Monday 2 October 2017

Vraag wat post-1994 Afrikaners konfronteer




Ek bewonder dr.Irving de Swardt se geloof wat spreek uit sy "Afrikaner sal regkom, soos tevore" (19.09), wetende dat Afrikaners by verskeie geleenthede in die verlede uit diepe ellende herstellend weer kon opstaan en "regkom, soos tevore". Gaan hulle dit dié keer ook weer regkry?

Het ons kenmerkende volkskarakter onveranderd dieselfde gebly as dié van ons strydende voorsate? Van wyle dr.D.F.Malan se aanmoediging om te glo in God, ons volk en onsself, gaan daar vandag weinig meer inspirasie uit. Wyle Siener van Rensburg het verwys na Afrikaners se "donkerste uur" in hul geskiedenis. Is dit dalk nou? Toe Simson die geheim van sy krag openbaar het, is hy geketting, sy oë uitgesteek en moes hy die vyand bespottend vermaak.

Doemprofesie? Nee. Realisme? Ja. My kommer oor ons volksvoortbestaan berus op eksterne sowel as interne oorwegings. Hoef enigiets bygevoeg te word by wat ons almal reeds weet   -   ekstern feitelik aanwysbaar   -   hoe die lot van wit Afrikaners, en hul toekomsvooruitsigte, sedert 1994 onder ANC-bewind verslegtend verander het?

Interne veranderinge binne die volkshuis is 'n selfs groter bron van kommer. Enkele voorbeelde: as vroeëre kerkvolk met 'n eie volkskerk is dié vernietig; die getransformeerde kerk het die volk die rug gekeer; die sterk band tussen huis, kerk en skool, waarbinne die volksjeug gevorm is, is vernietig; ons volksverlede word doodgeswyg; duisende talentvolle jong Afrikaners verhuis oorsee, terwyl werkloos verarmde volksgenote hul in wit plakkkerskampe bevind. Dié lys gaan voort.

Geoordeel aan ontwikkelinge in Duitsland, Nederland, Frankryk en Swede, word hard gepoog om nasionale-  en volksgrense te vernietig en volksidentiteite prys te gee in ruil vir burgerskap van 'n geglobaliseerde wêreldgemeenskap. Geld dieselfde die Afrikanervolk?

Na die mislukte 1914-rebellie om onafhanklikheidsherstel, sê J.van Melle se Bart Nel: "Ek is nog hy." Vandag, 100 jaar later, word die post-1994 Afrikaner gekonfronteer met die vraag: "Is ek nog hy?", die antwoord waarvan die voorwaarde is vir ons "sal regkom, soos tevore" Tensy sy wil om voortbestaan duidelik weerspieël word in sy antwoord, is dit ikabod met die Afrikanervolk.









No comments:

Post a Comment