Tuesday 29 June 2021

Konteks, spelreëlgesag en diskriminasie




In 'n onlangse TV-program het adv. Nadene Badenhorst, regsadviseur van "Freedom of Religion South Africa" (FOR SA), gewaarsku teen die ernstig kommerwekkende, drakoniese en gevaarlike implikasies van die voorgestelde wetswysiging van Pepuda (Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act) teen godsdiensvryheid.

In sy insigtelike skrywe wys Hugo Götze (26.06), soos adv. Badenhorst, daarop dat "Die 'reg van toegang' by enige instelling sal iets van die verlede wees...kerke sal niemand wat as 'n lidmaat wil aansluit...kan wegwys nie, al verskil sy/haar geloof, waardes en siening geheel en al van die instelling s'n."

Vele regskundige leke, soos ek, het ook menings oor die Pepuda-aangeleentheid. 'n Primêre vraag is die vraag na wat gesien moet word as die basis vir die beoordeling van diskriminasie  -  geneem Götze se kerkvoorbeeld.

Die basis vir besluitneming oor enige diskriminasie lê vir my opgesluit in die spesifieke konteks waarbinne so 'n beweerde vergrype sou plaasgevind het. 'n Duidelike kontekstueel beskrywende onderskeiding is noodsaaklik, so ook die erkenning van  kontekstuele soewereiniteit sowel as die outonomie van die spesifieke spelreëls wat vir so 'n konteks mag geld.

Bevindinge oor diskriminasie berus op die gesag van hierdie outonome spelreëls as kriteria vir beoordeling, benader volgens die prinsipes van die logika. Eise om toelating tot enige konteks sonder voldoening aan die spelreël-kriteria, kwalifiseer nie as diskriminasie nie.

In kerk-spesifieke geval, voldoen daarom aan die kerklik gesagsvolle spelreëls vir lidmaatskap en word, nie-diskriminerend, ingesluit; indien nie, nie-kwalifiserend, uitgesluit.

Waarborge vir die erkenning van dié gesagsbeklede kontekstuele spelreëls het ons egter nie; ook nie dat logiese, en nie ideologiese, oorwegings sal geld.       (ngn)





Monday 14 June 2021

Billikheid van oordeel bevraagteken




Om te laat inent of nie in te ent teen die viruspandemie nie, is tans een van die dringendste nasionale vrae. Beantwoording hiervan val uiteen in twee kampe: inenters en nie-inenters.

Die belangrikheid van kudde-immuniteit deur inenting kan nie onderskat word nie. Beide kampe word gekenmerk deur meriete, dog ons vind aanvalle op nie-inenters wat nie oor dieselfde openbare platforms beskik om hulself te verdedig nie.

Een facebook-inskrywing verwys na "kamstige dokters...kwakke (wat)...onsinnigheid uitgeryg het...oor die entstowwe (en dié)...wat toekyk wat met die res gebeur wat die oorlog namens hulle voer."

Tydens die RSG-program, Praat Saam, huldig prof Anton van Niekerk dieselfde sentiment as die facebook-inskrywing met die RSG-programaanbiedster ("onafhanklik en onpartydig") wat haar steun openlik aan hom toesê.

Vir diegene wat antwoorde soek  -  ook buitelands  -  bied die wyer mediaspektrum talle voorbeelde van onrusbarende newe-effekte van inenting op individue waarvan sommige selfs noodlottig. Deur stawende voorbeelde hier aan te haal , mag die indruk gewek word dat ek 'n anti-inentingskampanje voer wat beslis nie so is nie. Ek pleit egter vir diegene wie se omstandighede sodanig is dat hulle huiwerig is, en ons hulle nie moet veroordeel nie.

Ons het ontsag vir die finaliteit van die dood, en kan mense nie verkwalik  -  nog minder veroordeel  -  vir hul vrees vir die onsekerheid van inenting nie. As individue verskil mense onvoorspelbaar dramaties van mekaar  -  een kom niks oor; die volgende dodelik siek.

Dit is jammer dat sommige ander veroordeel sonder inagneming van riskante omstandiighede. Waarom dan nie ook diiegene veroordeel wat nie die basiese protokolle eerbiedig nie?

Die billikheid van veroordeling van nie-inenters moet bevraagteken word.


Tuesday 8 June 2021

31 Mei 1961 uitgewis uit nasionale geheue




Ek reageer op die berig: "Meeste in SA wil 31 Mei 1961 nie onthou" (01.06)  -  die opmerking van pres Ramaphosa oor dié datum. Dis nie vreemd nie; dié dag is reeds vroeër deur die ANC as amptelike openbare vakansiedag afgeskaf om daarmee te kenne te gee dat dit geen bydrae lewer tot nasionale eenheid en versoening nie, terwyl dit juis 'n datum is wat vir partypolitiek-oorskrydend neutrale onafhanklikheid staan.

Vermoedelik spruit dié opmerking uit die nalating om behoorlik onderskeid te tref tussen onafhanklikheid  -  weerspieëlende ons internasionaal kontekstueel erkende status  -  en ons nasionale partypolitieke regeerstelsel. Onafhanklikheid dra 'n konstante karakter (nie te assosieer met partypolitiek nie); 'n regeerstelsel 'n tydelik wisselende karakter.

Voorbeeld: Met verkryging van onafhanklikheid in Mei 1961 was die geïmplementeerde regeerstelsel dié van die NP se beleid van afsonderlike ontwikkeling ("apartheid"). Met die bewindsoorname van die ANC in April 1994 implementeer laasgenoemde 'n sosialisties-kommunistiese regeerstelsel. Onafhanklikheid (die konstante) is nie hierdeur geraak toe die regeerstelsel (die wisselende) verander het nie.

Onafhanklikheid (31 Mei 1961) is nie primêr 'n partypolitieke (ANC,DA, EFF, ens) aangeleentheid nie, maar wel van nasionale aard vertolk binne internasionale konteks. Onafhanklikheid is die grootste samebindende gemene deler in 'n burgerlike eenheidstaat en mag nie (partypolities) verpolitiseer word nie, maar moet wel deur die ganse burgery erken, gerespekteer en koesterend verdedig word.

Uitwissing van die onafhanklikheidsgedagte (31 Mei 1961) uit die nasionale geheue is wel eng ideologies te verklaar, dog nie rasioneel-histories nie.




Tuesday 1 June 2021

Suid-Afrika nie meer dié rolmodel nie


 


 

Suid-Afrika is by die onlangse Israeli-Palestynse botsing betrek in dié sin dat ons land dan sou dien as internasionale rolmodel vir vreedsame versoening tussen strydende partye, en derhalwe ook vir dié Midde-Oosterse kwessie.

 'n Onlangse artikel van die FW de Klerk-stigting: "Israel & Palestine: SA is no longer an example to be emulated", meld die volgende voorbeelde as rede vir dié statusverlies van ons land as versoeningsmodel: minderheidsgroepe se kulturele en taalregte word ernstig bedreig; onbillike rassediskriminasie kom toenemend voor; die kultuur en -geskiedenis van minderheidsgroepe word uit die nasionale identiteit verdring, hul ekonomiese beweegruimte word toenemend ingeperk terwyl grond en eiendom sonder vergoeding onteien staan te word.

 Van grondeienaars sê die President: " they are not the rightful owners of land..., not really part of 'our' people..(and) the bearers of the original sin of their ancestors..." Sulke uitsprake bring mee dat dié beskuldigdes nie langer meer welkom voel in hul geboorteland nie. Waar blyk die versoening hieruit?

  'n Owerheid wat, ten spyte van ons Grondwet en Handves van Menseregte, minderheidsgroepe so behandel, kan sekerlik nie as model vir versoening beskou word nie. Suid-Afrika is ongetwyfeld nie meer dié rolmodel vir versoening wat die internasionale gemeenskap aan hom toegeken het nie.

(ngn)