Tuesday 31 October 2017

ANC-regering vir insident te blameer





Ek deel nie in die skrywersmening van "Doodskisvonnis:Sulke voorvalle moet gestraf word" (31.10) nie. Dié skrywer beweer "dit het plaasgevind in die konteks van kru rassisme." Louter snert. Dit het darem net té gerieflik geword om telkens wittes as sagte teikens blamerend te veroordeel, en sodoende rassespanning en  -polarisasie   -   politiek korrek  -   lewendig te hou.

Victor Mlotshwa is met gesteelde koperdraad betrap waarna hy die twee wit boere met optrede teen hul oeste en vrouens gedreig het (28.10) midde in 'n plofbare klimaat waarin plaasaanvalle en  -moorde hoogty vier. Mlotshwa is nié tydens dié insident beseer nie, en selfs van die getuienis is teenstrydig gevind.

Hoe vergelyk die noodlottige teistering van Suna Venter skaars vier maande gelede met dié van Mlotshwa? Daar is op haar geskiet; sy is ontvoer; by drie geleenthede aangerand; haar motor se bande en remkabels gesny; in die gesig geskiet; vasgebind aan 'n boom en die gras rondom haar aan die brand gesteek. Dit alles het haar dood veroorsaak. Maak u eie gevolgtrekking hieruit.

Van die vroeg-Julie SAPD-aangekondigde ondersoek na Suna se dood het daar dusver, spreekwoordelik, net mooi dadels gekom. Vonnisoplegging van die twee wit boere is met breë glimlagte begroet deur Mlotshwa, ANC,DA en EFF "met 'n gejuig en handeklap..."   -   'n regterlike vonnisoplegging van duidelik politieke belang.

Natuurlik het Oosthuizen en Jackson fouteer deur die reg in eie hande te neem. Hoeveel boere het nie al gevoel dat die SAPD en die regstelsel hulle telkens in die steek laat nie? Hoeveel keer het ook swartes self nie die reg in eie hande geneem nie, en verneem ons ooit weer daarvan?

Nee, dié insident het niks, maar niks, met rassisme te make nie, maar wel alles met 'n vrotsige ANC-regering wat daarvoor blameer moet word, omdat hy nie sy primêre taak van burgerlike beskerming nakom nie.




1 comment:

  1. Tommie jy is heeltemal reg. Ek het die vreeslikste goed op Twitter gelees ... een persoon het getwiet `Two down many more to go` ...

    ReplyDelete