Sunday, 21 May 2017

Versaak Afrikaners hul volksidentiteit?

'n Aap kan uit die bos verwyder word, maar nie die bos uit sy aapnatuur nie. Hy behou sy aapidentiteit instinktief. Mense is anders. Hulle kan hul identiteit versaak, en 'n vreemde aanneem.

Die Europese Parlement se oopstelling van nasionale grense   -   en strewe na die uiteindelike afskaffing daarvan   -   is 'n duidelike teken van die prysgawe van Europese identiteite as gevolg van 'n eenwêreld globaliseringsaanslag.

Met die lees van historiese werke oor die Afrikanervolk se langdurige stryd teen Britse imperialisme, konfronteer die vraag na identiteitsversaking my, en wel sodanig òf die huidige geslag Afrikaners steeds hul volksidentiteit behou, òf aan die prysgee is,terwyl volke Skepperverordinerende mense-indelings is (Deut.32:8).

Ek kan nie my mede-erfgenaamskap van die Afrikanervolksverlede ontken nie. Soos etnisiteit, is ook volksheid nie 'n Grondwetlike oortreding nie. Behoud, of prysgawe, van ons volksidentiteit berus by onsself. Is ons bereid om ons volkstatus versakend te verruil vir dié van 'n etniese minderheidsgroep; allermins as tevredestellende toegewing aan volksvyandiges?

Antjie Krog (09.11.09) suggereer dat Afrikaners herdefinierend sal transformeer. Verwag sy dieselfde van ander etniese minderheidsgroepe? Ons volkwees, verwerf deur bloed, sweet en trane op die volkspad, is geen Grondwetlike oortreding nie.

Die gelyknamige hoofkarakter in Van Melle se boek, "Bart Nel", sê teen die verhaaleinde: "Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy."

Wie van Antjie Krog of Bart Nel vertolk ons huidige volksvisie ten beste in die lig van die vraag of Afrikaners besig is om hul legitieme volksidentiteit te versaak?






Monday, 8 May 2017

Gesprekvoering lyk nie prakties haalbaar


Michael Pickstone-Taylor (04.05) erken dat "Afrikaners beslis nie die enigste oorsaak van die rasseproblematiek in Suid-Afrika is nie...'n saak met baie kante...(en) gesprekke nodig is om ons land te versoen..." Teoreties maak gesprekvoering sin, maar is dit prakties haalbaar? Dit ly te betwyfel. Waarom?

'n Studie van die paradigmaverskynsel bring ons tot die besef dat paradigmas   -   opererende binne dieselfde konteks soos die wetenskap, politiek, staatkunde, ekonomie, ens.   -   meestal botsend onversoenbaar is, lewens-  en wêreldbeskoulik radikaal van mekaar verskil, en nie dieselfde "taal" praat nie sodat interparadigmatiese kommunikasie daarom byna onmoontlik is.

Ook kultuur word binne paradigmatiese kontekste beoefen. 'n Interkulturele gesprek is daarom 'n interparadigmatiese gesprek met al die genoemde beperkinge daaraan verbonde. Dit is juis waarom die multikulturele "reënboognasie" dusver misluk.

Tydens so 'n gesprek, egter, behoort konsensus verwag te kan word dat, met die vroegste ontmoeting van Afrika en Europa, laasgenoemde kultuur 'n ontwikkelingsvoorsprong op eersgenoemde kultuur gehad het   -   aan-  én bewysbaar met 'n legio voorbeelde uit die Europese materiële kultuur   -   asook dat die Afrikakultuur geleidelik, ongedwonge en spontaan Westerse kultuurgoedere tot voordeel van, en binne, die eie geïnkorporeer het deur akkulturasie; waarvoor die wit kultuur géén erkenning ontvang nie. Dié konsensus is hoogs onwaarskynlik.

Pickstone-Taylor se gespreksgedagte word eers lewensvatbaar indien 'n sintese tussen die kulture van Afrika (tese) en Europa (antitese) gevind kan word. Dit is hoogs onwaarskynlik, omdat die wetenskapsfilosoof, Thomas S.Kuhn, in sy bekende "The Structure of Scientific Revolutions" beweer dat paradigmas (ook kultuur-) deur rewolusies omver gewerp word.