan gerus sy kritiek heroorweeg

Ek verdedig graag mede-Christene wat so grimmig deur Petrus se "Stadig met dié fundamentalisme" (DB,24.06) veroordeel word deur vanuit 'n ander perspektief na sy beskuldigings teen Christengelowiges te kyk. Indien ek Petrus reg verstaan, is sy beswaar nie dát Christene getuig nie, maar wel wáár en hóé hulle getuig. Wat die "wáár" betref sê Petrus: "Die Burger...is die gratis medium vir...die menings van sommige...wat voortdurend daarop uit is om te getuig van toegewydheid aan die Opperwese..." , en dat dié altyd "reg is en...nie ander godsdienstige menings verdra nie."

Petrus, vir Christene het die Opperwese 'n naam   -   Hy is God Drieënig. Die Godsbeeld wat jy voorhou   -   altyd reg en duld nie ander gode nie   -   is korrek. Die Bybel en ons belydenisskrifte is baie duidelik daaromtrent. Ek sou graag wou sien dat Petrus sy beskuldigings van Christene se "fundamentele onverdraagsaamheid" , ons veroordeling, minderwaardigheidsbeskouing en etikettering van nie-Christene as "ateïste en agnostici", voorbeeld-  en frekwensiegewys toelig   -   Petrus se aanklag teen "hóé" Christene getuig.

Petrus, Christengelowiges staan onder opdrag om getuies tot in die uithoeke van die wêreld te wees (die "wáár") op sodanige wyse dat hulle mense tot dissipels sal maak (die "hóé"). Ware gelowiges wéét dat dit net moontlik is onder leiding van die Heilige Gees wat saam met ons gees getuig. Petrus, besef jy dus dat jy   -   deur jou kritiek op die "wáár" (oral) en die "hóé" (volgens ons Godgegewe gawes) van Christene se getuienisopdrag   -   tegelykertyd ook kritiek uitspreek teen die Gees van God? Opponerende Christus se opdrag, kan Petrus gerus sy kritiek heroorweeg.




Monday 23 June 2014

Zuma skep negatiewe klimaat rondom taal

Vyftig jaar gelede maak ek in die derdejaar-Sielkundeklas kennis met die definisie vir sielkundige klimaat. Na soveel jare het dit my steeds by gebly. Dit lui so: sielkundige klimaat is daardie aspek van 'n situasie wat vir 'n indiwidu sekere implikasies inhou ten opsigte van sy/haar waarde as persoon. Met sy onlangse staatsrede het pres. Zuma my aan dié definisie herinner. Hy groet ter aanvang die aanwesiges in Engels sowel as in enkele van die inheemse swart tale, maar nié in Afrikaans nie. Dit het Afrikaanssprekendes beslis opgeval.

Pas beginnende met sy redevoering, onderbreek hy homself en, met 'n onvanpas liggaamskuddende hê-hê-hê-gelag, sê hy "Goeie naand" in Afrikaans, en skep daarna 'n pouse ter beklemtoning van die beslis negatiewe klimaat wat hy pas rondom Afrikaans geskep het. Sy geïmpliseerde bedoeling daarmee was duidelik: hy het weinig respek en waardering vir Afrikaans as een van ons grondwetlik erkende nasionale tale. Wat 'n duidelike gebrek aan stylvolle demokratiese leierskap.

Kan daar van die moedertaalsprekers van Afrikaans verwag word om pres. Zuma met agting te bejeën terwyl hy só duidelik   -   ten aanskoue en ten aanhore van miljoene TV-kykers   -   doelbewus in die openbaar 'n negatiewe klimaat rondom Afrikaans skep? Na dié mate wat sy gedrag sy status as staatspresident by herhaling weerspreek, na dieselfde mate sal die wetsgehoorsame burgery se agting dienooreenkomstig vir hom afneem. Nie alleen vervreem hy Afrikaanse taalsprekers nie, maar druip ook in die toets vir nasiebou.




Monday 16 June 2014

Simbole-invloed dien staat én huisgesin

Dit is gebruiklik om die foto's van staatsleiers op strategiese plekke in staatsgeboue te vertoon. Saam met leiersverwisseling, verwissel ook dié foto's   -   ook ná die jongste kabinetsamestelling. Saam met ander nasionale simbole soos die volkslied, landsvlag en  -wapen, dien dié foto's die doel van die smee van 'n simboliese nasionale eenheidsband tussen alle landsburgers, die bevordering van lojale patriotisme, sowel as om die nasionale identiteit te inkorporeer tot onderdeel van die persoonlike identiteit van elke landsburger. Gegewe hul agtergrondsrekords, is dit egter vir sommige van ons baie moeilik   -   indien nie onmoontlik nie   -   om tans met sommige van die huidige staatsleiers te identifiseer; wat nasiebou aansienlik belemmer.

'n Geslag of twee gelede is presies dieselfde verskynsel van simbole-aanwending   -   by wyse van geraamde Bybeltekste, foto's van gesins- en familievoorgeslagte, van Afrikanerleiers en Boeregeneraals, sowel as skildery-afdrukke van Voortrekkertonele   -   aangetref teen woonkamer- en slaapkamermure in Afrikanerhuishoudings. Binne hierdie simbole-milieu het die Afrikanerjeug van gister en eergister, onder meer, hul geestelike wortels, historiese herkoms, behorendheid en identiteit gevind. Vandag het hierdie simbole uit ons moderne huise verdwyn en met tegniese simbole, soos die TV en rekenaar, vervang as agente vir die identiteitstransformasie van ons moderne jeug.

Soos wat vir die kweek van lojale landsburgers 'n ideale nasionale simbole-omgewing in 'n makrokonteks nodig is, so word ook 'n ideale kulturele simbole-omgewing vir die grootword van die Afrikanerjeug in 'n mikrokonteks benodig. Ongelukkig bestaan, myns insiens, nie een van dié twee omgewings nie. Is ons huislike opvoeding vandag   -   met ons twintigjaaroue sekulêre staatsbedeling se eroderende uitwerking op Afrikaners se vroeëre sterk kerk-skool-ouerhuis-vennootskap   -  beter of slegter daaraan toe as in die verlede?






Monday 9 June 2014

Waarheid kán wel geskiedenis herskryf

'n Vriend bring vir my twee boeke van dieselfde skrywer   -   prof. V.E.d'Assonville van die Noordwes-universiteit   -   oor dieselfde onderwerp   -   die Anglo-Boereoorlog (1899-1902)   -   wat hy wil hê ek moet lees. Synde een van my besondere belangstellings, bring die lees van dié werke my gedagtes weldra uit by die boek van Christopher R.Browning, getitel: "The Origins Of The Final Solution   -   The evolution of Nazi Jewish Policy 1939-1942", omdat dit onmoontlik is om sommige ooreenkomste tussen dié twee oorlogstydperke (1899-1902/1939-1945) mis te kyk.

Teen 1899 het Britse Imperialisme se wêreldwye veroweringsdrang weerklank gevind in die slagspreuk: "The sun never sets on the British Empire". Die Union Jack moes ook oor SA wapper. Veertig jaar later word Hitler deur sy "lebensraum"-idee van Duitse ekspansionisme, ook om groter grondgebied, gedryf. Sowel Brits-imperialistiese-  as Nazi-konsentrasiekampe was verantwoordelik vir, onderskeidelik, duisende/miljoene sterftes. Soos die Britte dit oorweeg het om die Boere na die Fidji-eilande en/of Madagaskar te verban, het ook die Nazi's dieselfde ten opsigte van die Jode oorweeg.

Die hantering van oorlogsmisdade blyk nie altyd konsekwent logies te verloop nie, want wat is   -   vanuit 'n beginselstandpunt   -   die verskil tussen Britse (1899-1902) en Duitse (1939-1945) oorlogsmisdade? Laasgenoemde is tydens die Nuremberg-verhore aangekla, skuldig bevind en gestraf   -   en die Britte vir hul gruweldade? Hieromtrent sê d'Assonville die volgende: "Ná meer as honderd jaar...diep in die kelders van die argiewe van Londen en Suid-Afrika, is daar 'n roering van die waarheid (wat) onder die geskiedskrywers 'n bewing...van die waarheid (word)...Met 'n klag by die wêreldhof van Den Haag, sou dit 'n aardbewing kon wees wat tot 'n herskrywe van die magtige Britse Ryk se geskiedenis kon lei."



Monday 2 June 2014

Botsende isme-denke oor SA-werklikheid

In sy "ANC geminag in die buiteland" (DB,02.05), stel Leopold Scholtz verdoemende aanhalings uit oorsese koerante   -   soos Der Spiegel, Frankfurter Allgemeine Zeitung, The Gurdian en The New York Times   -   aan die orde. Daaruit kom hy tot twee belangrike en realistiese gevolgtrekkings: "Suid-Afrika (het) in die internasionale persepsie stelselmatig afgegly tot net nóg 'n mislukkende Afrika-land", en: "Die ANC, eens die liefling van die wêreld, en veral Zuma persoonlik, word met minagting bejeën."

Max du Preez (DB,27.05) kritiseer Scholtz vir sy gevolgtrekkings en sê "hy het Suid-Afrika 'verdedig waar ek dit met my gewete kon vereenselwig' toe hy in die apartheidsjare in Europa gewoon het." Hy bied aan Scholtz die volgende "argumente...om te gebruik wanneer buitelanders Suid-Afrika as 'n vrotsige plek afmaak."

Suid-Afrika is van die oopste gemeenskappe ter wêreld; bied vryheid van spraak, beweging en assosiasie; het 'n rotsvaste Grondwet met 'n konstitusionele waghondhof daaroor; die oppergesag van die reg geld steeds (?); ons geniet stabiliteit (?) en vrede met min vrese vir etniese konflik (?), en so borduur die ANC-beeldpoetsende idealistiese Du Preez voort.

Vir my blyk Scholtz en die oorsese beriggewing van die SA-werklikheid   -   waaraan ek as landsburger daagliks blootgestel is en deur die media van gebeure ingelig word   -   op groter realisme te berus as dié van Max du Preez. Die feite spreek immers vir sigself, maar oordeel self as landsburger wat daagliks moet toesien hoedat die SA-werklikheid toenemend tot 'n ANC/SAKP-werklikheid getransformeer word met 'n minagting vir dié dinge wat Max as "argumente" so hoog aanslaan en vir Scholtz aanbied ter verdediging van "Suid-Afrika as 'n vrotsige plek."