Vyftig jaar gelede maak ek in die derdejaar-Sielkundeklas kennis met die definisie vir sielkundige klimaat. Na soveel jare het dit my steeds by gebly. Dit lui so: sielkundige klimaat is daardie aspek van 'n situasie wat vir 'n indiwidu sekere implikasies inhou ten opsigte van sy/haar waarde as persoon. Met sy onlangse staatsrede het pres. Zuma my aan dié definisie herinner. Hy groet ter aanvang die aanwesiges in Engels sowel as in enkele van die inheemse swart tale, maar nié in Afrikaans nie. Dit het Afrikaanssprekendes beslis opgeval.
Pas beginnende met sy redevoering, onderbreek hy homself en, met 'n onvanpas liggaamskuddende hê-hê-hê-gelag, sê hy "Goeie naand" in Afrikaans, en skep daarna 'n pouse ter beklemtoning van die beslis negatiewe klimaat wat hy pas rondom Afrikaans geskep het. Sy geïmpliseerde bedoeling daarmee was duidelik: hy het weinig respek en waardering vir Afrikaans as een van ons grondwetlik erkende nasionale tale. Wat 'n duidelike gebrek aan stylvolle demokratiese leierskap.
Kan daar van die moedertaalsprekers van Afrikaans verwag word om pres. Zuma met agting te bejeën terwyl hy só duidelik - ten aanskoue en ten aanhore van miljoene TV-kykers - doelbewus in die openbaar 'n negatiewe klimaat rondom Afrikaans skep? Na dié mate wat sy gedrag sy status as staatspresident by herhaling weerspreek, na dieselfde mate sal die wetsgehoorsame burgery se agting dienooreenkomstig vir hom afneem. Nie alleen vervreem hy Afrikaanse taalsprekers nie, maar druip ook in die toets vir nasiebou.
No comments:
Post a Comment