Showing posts with label Afrikanervolk. Show all posts
Showing posts with label Afrikanervolk. Show all posts

Wednesday, 20 May 2020

"Trofee"-bybels kom terug huis toe




Die personeel van die New Zealandse (NZ) skool waar my dogter onderwys gee, geïnspireer deur onlangse historiese navorsing, beoog die samestelling van 'n resepteboek. Tradisioneel historiese gebakresepte, vergesel van foto's, word gevra   -   ook van Suid-Afrika.

Historikus Nigel Robson se navorsing oor NZ se deelname aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), en die uitwerking daarvan steeds op die NZ-samelewing, laat my kind dink aan resepte uit dié historiese tydperk soos rooster-,  vetkoek, potbrood en beskuit.

Robson se navorsing sou lei tot 'n hernieude veldtog om veral geroofde bybels terug te stuur na Suid-Afrika. Soms met, maar meer dikwels sonder, toestemming van hul Briitse offisiere, het soldate plaaswonings geplunder voor die afbranding daarvan.

Veral bybels was gesogte "trofeë" wat na Brittanje, Australië en New Zealand verskeep is. Boere het dikwels waardevolle dokumente, soos testamente, in bybels bewaar. Kan ons ons die ontsteltenis voorstel van 'n oorsese familie wat so 'n bybel ontvang waarvan die afsender intussen al gesneuwel het?

Vanaf 1903 is New Zealanders, asook by verskeie geleenthede daarna, versoek om sulke geroofde bybels na hul eienaars terug te stuur. Heelwat bybels is in NZ-biblioteke uitgestal, soos ook genl. Piet Cronje se bybel in die Britse Laerhuis in Londen. In 1947 het koning George VI wyle president Paul Kruger se bybel aan die Afrikanervolk terug besorg.

Iemand het opgemerk dat Afrikaners verreweg die meeste bybels besit, maar dit vandag die minste lees. Bevat dié oorlogtydse bybeldiefstal dalk 'n boodskap van simboliese betekenis vir kontemporêre Afrikaners?








Wednesday, 18 March 2020

Moet ander ons aan ons volkstrots herinner?




Die Kroonstadse konsentrasiekampbegraafplaas, waar meer as 2 000 vroue- en kinderoorlogslagoffers begrawe lê, is onlangs deur riool- en afvalwater oorstroom. Vir die Afrikakultuur is voorvadergrafte van wesensbelang en selfs 'n aanspraakkriterium vir grondeienaarskap.

Gekenmerk deur wreedheid, verwoesting, lyding en dood, is oorlog geen spel met -reëls nie. Die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) is geen uitsondering nie. Britse militêre owerhede het vrouens, kinders en bejaardes onder onmenslike omstandighede in konsentrasiekampe aangehou terwyl plaaswonings afgebrand, groot- en kleinvee gedood en gesaaides vernietig is.

Redakteurs Albert Grundlingh en Bill Nasson se publikasie: "Die Oorlog Kom Huis Toe: Vroue en gesinne in diie Anglo-Boereoorlog", met meer as 300 aangrypende foto's, maak gevoelloosheid onmoontlik.

Eensydige ANC-geskiedskrywing gaan ontkennend om met wit Afrikaners en die -volk se ontwikkelingsbydraes tot Suid-Afrika. Die ANC-gifpen is nie in staat tot gebalanseerde geskiedskrywing nie.

As indiwiduele Suid-Afrikaners skakel ons in by 'n groep soos 'n volks- of etniese groep, en beskik derhalwe ook oor 'n volks- of etniese trots binne die groter nasionale trots. Alhoewel grondwetlik gelyk, erken ANC-kriteria "the people" se etniese trots; nie volkstrots nie. Onder selfs die haglikste omstandighede het Afrikanervroue in die kampe egter nooit hul volkstrots prysgegee nie. En ons vandag?

Vroeëre Britse imperialistiese volksvernietiging vind vandag 'n geesgenoot in die ANC wat talle Afrikaners reeds tot selfopgelegde ballingskap gedwing het. New Zealanders sien graag dat sulke emigrante hul eie volkstrots, getuigende ook van integriteit, behou. Speel die Springbokke op New Zealandse tuisbodem, verwag die Kiwi's dat SA-emigrante die Bokke sal ondersteun as demonstrasie van hul volkstrots, en nié die All Blacks nie. Moet die buiteland ons vandag aan ons volkstrots herinner?                                                                                                                                     
                                                                                                                                                   (ngn)




Tuesday, 19 November 2019

Respekteer reg op eie identiteitsvorming



Christi van der Westhuizen is by heelparty Afrikaners bekend vir haar fel kritiek teen hulle. Haar: "Afrikaner identity in post-apartheid SA remains stuck in whiteness", is tekenend daarvan.

Sy beweer dat Afrikaneridentiteit (Ai) na 1994 radikaal uitgedaag word, met haarself as 'n voorste uitdager. Maar waarom dan net Ai uitdagend uitsonder ? Wat ook van die ander SA identiteite?

Gesien deur haar "lens van ordentlikheid"   -  haar begrip vir die samehang van identiteits dimensies   -   is Ai vir haar egter van 'n minder "wit" aard as die identiteit van Engelssprekendes wat versterk word deur wêreldwye Anglo "witheid".

Sy sê Afrikaner "witheid" verskil paradoksaal van dié van die Engelse identiteit wat van 'n sosiale meerderwaardigheid getuig. Afrikaner teenstand teen laasgenoemde sou lei tot "volkstrots". Histories gesien, is sy korrek.

Dat sommige Afrikaners verengels, is ongelukkig waar. Sy beweer dat sodanige anglisering tot die versterking van Afrikaner "witheid" lei. Regtig? Behou sulke verengelsde Afrikaners steeds hul tipiese Ai ten spyte daarvan dat Afrikaans, 'n dimensie van Ai, deur Engels, 'n dimensie van die Engelse identiteit, vervang word?

Vir Van der Westhuizen behou verengelsde Afrikaners hul Ai en word diesulkes se "witheid" deur Engels versterk. Dus: in plaas daarvan om nie net "witheid" te transendeer nie, maar ook ras en rassisme (wat 'n bevooroordeeldheid), word Afrikaner "witheid" egter deur verengelsing versterk.

Bemoeienis met ander se identiteit om dit te wil beoordeel, en selfs te wil voorskryf, pas ons nie. Eie identiteitsvorming is deel van ons menseregte. Nee, laat ons waak teen beterweterige veroordeling van identiteite wat ons nie aanstaan nie. Respekteer liewer alle mense, ook wit Afrikaners se "volkstrots" as 'n dimensie van hul Ai   -   soortgelyk aan "etniese trots" aanwesig ook by ander groepsidentiteite   -   se grondwetlik demokratiese reg op eie identiteitsvorming.


Tuesday, 5 February 2019

Help ander, ja, maar help ook die eie




Hulle woon dig saamgehok in die agterplaas van 'n spazawinkel in die onderdorp in lekkend verweerde woonwaens en kinderspeelhuisies (wendy houses)   -  werkloos, inkomsteloos en op aalmoese aangewese.

Dikwels staan hulle by verkeersligte en stopstrate met 'n blikkie in die hand, klop aan ons voordeure met versoeke om voedsel en/of geld, en krap selfs in vuilgoedsakke ten einde gesinne te kan onderhou, hulle wie se selftrots hulle lank reeds ontneem is met ons wat verkies om liewer anderpad te kyk as in hul oë.

Wie is die "hulle" wat, gestroop van hul menswaardigheid, onder haglike omstandighede leef? Vir my is hulle my ras-, taal-, geloofs-  en volksgenote wat 'n uitsiglose toekoms onder 'n onsimpatieke, dikwels wraaksugtige en korrupte ANC-regering tegemoet gaan.

My genootlike identifisering met dié uitgestotenes sal waarskynlik as rassisties, fundamentalisties en derhalwe deur sommige politiek korrektes as 'n gevaar vir die nasionale ideologie van sosialisme-kommunisme beskou word.

Op my rekenaarskerm verskyn daar gereeld 'n herinnering aan mammas van voorskoolse kleuters om tog nie daardie ekstra broodjies op 'n Vrydag vir ons Kwa Nobuhle-maatjies te vergeet nie. Prysenswaardig en verdienstelik dié uitreiking (nie hier gemeld as kritiek nie), maar wat dan ook van ons eie volksmaatjies wat swaarkry?

Durf ons toelaat dat die druk van politiek-korrek-wil-wees ons gesonde prioriteite-oordeel   -   betreffende ons ingesteldheid teenoor ons eie volkslede   -   sal beïnvloed? Laat ons derhalwe nie die een ding doen en die ander nalaat nie.








Sunday, 24 June 2018

Gelofteverbreking lei tot strafgerig




Die eens trots volwassewordende Afrikanergemeenskap bevind hom op 'n pad van vernietiging. Redes daarvoor is van 'n eksterne sowel as interne aard. Betreffende laasgenoemde rede, werp Flip Swanepoel, vanuit 'n historiese perspektief, in 'n interessante artikel meer lig daarop.

Swanepoel beweer dat die Trekkers, en veral hul nasate, nie die Gelofte van 16 Desember 1838 getrou nagekom het nie. Die gevolg was die verlies van ZAR-onafhanklikheid in 1877 toe Shepstone dié republiek onder Britse vlag geannekseer het.

In Desember 1880 is die Bloedrivier-gelofte hernu, asook 'n nuwe een by Paardekraal deur klipstapeling met God gesluit. Die oorwinning oor die Britte by Majuba in 1881 en daaropvolgende herstel van onafhanklikheid, word vertolk as die resultaat van dié hernude geloftesluiting.Wéér is dié geloftes verwaarloos wat kulmineer het in die verwoestende Tweede Vryheidsoorlog   -  gelofteverbreking wat sou lei tot strafgerig.

Ook vandag word, lank reeds nie meer, dié geloftes eerbiedig nie. Hedendaagse Afrikaners móét toegee dat hulle hulself ook op 'n pad van selfvernietiging geplaas het, en nie net ander daarvoor moet blameer nie. Waarskynlik is Afrikaners die mense wat die meeste Bybels besit, maar dit nog die minste lees, en daarom nie weet wat in Deuteronomium 23:21-23 geskryf staan nie: "As jy aan die Here jou God 'n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie..."

Gesien vanuit 'n historiese perspektief, moet Afrikaners vandag, primêr, selfblaam aanvaar vir die situasie waarin hulle hulself bevind.






Tuesday, 20 March 2018

Offers van ons Willie Steyns ongedaan gemaak?



In sy Oop Kaarte (09.03) sê Murray La Vita vir lesers waaraan Petrovna Metelerkamp haar Russiese naam te danke het, te wete vanaf haar oupa, Willie Steyn, 'n Afrikaner-volksheld vanuit die tyd van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902).

In sy boek, "Die Vyf Swemmers", vertel prof.C.J.Barnard die nagevorsde ware verhaal van Boerekryger Willie Steyn en sy makkers, gevang op die Vrystaatse slagveld en na die Groenpuntse krygsgevangenekamp vervoer. Na verskeie ontsnappingspogings word hulle per skip na Ceylon verban. Onderweg daarheen ontsnap hy en vier makkers in die hawe van Colombo, opgepik op 'n goedgesinde Russiese skip, en beland so in Rusland waar hy verskeie heldeontvangstes beleef.

Vasberade om na die Vrystaatse slagveld teen die Britte terug te keer, reis Willie Steyn vanaf Colombo na die Krim, Swart See, Oossee, St Petersburg, Hamburg, Lüderitzbucht en die Hantam terug na sy kommando, en neem dié onverskrokke Boerevolksheld weer die wapen na vele ontberinge teen die vyand op. Wat 'n voorbeeld van lojale patriotisme en heldemoed waarop die nageslag trots kan wees.

Ken ons as Afrikanernageslag die verledehelde, en eer ons nog hul nagedagtenis? Oënskynlik nie. In 1972 reeds het die historikus, M.A.S.Grundlingh, beweer: "...die huidige geslag jongmense is die enigste in die geskiedenis van die mensdom vir wie die lotgevalle van sy voorgeslagte grotendeels onbenullig skyn te wees."

Dit blyk dat, in kort tydsbestek, ANC-transformasie inisiatiewe suksesvol daarin geslaag het om ons Afrikaner-volkstatus   -   met ons medewerkende volksdefaitisme   -    te verlaag het na dié van 'n etniese minderheidsgroep. Maak ons tans die Willie Steyns se offers van goed en bloed ongedaan vir die nageslag deur afstanddoening van ons volkskulturele erfenis?








Monday, 11 December 2017

Laat ons trou bly aan die Gelofte




Dingaansdag, Geloftedag, Versoeningsdag   -   opeenvolgend beklemtonende name vir die historiese Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838. Om goeie redes heg nie alle Suid-Afrikaners dieselfde betekenis aan dié dag nie.

Naamgewing beklemtoon die sentraalstelling van iets kernbelangrik. As Afrikanernasaat staan die 1838-Gelofte vir my sentraal; vandaar my keuse vir Geloftedag, dog sonder uitsluiting van die versoeningsgedagte.

Beide rolspelers en gebeureverloop van 16 Desember 1838 is histories onomkeerbaar, 'n oorlewingstryd om volksvoortbestaan vir die Trekkers teen 'n Zoeloe-oormag van tussen 12 000 en 15 000 krygers waartydens 'n Goddelike ingryping sou geskied.

Vanwaar die Trekkers en waarom dié 1838-Slag? Selfs by vele Afrikaners is dié geskiedenis nie meer algemeen bekend nie. Na militêre verowering van die Kaap in 1806 word onverbiddelike Engelse gesag gevestig wat 'n vrye en onafhanklike bestaansruimte in die land van hul geboorte aan die Nederlandse koloniste   -   reeds vir 150 jaar gevestig   -   weier. Bekend as Trekkers, sou vele die onsimpatieke Engelse kolonie verlaat. Redes vir dié Trekbeweging is in Piet Retief se "Manifes" in "The Graham's Town Journal" van 02.02.1837 gepubliseer.

Die soeke na 'n nuwe tuiste bring die Trekkers uit by onderhandeling met Dingaan vir grondgebied, kom hulle sy voorwaardes daartoe na, volg 'n ooreenkoms, en word 'n traktaat mede-onderteken. Dingaan pleeg egter verraad deur Retief en sy manskappe te vermoor en etlike kleiner Trekgeselskappe word uitgewis.

Reaksie van Trekkerkant is 'n strafekspedisie teen Dingaan. Andries Pretorius neem hierin die leiding, en voorafgaande tot die Slag 'n Gelofte onder leiding van Sarel Cilliers teenoor God afgelê, wat uitloop op 'n Trekkeroorwinning op 16 Desember 1838.

Hoe vergelyk toestande in 2017 met dié van 1838? Na onderhandelinge (Kodesa) beskik ons oor 'n "traktaat" (grondwet). Die frontaanvalle op die 2017-slagveld is tans strategies-verraderlik veel meer kompleks as net militêr soos in 1838, steeds met dieselfde vernietigende doel. Dit pas ons dus om trou te bly aan die Gelofte.








Tuesday, 14 November 2017

Max verveel met sy kritiek op Afrikaners




Max du Preez besit die vermoë om Afrikaners wat van hom verskil grensloos te irriteer met sy volgehou aanvallende kritiek soos ook nou weer blyk uit sy "Afrikaners is nie spesiaal" (14.11). (Wanneer het Afrikaners gevra om 'n buite-grondwetlik spesiale posisie in SA?) Hierin gryp hy Swart Maandag van 06.11 se protes teen plaasmoorde as stok om Afrikaners mee te slaan.

Hy sê: "Ek is 'n Afrikaner...'n nasaat van Voortrekkers en Boerekrygers." Wie wil hy hiermeee beïndruk, en maak hy afkoms tot waarborg? Baie Afrikaners kan dieselfde sê. Aartskommunis Bram Fischer was die seun van die konserwatiewe Afrikaner-premier van die destydse Oranjerivier-kolonie (1907-1910), Abram Fischer. Nee, afkoms bied geen waarborg nie.

Max sê: "Ek is 'n ingeligte, denkende mens (wat)...die geskiedenis...ontleed en verstaan." Impliseer hy dat ander nie ook ingelig denkend en tot analise en begrip in staat is nie? Hoe korrek is sy "ontleding" as hy geen blyke toon van die bestaan van 'n Afrikanertipologie, waarvan hy slegs een tipe verteenwoordig, met ook ander tipes soos die volkse Afrikaner oor wie se koppe hy voortdurend vurige kole van kritiek uitgiet?

En hoe goed "verstaan" hy ons geskiedenis as hy na die ou landsvlag as "apartheidsvlag" verwys, 'n vlag wat na 'n lang parlementêre stryd in 1928 as Unievlag aanvaar is   -   20 jaar vóór die apartheidsbedeling   -   waaronder ook Afrikanerbloed gevloei het vir die vryheid van ander tydens WO2 en die Koreaanse Oorlog? Max is histories opportunisties. Net politiek korrektes verwys na 'n "apartheidsvlag".

Soos vele ander, ly ook Max aan oikofobie. Simptome van dié fobie is 'n selfafkeer en 'n "weg-met-ons" mentaliteit. Oikofobe toon 'n sterk neiging om hulle toegewend aan te pas by eisestellende groeperinge en spoor ook ander aan om dieselfde te doen onderweg na selfvernietiging.

Het ons nie nou al genoeg gehad van Max se vervelige getokkel op sy eensnarige Afrikanerkritiek-instrument nie?                 (ngn)









Monday, 2 October 2017

Vraag wat post-1994 Afrikaners konfronteer




Ek bewonder dr.Irving de Swardt se geloof wat spreek uit sy "Afrikaner sal regkom, soos tevore" (19.09), wetende dat Afrikaners by verskeie geleenthede in die verlede uit diepe ellende herstellend weer kon opstaan en "regkom, soos tevore". Gaan hulle dit dié keer ook weer regkry?

Het ons kenmerkende volkskarakter onveranderd dieselfde gebly as dié van ons strydende voorsate? Van wyle dr.D.F.Malan se aanmoediging om te glo in God, ons volk en onsself, gaan daar vandag weinig meer inspirasie uit. Wyle Siener van Rensburg het verwys na Afrikaners se "donkerste uur" in hul geskiedenis. Is dit dalk nou? Toe Simson die geheim van sy krag openbaar het, is hy geketting, sy oë uitgesteek en moes hy die vyand bespottend vermaak.

Doemprofesie? Nee. Realisme? Ja. My kommer oor ons volksvoortbestaan berus op eksterne sowel as interne oorwegings. Hoef enigiets bygevoeg te word by wat ons almal reeds weet   -   ekstern feitelik aanwysbaar   -   hoe die lot van wit Afrikaners, en hul toekomsvooruitsigte, sedert 1994 onder ANC-bewind verslegtend verander het?

Interne veranderinge binne die volkshuis is 'n selfs groter bron van kommer. Enkele voorbeelde: as vroeëre kerkvolk met 'n eie volkskerk is dié vernietig; die getransformeerde kerk het die volk die rug gekeer; die sterk band tussen huis, kerk en skool, waarbinne die volksjeug gevorm is, is vernietig; ons volksverlede word doodgeswyg; duisende talentvolle jong Afrikaners verhuis oorsee, terwyl werkloos verarmde volksgenote hul in wit plakkkerskampe bevind. Dié lys gaan voort.

Geoordeel aan ontwikkelinge in Duitsland, Nederland, Frankryk en Swede, word hard gepoog om nasionale-  en volksgrense te vernietig en volksidentiteite prys te gee in ruil vir burgerskap van 'n geglobaliseerde wêreldgemeenskap. Geld dieselfde die Afrikanervolk?

Na die mislukte 1914-rebellie om onafhanklikheidsherstel, sê J.van Melle se Bart Nel: "Ek is nog hy." Vandag, 100 jaar later, word die post-1994 Afrikaner gekonfronteer met die vraag: "Is ek nog hy?", die antwoord waarvan die voorwaarde is vir ons "sal regkom, soos tevore" Tensy sy wil om voortbestaan duidelik weerspieël word in sy antwoord, is dit ikabod met die Afrikanervolk.









Wednesday, 16 August 2017

'n Nou, miskende, verbygegane tydperk



In sy brief: "US:Uitnemendheid, nie maklikste" (DB,08.16), sê  Pieter Hurter dat die huidige US-rektor, prof.Wim  de Villiers,  die "maklikste opsie...voorhou wanneer kernprobleme om 'n oplossing vra." Dié "maklikste opsie (sal)...die doodskoot vir Afrikaans by die US beteken (en)...dié doodloopstraat is vir almal duidelik...behalwe vir...prof. De Villiers."

Sonder enige poging tot 'n vergelyking van US-rektore, tel ek my seëninge dat ek aan die US kon studeer tydens die rektorskap (1954-1969) van wyle prof.H.B.Thom, 'n nou, miskende, verbygegane tydperk.

Volgens wyle prof. Bun Booyens was hy die seun van 'n Paarlse onderwyser wat met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (1899) hom in die Vrystaat bevind, by die Boeremagte aangesluit, aan verskeie veldslae deelgeneem het, en uiteindelik na Indië verban is.

Vanuit huis, kerk en skool was prof.Thom 'n ware Afrikaner wie se invloed en oortuigings die ganse universiteits- en studentegemeenskap sestien jaar lank deursuur het. Hy het gesê "dat die Universiteit van Stellenbosch uit die nood van die Afrikanervolk gebore is (en)...in 'n diepe behoefte van die volk voorsien het; omdat hy al vroeg 'n volksuniversiteit geword het...Baie het daarvan gehou, baie ook nie."

Die Thom-tydperk het 'n omgewing geskep waarbinne ek, vanweë 'n gemeenskaplike taal-, kultuur- en geloofsomgewing, my volkome tuis gevoel het. Op al drie gemelde terreine, en nog meer, het prof.Thom sy stempel landswyd afgedruk.

Van hom het wyle dr.S.J.Gericke gesê: "Ek noem hierdie groot Afrikaner ook 'n groot Kerkman..", terwyl D.J.Viljoen, destydse hoofsekretaris van die FAK, gesê het: " 'n Mens sou boekdele kon skryf oor die aandeel wat hierdie man aan die georganiseerde kultuurlewe van die Afrikaner gehad het...", waarvan sy ywer vir die Afrikaanse taal 'n kernfaset was.




Monday, 5 June 2017

Nie almal vind identiteit in "ons" nie

Jeanette Snyman reageer betekenisvol met haar " 'Ons' moet groter as 'ek' word" (01.06) op my vraag na die potensiële versaking van ons volksidentiteit. Sy sê almal soek na " 'n identiteit met vastigheid" wat te vinde is "as die 'ons' belangriker word as die 'ek'..." Ongelukkig laat sy die "ons" en "ek" ongekwalifiseerd, blootgestel aan riskante vertolking.

Haar "ek" vertolk ek as die Afrikanervolk; haar "ons" as die multikultureel diverse SA-samelewing. In Snyman se "ons"-"ek"-verhouding beklee "ek" 'n ondergeskikte posisie. Moet die "ek" dalk geleidelik in die "ons" opgaan en uiteindelik daarbinne verdwyn, verskaffende " 'n identiteit met vastigheid"?

Indien wel die geïdealiseerde scenario, verteenwoordig dit die skimmige herrysenis van historiese figure soos lord Charles Somerset, sir Alfred Milner en genls. Louis Botha en Jan Smuts wat Afrikaners ("ek") hul volksidentiteit wou ontneem ten einde in die groter Britse "empaaier" ("ons") te verdwyn.

Gemelde persone verteenwoordig historiese krisismomente in ons volksbestaan, tydperke van die "toetsing" van Afrikaners vir die behoud òf prysgawe van hul volksidentiteit.Ook vandag staan Afrikaners voor dieselfde "toets"; vandaar my vraag na die behoud of prysgawe van ons volksidentiteit.

Ek vind Snyman se suggestie dat 'n identiteit wat nie in "ons" gevind word nie, " 'n struikelblok vir vreedsame naasbestaan (is)...(en) veglustig raak", as bevooroordeeld.  Almal vind beslis nie hul "identiteit met vastigheid" in "ons" nie.

Haar eie identiteit vind Snyman in assosiasie met rolmodelle soos Albie Sachs en Antjie Krog   -   eerder as Bart Nel   -   persoonlikhede met wie ek nie spontaan identifiseer nie. Ek gun Snyman egter die vinding van " 'n identiteit met vastigheid".




Sunday, 21 May 2017

Versaak Afrikaners hul volksidentiteit?

'n Aap kan uit die bos verwyder word, maar nie die bos uit sy aapnatuur nie. Hy behou sy aapidentiteit instinktief. Mense is anders. Hulle kan hul identiteit versaak, en 'n vreemde aanneem.

Die Europese Parlement se oopstelling van nasionale grense   -   en strewe na die uiteindelike afskaffing daarvan   -   is 'n duidelike teken van die prysgawe van Europese identiteite as gevolg van 'n eenwêreld globaliseringsaanslag.

Met die lees van historiese werke oor die Afrikanervolk se langdurige stryd teen Britse imperialisme, konfronteer die vraag na identiteitsversaking my, en wel sodanig òf die huidige geslag Afrikaners steeds hul volksidentiteit behou, òf aan die prysgee is,terwyl volke Skepperverordinerende mense-indelings is (Deut.32:8).

Ek kan nie my mede-erfgenaamskap van die Afrikanervolksverlede ontken nie. Soos etnisiteit, is ook volksheid nie 'n Grondwetlike oortreding nie. Behoud, of prysgawe, van ons volksidentiteit berus by onsself. Is ons bereid om ons volkstatus versakend te verruil vir dié van 'n etniese minderheidsgroep; allermins as tevredestellende toegewing aan volksvyandiges?

Antjie Krog (09.11.09) suggereer dat Afrikaners herdefinierend sal transformeer. Verwag sy dieselfde van ander etniese minderheidsgroepe? Ons volkwees, verwerf deur bloed, sweet en trane op die volkspad, is geen Grondwetlike oortreding nie.

Die gelyknamige hoofkarakter in Van Melle se boek, "Bart Nel", sê teen die verhaaleinde: "Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy."

Wie van Antjie Krog of Bart Nel vertolk ons huidige volksvisie ten beste in die lig van die vraag of Afrikaners besig is om hul legitieme volksidentiteit te versaak?          (ngn)






Thursday, 27 April 2017

Gebrekkige perspektief op wit Afrikaners

Frans Nel (DB,22.04) en Michael Pickstone-Taylor (DB,26.04) se beskuldiging van wit Afrikaners as alleenoorsaak van die rasseproblematiek in Suid-Afrika getuig van verregaande historiese onjuistheid. Elke saak het twee, en dikwels meer, kante  -  dié een ook.

Dit ontbreek dié skrywers aan 'n realistiese oop-gemoed historiese perspektief op die komplekse historiese ontwikkeling van ons land. Wit Afrikaners, teenoor wie hulle so venynig beskuldigend staan, het beslis nie sedert 1652 tot 1994 deurlopend oor die totale politieke en staatkundige gesag en mag beskik om daarmee almal te kon dikteer nie.

Wat leer ons uit histories opeenvolgende tydsgeeste (zeitgeists) waardeur mense- , rasse- en volkereverhoudinge hier te lande beïnvloed en gevorm is, tydsgeeste wat onderskeidelik kolonialisme, Britse Imperialisme, Afrikaner-nasionalisme en internasionale kommunisme gedryf het, asook, kontemporêr, sosialisties georiënteerde Afrika-nasionalisme dryf?

Kan wit Afrikaners verantwoordelik gehou word vir die opeenvolging van dié tydsgeeste en die invloed van elkeen daarvan op ons nasionale ontwikkeling? Beslis nie! Tog kies Nel en Pickstone-Taylor 'n gerieflik ongeoorloofde "snit" uit dié histories tydgeestelike spektrum   -   Afrikaner-nasionalisme   -   en fokus met oogklappe alleenlik daarop.

Kom ons verwyder die oogklappe wat lei tot 'n gebrekkige perspektief op die volledige historiese werklikheid, en kom ons staak ook om mense te wil voorskryf oor wie skuldig is en verskoning moet vra.




Thursday, 21 July 2016

Heilige graal oor Afrikaner steeds nie gevind

Petrus lewer 'n, Giliomee-gerugsteunde, verdienstelike bydrae (DB,19.07) tot die Afrikanergesprek. Tog verteenwoordig dié bydrae maar net nog een van vele meer uiteenlopende eietydse vertolkings van die Afrikaner, en -volk, onder veranderde omstandighede.

Sentraal in dié Afrikanergesprek staan identiteit   -   en die behoud of verlies daarvan   -   die belangrikheid waarvan deur Petrus onderbeklemtoon word, en so 'n leemte in sy beredenering laat. Ons leef juis in 'n tyd wat 'n identiteitlose wêreldgemeenskap gepropageer word.

Om op 'n spontaan ongedwonge wyse met mense en "dinge" te identifiseer, is tipies, soos, byvoorbeeld, 'n seun met sy pa en 'n dogter met haar ma. Dit geld eweneens die ongedwonge identifisering met Afrikanerwees en die  -volk. Op identifisering volg assosiëring op grondslag van keusevryheid tot assosiasie of dissosiasie. Op assosiasie volg konformering   -   om ingebind te word met diegene met wie geïdentifiseer en geassosieer word, soos pa-seun en ma-dogter.

Die besluitnemingsreg van elke individu word onderlê deur die keusevryheid met wie jy wil identifiseer, assosieer en konformeer. Dié reg geld ook binne die Afrikaner-  en -volkskonteks. In my brief (DB,16.07) , volgens my keusevryheid, verwys ek na myself as 'n Euro-Afrikaner. Petrus maak hierteen beswaar wanneer hy sê: "Name soos Euro-Afrikaner...toon neigings tot ideologiese nasionalisme wat weinig bydra om eenheid in diversiteit te bevorder.."

Ek verneem graag van Petrus of alle nasionalismes (in die algemeen) dan van ideologiese aard is; of Afrikaner-nasionalisme (in die besonder)   -   volkse Afrikaners is tans juis gewikkel in 'n oorlewingstryd om identiteitsbehoud   -   ideologies is, asook van watter kriteria hy gebruik maak ten einde ideologiese nasionalisme te bepaal.

Om ook uitsluitlik "eenheid in diversiteit te bevorder", is tegelyk wanbalansig, onbillik en oneerlik. Ook diversiteit in eenheid het gelyke aanspraak op erkenning en bevordering. Dié twee moet in harmoniese ewewig verkeer.

My oorwoë mening is dat ook Petrus nie daarin slaag om die heilige graal, oor presies wie en wat die Afrikaner is, te vind nie.







Monday, 4 July 2016

Hoe word dié aanstootlike boektitel verduidelik?

'n Vriend leen my Francois Smith se boek, "Kamphoer", om my mening daaromtrent te hoor. Self sou ek dit nie sommer aankoop nie. Die titel wek by my 'n voorlopig agterdogtige vermoede van die moontlikheid van 'n poging tot Afrikanerverguising soos dié gevind by Robin Binckes.

In "Seks, dwelms en volkspele" vertel Kirby van der Merwe (BY/DB,21.01.12) van Robin Binckes se debuutroman, "Canvas under the sky", waarin Binckes van die allerwalglikste leuens oor die vroegste Afrikanervroue kwytraak in 'n poging tot volksverguising, met Binckes in die posisie van toergids oor die Afrikanerverlede by die Voortrekkermonument.

Binckes sê ons volksmoeders was "wulps en sedeloos...(wat) op die katel in mekaar se arms troos gevind het...(en) 'n vrou wat tydens die Slag van Vegkop twee mans na haar wa lok vir groepswoeps."

My aanvanklike vermoede dat "Kamphoer" dalk in dieselfde Afrikaner-verguisend vulgêre styl van Binckes geskryf mag wees, moet ek, na my lees daarvan, egter laat vaar. Wat wel pla, is die titel van die boek, "Kamphoer". Waarom dié aanstootlike boektitel?

Op die agterblad van die boek vind die voornemende leser die volgende: " 'Kamphoer' is die ware verhaal van 'n vrou wat gedurende die Anglo-Boereoorlog wreedaardig verkrag en vir die aasvoëls gegooi is"   -   die verkragters twee Britse offisiere en 'n Boere "Scout" (Joiner).

Nêrens in die verhaal word enige sweem van aanleidende seksuele aktiwiteite van dié vrou gevind wat haar as hoer tipeer nie. Nee, inteendeel, sy was die tragiese slagoffer onder uiters haglike kampomstandighede. Waarom dan dié karakterskendend aanstootlike voorstelling van 'n verkragtingslagoffer onder die titel van "Kamphoer"? Dalk in navolging van Nico Moolman se boektitel, "The Boer Whore", oor dieselfde vrou, sensasie, leserskok, verkope of literêre vryheid? Kan enige welingeligte dalk lig op dié vraag werp?







Monday, 25 April 2016

Ons ly aan volkshistoriese miopie

Ons besoek 'n ernstig siek weermag-gepensioneerde swaer  -   wonende op 'n wildsplaas buite Thabazimbi in Limpopo   -   reeds drie maande in 1 Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte, Pretoria.

Die afstand na die plaas is 1250 km en vandaar 'n verdere 200 km na Pretoria. Dié urelange rit bied ruim geleentheid vir allerlei denk-  en verbeeldingsvlugte. Die verbyflitsende landskap voer my gedagtes terug na twee besondere historiese gebeurtenisse uit ons Afrikanervolksverlede: die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog.

Voortsnellende deur die (tegelyk historiese) SA-landskap, probeer ek my voorstel hoe die Voortrekkers met hul waens, gesinne   -   aandgodsdiens by lantern-  en vetkerslig   -   en groot-  en kleinvee, al gevare-trotserend, die ongetemde wildernis binne getrek het. Verkenners sou vooruit die beste roete soek; veral waar spruite en riviere oorgesteek kon word. Later sou uit sweetmergelend moeitevolle ontbossing vrugbare landerye tevoorskyn kom. Hieruit dié gedagte: dink ons nageslag nog met dankbaarheid terug aan dié baanbreker-pioniers?

In groot gerief snel ons voort op ons roete deur 'n oorlogslandskap van bietjie meer as honderd jaar gelede. Met heelwat verbeelding word die murasies van afgebrande plaaswonings sigbaar, en galopperende perdehoefslae, knarsende Engelse soldatestewels, geweervuurknetter en fluitende liddietskrapnel hoorbaar. By Springfontein, Bloemfontein, Brandfort en Klerksdorp staan tentery op tentery en uitgeteerde kinders agter doringdraadversperrings van Britse konsentrasiekampe. Dieselfde gedagterefrein: hou ons nog hulle nagedagtenis in ere?

Die roete na ons siekebesoek aan 1 Militêre Hospitaal loop langs die Voortrekkermonument verby, by uitstek dié simbool van ons volkswording. My vraag: wat weet ons Afrikanerjeug van ons volksverlede, 'n verlede wat die ANC aan't uitwis is op skool, maar waaraan ouers self ook verwaarlosend aandadig is? Wat sal ons reaksie wees indien dié monument ons deur nasionalisering ontneem sou word? Ek vermoed een van verlede-rugkerende apatie, want ons ly aan volkshistoriese miopie.            (ngn)




Tuesday, 1 March 2016

De Lange toon gebrek aan perspektief

Oor alle eeue heen moes mense nog altyd dinge en gebeure in hul omgewing vertolk het, vanaf die eenvoudigste tot die mees komplekse. Ook die verlede is voortdurend onderhewig aan vertolking en hervertolking.

By die lees van Duifie de Lange (DB,01.03) se brief waarin sy sê: "Dit is arrogant om 20 jaar (later)...steeds daarop aan te dring dat universiteite Afrikaans moet wees...Afrikaners te onnosel om in Engels te studeer?... tyd dat ons Afrikaners volwasse raak...as ek van 'n ander bevolkingsgroep was, sou ek ook...die Afrikaners met alles in my gehaat het", is dit duidelik dat dié opmerkings haar uiters aanvegbare vertolkingsuitsprake oor die Afrikanerverlede verteenwoordig.

Wat my betref, word haar vertolking gekenmerk deur 'n totale gebrek aan objektiwiteit, billikheid, historiese balans,onbevooroordeeldheid en gebrek aan perspektief op die verlede. Probeer sy iemand hiermee ter wille wees, veral met haar sterk suggestie van haat vir Afrikaners, simpatiserende met Afrikanervyandiggesindes?

Tyd is dinamies en omstandighede verander. Vroeër geldende maatstawwe geld nie meer vandag nie. Om veranderde maatstawwe wat vandag geld op die verlede toe te pas, getuig van onkunde, perspektiefloosheid en/of moedswilligheid. Ek meen De Lange maak haar juis hieraan skuldig deur verlede-omstandighede volgens hede-maatstawwe te beoordeel. Dit getuig van onverantwoordelike en goedkoop, dog gevaarlike, sensasiesoeke.

Die nodige ruimte ontbreek om De Lange se onwaar stelling van Afrikaner-selfsug te weerlê.        (ngn)




Thursday, 17 December 2015

Geloftedag se Afrikaner hou koers-bakens

Geluk, en baie dankie, aan die Geloftefeeskomitee van Despatch vir 'n baie geslaagde aanbiedingsprogram van dié jaarlikse volksfees. Hulle het daarin geslaag om, in die persoon van dr.Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en spreker van formaat, hom vir die hou van die feesrede sowel as die Geloftediens te bekom.

Visueel toeligtend, het Langner tien hou koers-bakens aan feesgangers voorgehou. Piet Retief se manifes waarin die Afrikanerkarakter reeds na vore kom. Andries Pretorius as simbool van 'n vrye en onafhanklike volksbestaan. Thaba N'Chu waar die Trekkers se demokratiese ingesteldheid beslag gekry het. Hoewel vreedsaam ingestel, sou hulle by Vegkop verdedig dit wat vir hulle kosbaar was.

Die trek oor die Drakensberge na Natal simboliseer die skeiding tussen die verlede en 'n nuwe toekoms. Goeie verhoudinge was die grondslag vir grondonderhandelinge   -   allermins grondroof! 'n Versorgende gemeenskap kristalliseer na die Retief-  en daaropvolgende moorde. Bloedrivier vertel van 'n afhanklikheid van God   -    'n "kyk-op-en-vertel". Anna Steenkamp plant akkerboomsade van Wellington by Groenvlei, Lindley   -   "plant-met-geloof". Voorgeslagspore word bevestig, dog trap ook nuwe spore.

Indien volkse Afrikaners vandag binne die polities-korrekte nasionale landskap na medevolksgenote soek en kwalik meer kan vind, is 'n Geloftefees die plek waar diesulkes nog te vinde is. By hulle is daar nog 'n identiteitstrots en strewe na 'n  -behoud, verweef in 'n lotsverbonde behorendheid, te vind.




Monday, 2 November 2015

Afrikanervoortbestaan nie verhinder nie

Max du Preez ontsien geen geleentheid waartydens hy 'n stok kan vind om wit Afrikaners mee te slaan nie. Sy artikel: " 'n Moeilike tyd vir witwees" (DB,31.10), getuig daarvan. 

Hy skets 'n algemene scenario van wit bedreigdes deur Julius Malema aan te haal wat sê: "As dié revolusie begin, gaan die wit minderheid die slagoffers wees", asook die ANC-standpunt wat "wit Suid-Afrikaners as die primêre sondebokke" uitwys.

Max verskuif dan die fokus na die scenario van wit Afrikaners as besondere bedreigdes wanneer hy teoloog Nico Smith namens homself laat praat: "sal hulle (wit Afrikaners) uiteindelik uit die geskiedenis van Afrika verdwyn...as daardie wrede wit stam wat eens 'n deel van Afrika vir hulself opgeëis en toe verdwyn het." Nie net Max begeer die verdwyning van wit Afrikaners nie. Sedert 1806 was dit ook die begeerte van die Britse Imperiale owerhede.

Toestande in die Britse konsentrasiekampe, waar duisende van ons volksgenote tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gesterf het, was haglik. In die Bethuliekamp het Anette Marais die vroue bemoedig met Matteus 10:29 : "Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie."

Tot almal se verbasing verskyn daar plotseling 'n mossie vanuit die niet en gaan op Anette se skouer sit. Só het die mossie die simbool van besielende hoop ter oorlewing van dié swaar beproefde vroue geword. Vanaf 1923 het dié simbool op SA se kleinste muntstuk verskyn.

Soos vir die mossies, sal die Vader ook steeds vir Sy Afrikanerkinders sorg. Dit kan Max, Malema of die ANC nie verhinder nie.








Thursday, 1 October 2015

Eensydige kritikus self ook verdag

Koot Pieterse se opmerking: "Dit wil voorkom asof T.C.Breitenbach te veel op prinse wil vertrou" (DB,01.10) vind ek, as persoon, niksseggend. Veelseggend is egter dat hy sê "die 'onkreukbare' (sy woordkeuse) Paul Kruger (was) maar lekker onder verdenking vir verdagte staatslenings, begunstiging, konsessies en aanstellings."

Waarom werp Pieterse dié verdagmakende skadu oor Kruger? Tensy Pieterse substansie aan sy verdagmaking kan verleen, beskou ek sy bewering as moedswilige Afrikaner-onvriendelikheid. Moenie dit by verdagmaking laat nie, maar voer die nodige historiese bewyse aan, anders kom die moontlikheid van karakterskending na vore.

Veelseggend is ook dat Pieterse wel op Kruger reageer, maar nie op my vraag na die onomkoopbaarheid van huidige regeringsleiers nie. Waarom alleen Kruger verdag maak en swyg oor die huidige korrupte regeringsleiers? Ek lees nêrens dat ander kultuurgroepe hul helde, selfs al is hulle korrup, verdag maak nie. Wat kan ons dus aflei van dié eensydige kritiek? Teenoor wie is Pieterse lojaal? Is sy kritiek dalk indirekte steun vir die ANC-leierskap?

Is Pieterse 'n vreemdeling in Jerusalem, totaal onbewus van die skandelike aantal aanklagte teen Zuma? Histories mag hy dalk selfs bewysaanvoerend reg hê wat Kruger betref, maar waarom 'n gerespekteerde Afrikanerheld so eensydig verdag maak? Deur sy eensydigheid van kritiek, maak Pieterse ook homself verdag.