Monday 23 October 2017

Sola Scriptura-kerk kan nie "gay onreg" bely




In sy "Eers apartheid, nou gays" (14.10) sê dr.Frits Gaum : "Die NGKerk...het...finaal van apartheid ontslae..." geraak, en vra dan of "...die Afrikaanse kerke (daaruit)...'n les geleer" het. Hy sê: "Dit bly verstommend dat die NGKerk, wat so 'n enorme fout gemaak het met (apartheid)...nie die parallel raaksien met die onreg...teen gay mense...nie. Daar sal 'n dag kom dat die Kerk...sy skuld in dié verband sal moet bely."

Gaum verswyg die kritiek-belangrike Sola Scriptura-beginsel   -   slegs die onvervalste Woord van God en niks anders nie   -   as 'n fondamentsteen waarop die Ware Kerk van Christus gebou is. Die Gaumstandpunt het essensieel met Woordvertolking te doen.

Daar is twee vertolkingswyses van die Bybel: 1.die meganiese interpretasie (MI) wat sê die Bybel is Goddelik geïnspireerd en onveranderlik, en 2.die organiese interpretasie (OI) wat beweer die Bybel is slegs histories-menslike woorde oor God en Sy skepping en daarom veranderbaar om die eietydse situasie te pas. Dié twee interpretasiekontekste hou implikasies in vir verskille in kerkwees.

'n Paradigmaskuif vanaf die MI na die OI van die Bybel is waarneembaar in die NGKerk. Dié kerk se "finale ontslae" raak van apartheid is gedeeltelik hieraan toe te skryf. Baie opvallend het beide NGKerk-  en NP-beleid hieromtrent sáám verskuif. Indien die NGKerk op grond van sy MI-OI-skuif apartheid kan veroordeel, kan dit vir Gaum ook dié kerk se "onreg...teen gay mense" veroordeel.

'n Veranderde sosiale samelewingstruktuur, asook die invloed van die bevrydingsteologie, het veel bygedra tot die NGKerk se OI-gebaseerde beleidskuif ten opsigte van apartheid. Presies dieselfde geld die gay-kwessie waaromtrent wetenskaplike aansprake vir die OI-aanhangers swaarder weeg as die duidelike Bybelse uitsprake daaroor.

NGKerk-skuldbelydenis oor die "onreg...teen gay mense" is slegs moontlik binne 'n OI-gedrewe kerk; nie binne 'n MI-gedrewe Sola Scriptura-kerk nie.          (ngn)




No comments:

Post a Comment