Om te laat inent of nie in te ent teen die viruspandemie nie, is tans een van die dringendste nasionale vrae. Beantwoording hiervan val uiteen in twee kampe: inenters en nie-inenters.
Die belangrikheid van kudde-immuniteit deur inenting kan nie onderskat word nie. Beide kampe word gekenmerk deur meriete, dog ons vind aanvalle op nie-inenters wat nie oor dieselfde openbare platforms beskik om hulself te verdedig nie.
Een facebook-inskrywing verwys na "kamstige dokters...kwakke (wat)...onsinnigheid uitgeryg het...oor die entstowwe (en dié)...wat toekyk wat met die res gebeur wat die oorlog namens hulle voer."
Tydens die RSG-program, Praat Saam, huldig prof Anton van Niekerk dieselfde sentiment as die facebook-inskrywing met die RSG-programaanbiedster ("onafhanklik en onpartydig") wat haar steun openlik aan hom toesê.
Vir diegene wat antwoorde soek - ook buitelands - bied die wyer mediaspektrum talle voorbeelde van onrusbarende newe-effekte van inenting op individue waarvan sommige selfs noodlottig. Deur stawende voorbeelde hier aan te haal , mag die indruk gewek word dat ek 'n anti-inentingskampanje voer wat beslis nie so is nie. Ek pleit egter vir diegene wie se omstandighede sodanig is dat hulle huiwerig is, en ons hulle nie moet veroordeel nie.
Ons het ontsag vir die finaliteit van die dood, en kan mense nie verkwalik - nog minder veroordeel - vir hul vrees vir die onsekerheid van inenting nie. As individue verskil mense onvoorspelbaar dramaties van mekaar - een kom niks oor; die volgende dodelik siek.
Dit is jammer dat sommige ander veroordeel sonder inagneming van riskante omstandiighede. Waarom dan nie ook diiegene veroordeel wat nie die basiese protokolle eerbiedig nie?
Die billikheid van veroordeling van nie-inenters moet bevraagteken word.
No comments:
Post a Comment