Michael Pickstone-Taylor (04.05) erken dat "Afrikaners beslis nie die enigste oorsaak van die rasseproblematiek in Suid-Afrika is nie...'n saak met baie kante...(en) gesprekke nodig is om ons land te versoen..." Teoreties maak gesprekvoering sin, maar is dit prakties haalbaar? Dit ly te betwyfel. Waarom?
'n Studie van die paradigmaverskynsel bring ons tot die besef dat paradigmas - opererende binne dieselfde konteks soos die wetenskap, politiek, staatkunde, ekonomie, ens. - meestal botsend onversoenbaar is, lewens- en wêreldbeskoulik radikaal van mekaar verskil, en nie dieselfde "taal" praat nie sodat interparadigmatiese kommunikasie daarom byna onmoontlik is.
Ook kultuur word binne paradigmatiese kontekste beoefen. 'n Interkulturele gesprek is daarom 'n interparadigmatiese gesprek met al die genoemde beperkinge daaraan verbonde. Dit is juis waarom die multikulturele "reënboognasie" dusver misluk.
Tydens so 'n gesprek, egter, behoort konsensus verwag te kan word dat, met die vroegste ontmoeting van Afrika en Europa, laasgenoemde kultuur 'n ontwikkelingsvoorsprong op eersgenoemde kultuur gehad het - aan- én bewysbaar met 'n legio voorbeelde uit die Europese materiële kultuur - asook dat die Afrikakultuur geleidelik, ongedwonge en spontaan Westerse kultuurgoedere tot voordeel van, en binne, die eie geïnkorporeer het deur akkulturasie; waarvoor die wit kultuur géén erkenning ontvang nie. Dié konsensus is hoogs onwaarskynlik.
Pickstone-Taylor se gespreksgedagte word eers lewensvatbaar indien 'n sintese tussen die kulture van Afrika (tese) en Europa (antitese) gevind kan word. Dit is hoogs onwaarskynlik, omdat die wetenskapsfilosoof, Thomas S.Kuhn, in sy bekende "The Structure of Scientific Revolutions" beweer dat paradigmas (ook kultuur-) deur rewolusies omver gewerp word.
No comments:
Post a Comment