Showing posts with label Kerk. Show all posts
Showing posts with label Kerk. Show all posts

Wednesday, 19 August 2020

Ommekeer in Skrifbeskouing skaad NG Kerk




Die Algemene Sinode (2019) van die NG Kerk se aanvaarding van verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag geniet volgehoue openbare publisiteit. So, vanwaar dié besluit?

My eie mening, en ek het een, hou ek op hierdie platform egter vir myself vanweë die omstredenheid van dié besluit. My kommentaar rus derhalwe op die kontroleerbaar feitelike.

In hoofsaak is dié besluit terug te voer na 'n omgekeerde (getransformeerde) Skrifbeskouing. Voorafgaande aan die afgelope vyftig tot sestig jaar, was die algemeen aanvaarde Skrifbeskouing in dié kerk dat die Bybel geskryf is onder die direkte leiding van die Heilige Gees as die geïnspireerde Woord van God.

Die heersend omgekeerde Bybelskouing verskil skerp van die voorgemelde. Die Bybel word vandag gesien bloot as 'n kultuurhistoriese geskrif, deur mense geskryf vir 'n bepaalde tydvak, en gekenmerk deur 'n "agterhaalde plataarde wêreldbeskouing", onbetroubaar vir vandag en daarom veranderbaar.

Dié ommekeer het tot gevolg dat geloofsekerheid en absolute waarheid vervang word deur verstandsgebaseerde historiese kritiek teen die Bybel, volgens 'n Skrifkritiese benadering, waarvolgens die Skrif by die gees van die tyd aangepas word.

Die vroeëre siening van die huwelik as Goddelike instelling as verbintenis tussen 'n man en vrou, word omgekeer na die aanvaarding van selfdegeslag huwelike weerspieëlend van die tydsgees. Vandaar die NG Kerk se noodsaak aan 'n nuwe huweliksformulier.

Vroeëre NG Kerkbesluite, Skrifbeskoulik-omgekeerd gebaseer, het tot grootskaalse ongelukkigheid, spanning en onmin gelei sodat duisende lidmate dié kerk reeds verlaat het.En die jongste besluit, waartoe gaan dit lei? Skrifbeskoulike verskille blyk onoorkomelik te wees om intern bygelê te kan word.                    (ngn)







Wednesday, 29 April 2020

Covid-19 bied ook kerk selfondersoektyd




Suid-Afrikaanse dorpstigting is hoofsaaklik die nalatenskap van Europese immigrante en hul nasate, en vertoon 'n patroonmatigheid. Soos boere landinwaarts getrek het, is owerheidsbeheer uitgebrei deur distriksproklamering waarop gemeentestigting, kerkoprigting en onderwys sou volg.

Die hoof onderwysdoel was leer lees en skryf vir direkte Bybeltoegang, katkisasie (boerematriek) en kerklidmaatskap. Kerklike toringspitse  -  teoloog Christina Landman het daarna verwys as falliese simbole  -  was landelike bakens.

Voor in die wakis, op die binnelandse trek, was die Bybel. Tussen veeboere, geleidelik ontwikkelende tot 'n volk, en kerk ontstaan 'n kerk-volkverhouding. Vir dié afgesonderde volk word die kerk spoedig 'n volkskerk, veral in die Boererepublieke. Hiervan getuig 'n oorvloed van historiese geskrifte.

Tydens 'n onlangse besoek aan Toks, van Toks en Tjopsfaam, se Oos-Vrystaatse tuisdorp, besoek ek ook die statige ou sandsteenkerk, nou in onbruik, in die middel van die dorp, getuigende van die vervloë kerk-volkvennootskap.

Op dié kerkterrein is duidelike oorblyfsels van volksvoetspore te sien. Monumente ter nagedagtenis van gesneuweldes  -  vir volk én kerk  -  tydens die Basoetoe-oorloë en Anglo-Boereoorlog getuig daarvan. Tydens die 1938-Groot Trek Eeufeesvieringe is wa-, trekos- en touleierspore vasgelê in beton met 'n ossewa daarnaas.

Vandag distansieer die kerk sigself van dié historiese verhouding terwyl kompromiemakende transformiste kerkhistoriese reformiste verplaas. Moderne Bybelvertolkings en omstrede besluite bring verdere skeiding. Die vroeëre huis-kerk-skool onderwysvennootskap is tot niet, lidmaattalle daal, gemeentes sluit, kerkgeboue verkoop terwyl kerklosheid en  -loosheid toeneem. Stel dit die Kerkhoof tevrede?

Het die moderne kerk dan geen nasionale trooswoord vir siekes en sterwendes tydens Covid-19 nie  -  wat aan almal geleentheid vir selfondersoek bied; ook vir die kerk  -  in 'n tyd waarin gesamentlike aanbidding ongewens en selfs strafbaar is?








Tuesday, 22 October 2019

Moenie kerk buite-Bybels beoordeel nie





In "Die sekularisasie van geloof" (18.10) spreek Koos Kombuis (KK) homself uit oor die NG Kerk. Die onmiddellike vraag is die vraag na die gesagsbasis van sy kritiek.

Die kerk ontleen sy gesag aan die Woord van God en vergelyk tegelyk die kerk met die Liggaam van Christus met Hom as Hoof daarvan, asook die kerk as Bruid van Christus met Hom as Bruidegom.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 29, waarsku Christengelowiges juis om versigtig te onderskei tussen die ware en valse kerk en laasgenoemde se misleiding.

KK se gesagsbasis kom aan die lig vanuit wat hy sê aangaande homself soos dat hy  "nie 'n aktiewe lidmaat van die NG Kerk ...of ooit weer sal wees nie...(en) ek weet nie eens of ek myself 'n 'Christen' wil noem nie." So, wat doen KK? Hy (ver-)beoordeel die kerk volgens beide buite-Bybelse sowel as buite-kerklike nie-legitieme gesag.

KK moet besef die kerk is nié 'n menslike, maar wel 'n Goddelike instelling, en kan nie volgens die onbetroubaar, bedrieglik, wispelturige en pragmatiese menslike natuur beoordeel word nie. Derhalwe 'n vriendelike beroep op KK om die Bybelse gesagsbasis
 van die kerk te respekteer en dit daarvolgens te beoordeel.

In verdere aanluiting by KK, ondersteun ek nie die NG Kerk se onlangse besluit "om op 'n meer demokratiese wyse om te gaan" met 'n Bybels opdragtelike aangeleentheid waarteen die Bybel homself by herhaling ondubbelsinnig uitspreek nie.

Die kerk het nie 'n mensgegenereerde "demokratiese" opdrag ontvang nie, wel Soli Deo Gloria in al sy doen en late. Staak dus, asseblief, alle buite-Bybelse (ver-)beoordeling van die kerk.




Tuesday, 9 July 2019

'n Kommerwekkende verskuiwing



Na mate mense ouer word, neem sommige se bekommernisse dikwels toe. Die wêreldwye verval en agteruitgang van die Christendom vind ek kommerwekkend. Bestaan daar 'n meer fundamentele verskuiwing met ernstiger toekomsimplikasies as dit?

Derduisende stroom na vermaaklikheidsfeeste en sportbyeenkomste terwyl gemeentes sterf, want: kerkbywoning daal dramaties, kerke loop leeg, -deure gesluit en -geboue verkoop. Postmodernisme verklaar die kerk irrelevant. My kommer ongegrond? Wat lê aan die wortel hiervan?

Ons verneem dikwels: "We stand at the dawn of a new age". Die dryfkrag na 'n getransformeerde nuwe wêreldorde (NWO)  -  een wêreldparlement, polisie-  en weermag, onderwys-, juridiese-, monetêre stelsel en een wêreldgodsdiens  -  neem vinnig toe in momentum. 

In sy boek, "Mind Siege", noem dr.Tim La Haye dié snel ontwikkelende wêreldgodsdiens Sekulêre Humanisme (SH). SH het ontwikkel uit religieuse humanisme, onderweg na Planetêre Humanisme. SH verwerp Bybelse teïsme as mities en onwetenskaplik.

Ateïsties sterk gedrewe word SH, veral in die VSA en Europa, deur onderwysinstellings, openbare media en talle frontorganisasies versprei. SH-breinspoeling en -indoktrinasie moet die wêreldjeug vir NWO-burgerskap voorberei. SH oefen ook toenemend invloed uit op die beleidsbesluite van regerings.

Ateïsme, evolusionisme, amorele leefstyle, menslike selfgenoegsaamheid en globalisering is kenmerkende transformasie-agente van SH. Is enige hiervan sodanig "wetenskaplik"?

La Haye beweer SH is nie bloot net nog 'n filosofie en/of wêreldbeskouing nie, maar 'n godsdiens volledig gevestig op 'n ateïstiese geloofsbasis. Voorheen, sensusgewys, in hoofsaak christelik, is SA reeds tot sekulêre staat getransformeer in navolging van die wêreldgemeenskap onderweg na Planetêre Humanisme.





Tuesday, 5 March 2019

Wat sê kerkopsieners van dié uitdaging?




In Willemien Brümmer se "Die wiel moet maar net draai" (01.03), verneem lesers van ds. Louis van der Riet, eerste openlike gay NG Kerk-leraar, se onbeskaamde uitdaging aan dié kerk. Ek beperk my reaksie tot sy kerkuitdagende sienings van die huwelik en liefde.

Dié gay dominee vra (sekerlik nie uit Skrifonkunde?) waarom die huwelik alleen tussen 'n man en vrou moet wees. Vir hom is daar, volgens sy teologiese oortuiging, geen goeie rede daarvoor nie. Hy vra uitdagend: "Wie is die kerk in elk geval?" en sê, eweneens uitdagend,: "as ek...iemand vind en ek wil trou, gaan dit gebeur. Ja hier in die kerk." Hierdie uitdaging betrek nie net die kerk nie, maar ook Gods Woord waarin die kerk fundeer is.

Liefde in Skrifkonteks beklemtoon Christene se liefde vir God (agape) asook liefde vir die medemens (filia+eros). Van der Riet sê: "mense wat gay is, is vir my veel belangriker...(en) vir my die essensie van die evangelie." Sy gehoorsaamheid, ingesteldheid, passie en hoop   -   sê hy   -   is gesetel in 'n gemeenskap "om mense beter lief te hê." Oor die agape-liefde swyg hy soos die graf.

Van der Riet sê: "Ek hoop nie ek ...moet...konformeer tot die NG Kerk nie." Mag ons vra waarom hy hom dan in dié kerk bevind indien hy weier om die kerkspel volgens kerklik kontekstuele spelreëls te speel? Voorts mag ons ook vra hoe kerkopsieners soos die kerkraad, plaaslike Ring en selfs streeksinode, in terme van ons belydenisskrifte, op dié jong predikant se uitdaging van die kerk reageer?                       (ngn)






Sunday, 22 April 2018

Oosthuizen wil sy eie kerkreëls formuleer






In Murray la Vita se Oop Kaarte, Bloedspoor van die Kerk (20.04), openbaar Jean Oosthuizen homself soos 'n eiewys seuntjie wat weier om saam met sy maats te speel volgens die reëls van hul kinderspel; hy wil speel volgens sy eie reëls. Dit maak hom kwaad.

In sy aanklag teen die NG Kerk ken hy aan homself 'n slagoffersrol toe. Ter aanvang moet ons egter onthou wát die kerk is, te wete die Liggaam van Christus waarvan Hy die hoof en eienaar is. Hieraan gee hy geen erkenning nie en wek die indruk van die kerk as menslike instelling.

Indien die NG Kerk 'n valse kerk geword het volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis, art.29, en Oosthuizen, soos Martin Luther, hom protesterend beywer vir die hervorming daarvan, ondersteun ek hom. Maar nee, inteendeel, hy is ten gunste van die transformasie van dié kerk volgens 'n kerkbeskouing wat teen Bybelse waarhede en voorskrifte   -   as die spelreëls vir die kerkspel   -   indruis.

Wat die Godheid as hoof van die kerk betref, het God vir hom bloot 'n metafoor van die onbekende geword; nie belangrik genoeg om hom daarmee te bemoei nie. Hy vind wonderlike mense onder ateïste. Besinning oor die nadoodse is irrelevant. As webmeester van Kletskerk op die internet het Oosthuizen, reeds in 2011, toegelaat dat dit as mondstuk vir erge godslastering deur ateïste sou dien.

Wanneer Oosthuizen sê: "God is nie meer vir my daai teïstiese god wat die kerk se belydenisskrifte vir ons vertel Hy is nie", is dit duidelik dat Oosthuizen hom op 'n volgens-eie-oordeel selfgemaakte kerkweg bevind. Kommerwekkend, egter, is sy aanspraak op die steun wat hy van " 'n hele klomp dominees" geniet, iemand wat sy eie reëls vir kerkwees wil formuleer.                     (ngn)






Monday, 23 October 2017

Sola Scriptura-kerk kan nie "gay onreg" bely




In sy "Eers apartheid, nou gays" (14.10) sê dr.Frits Gaum : "Die NGKerk...het...finaal van apartheid ontslae..." geraak, en vra dan of "...die Afrikaanse kerke (daaruit)...'n les geleer" het. Hy sê: "Dit bly verstommend dat die NGKerk, wat so 'n enorme fout gemaak het met (apartheid)...nie die parallel raaksien met die onreg...teen gay mense...nie. Daar sal 'n dag kom dat die Kerk...sy skuld in dié verband sal moet bely."

Gaum verswyg die kritiek-belangrike Sola Scriptura-beginsel   -   slegs die onvervalste Woord van God en niks anders nie   -   as 'n fondamentsteen waarop die Ware Kerk van Christus gebou is. Die Gaumstandpunt het essensieel met Woordvertolking te doen.

Daar is twee vertolkingswyses van die Bybel: 1.die meganiese interpretasie (MI) wat sê die Bybel is Goddelik geïnspireerd en onveranderlik, en 2.die organiese interpretasie (OI) wat beweer die Bybel is slegs histories-menslike woorde oor God en Sy skepping en daarom veranderbaar om die eietydse situasie te pas. Dié twee interpretasiekontekste hou implikasies in vir verskille in kerkwees.

'n Paradigmaskuif vanaf die MI na die OI van die Bybel is waarneembaar in die NGKerk. Dié kerk se "finale ontslae" raak van apartheid is gedeeltelik hieraan toe te skryf. Baie opvallend het beide NGKerk-  en NP-beleid hieromtrent sáám verskuif. Indien die NGKerk op grond van sy MI-OI-skuif apartheid kan veroordeel, kan dit vir Gaum ook dié kerk se "onreg...teen gay mense" veroordeel.

'n Veranderde sosiale samelewingstruktuur, asook die invloed van die bevrydingsteologie, het veel bygedra tot die NGKerk se OI-gebaseerde beleidskuif ten opsigte van apartheid. Presies dieselfde geld die gay-kwessie waaromtrent wetenskaplike aansprake vir die OI-aanhangers swaarder weeg as die duidelike Bybelse uitsprake daaroor.

NGKerk-skuldbelydenis oor die "onreg...teen gay mense" is slegs moontlik binne 'n OI-gedrewe kerk; nie binne 'n MI-gedrewe Sola Scriptura-kerk nie.          (ngn)




Sunday, 20 November 2016

Besin deeglik oor "my kerk"-aanspraak

Telkens wanneer ek skrywers se verwysing na "my kerk" lees   -   soos onlangs weer in ds.G.Engelbrecht se: "Dit is 'n donker dag vir my kerk...", en Ontevrede NG Lidmaat se: "Los my kerk uit" (DB,15:11)   -   laat dit my skepties wonder oor die werklike bedoeling daarmee. Is dit dalk wat Sigmund Freud 'n "misvoltreffer" noem, 'n misskrywe waardeur die waarheid van die onderbewuste tot openbaring kom?

Hoewel dalk nie so bedoel nie, dui die "my" in die "my kerk"-aanspraak op besitreg. Is diegene wat van "my kerk" praat dalk geneig om te vergeet wat die kerk in wese is   -   volgens Kolossense 1:18 die Liggaam van Christus   -   en dat Hy daarom die enigste is wat van "My kerk" kan praat?

God kan met 'n afgod vervang word. Selfs die kerk kan tot afgod gemaak word soos wat Elizabeth Walters (DB,15.11) daaromtrent opmerk: "Mense moet ophou om van die kerk 'n afgod te maak. Kyk by hierdie afgod verby en sien die ware God...".

Kerklike verafgoding vind die maklikste plaas in die valse kerk   -   kenmerke waarvan soos dat dié kerk meer mag en gesag aan homself toeskryf as aan die Bybel, homself nie onderwerp aan die juk van Christus nie, en sigself meer op mense grondves as op Christus   -   soos duidelik deur artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) uiteengesit. Dié artikel maak dit moontlik om tussen die ware en die valse kerk te onderskei.

'n Voorbeeld wat ons onderskeiding verg: Tydens 'n RSG-uitsending op Sondag 20.11 beweer dr.Chris Jones, verbonde aan die US se teologiese fakulteit, dat dit toelaatbaar en nié verkeerd is om God ook as vrou en moeder te aanbid nie; dit terwyl Jesus self konsekwent na God as Sy Vader verwys het soos, onder meer: "So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is..." (Mat.6:9) Wie is reg: Jones of Jesus, volgens die Bybel en die NGB?

Vanweë die vertroebelende implikasies daarvan, verg die aanspraak op "my kerk" deeglike besinning eer dit gebruik word. 











Monday, 14 November 2016

Kerk staan of val volgens Skrifbeskouing

As gewone kerklidmaat is ek bewus van die omvangryke aanslag, ook vanuit kerkgeledere, op die Bybel as synde die onfeilbare en onveranderlike Woord van God. Toenemende in felheid, gaan dié aanslag verder terug as slegs gister en eergister.

Alleen met die behoud van die suiwerheid van die Woord sal ook die kerk   -   daarop gefundeer   - as suiwere instelling kan voortbestaan. Daarsonder gaan die karakter van ware kerkwees verlore soos te onderskei van die valse kerk; uiteengesit in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), een van die bestaande belydenisskrifte van die NG Kerk.

Ek lees van twee teenoorstaande interpretasies van die Bybel: die meganiese vertolking wat die Bybel erken as Goddelik geïnspireerd en geskryf onder die gesagsvolle leiding van Sy Gees vir alle mense van alle tye. Daarteenoor is daar die organiese interpretasie wat beweer dat die Bybel bloot 'n menslike geskrif is, deur mense geskryf vir die mense van 'n bepaalde tyd, en eintlik maar net 'n veranderbare relaas van kultuur-historiese gebeure is.

Binne laasgenoemde organiese Skrifvertolking is twee fronte te onderskei waarop Bybelaanvalle plaasvind: korruptering van die Bybel, deur opeenvolgende vertalings, en diskreditering van die Bybel, deur allerlei onbybelse interpretasies daarvan. Hierin moet die rol van kweekskole nie onderskat word nie.

Die NG Kerk se 2015-besluit oor gaylidmate en -predikante binne dié kerk en die jongste 2016-besluit daaromtrent, is 'n duidelike weerspieëling van die spanning- en verdeeldheidskeppende aanwesigheid van beide die meganiese en organiese Skrifbeskouings binne dié kerk wat mekaar nie kan vind nie. Op die lange duur sal dié twee Skrifbeskouings nie onder dieselfde kerkdak kan voortbestaan nie, en sal hul paaie móét skei ter wille van die behoud van kerksuiwerheid soos beoordeel volgens artikel 29 van die NGB.

Sy Skrifbeskouing, en nie die SA grondwet nie, gaan bepaal óf die NG Kerk gaan bly staan of val.












Monday, 24 October 2016

Geloofswaarhede toenemend bevraagteken

Met sy geloofsgebaseerde mening oor demone as oorsaak van sekere geestesongesteldhede het dr.Chris Saayman (DB,17.10) die spreekwoordelike gefladder in die duiwe(ls)hok veroorsaak. Sy mening rig 'n uitdaging aan 'n sinodale NGKerkbesluit waarvolgens die keuse by leraars berus óf hulle in hul prediking die bestaan van Satan en demone wil erken, óf nie. Sy keuse is duidelik in 'n tyd gekenmerk deur toenemende bevraagtekening van geloofswaarhede.

Saayman se mening is gevolg deur fel kritiek. Hiervolgens blyk die mediese wetenskap der mate gevorderd te wees dat dit akkurate diagnoses kan maak ook oor geestesongesteldhede. Maar is dit werklik so? Is die menslike psige en gees reeds sodanig gedissekteer en geanaliseer dat daar met absolute sekerheid beweer kan word dat sekere toestande slegs met bepaalde breinareas verband hou, medies geneesbaar is en demoniese werkinge totaal uitgeskakel kan word? Bewoon dié klipgooiende kritici nie ook maar self glashuise nie?

Soos in die geval van ook ander wetenskappe, verklaar die mediese wetenskappe seker ook sommige siekteverskynsels   -   soos geestesversteurings   -   aan die hand van heersende teorieë. Kan sulke teoretiese verklarings wel met absolute sekerheid enige demoniese inwerking uitsluit? Dit is hoogs onwaarskynlik; die menslike gees styg uit bo sintuiglik waarneembare en verklaarbare dinge. Kolossense 2:8 waarsku gelowiges juis: "Pasop dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie."

By herbeskouing, kon dr.Saayman dalk meer indringend oor sy voorgestelde lys van demonies beïnvloedende geestesongesteldhede besin het. Reaksie daarop dui egter op 'n kontemporêre verskuiwing vanaf 'n geloof in Bybelse geloofswaarhede na wetenskaplik gegenereerde waarhede. Het Christus dalk na dié tendens verwys toe hy gesê het: "Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?" (Luk.18:8b).











Wednesday, 12 October 2016

Verhelder of kompliseer Koopman-teologie?

Ek vind aansluiting by Anti-teïs en Huysamer (DB,11.10) se kritiek op prof. Koopman se Godsdiens Aktueel-bydrae (DB,05.10).

Beskrywende homself as "sekulêre humanis", sê Anti-teïs "dat enige geloof van jou verwag om intellektuele selfmoord te pleeg." Werklik? Staan geloof en intellek dan vyandig teenoor mekaar, of het ons nog nooit die Skepper se doel en funksie met elkeen daarvan ontdek nie?

Anti-teïs se keuse vir rasionaliteit is niks anders as sy persoonlike geloofskeuse nie   -   sy geloof in intellektualiteit. Karl Popper, bekende wetenskapsfilosoof, verwys na wetenskaplikes as "egte gelowiges", bedoelende daarmee hul geloof in hul wetenskaplike instrumente soos teorieë, modelle en metodes.

Huysamer "soek nog die teoloog wat met 'n 'rasionele' redenasie vorendag kan kom hoekom die Skepper...manlik is en 'n bloedoffer (soos die Asteke) benodig." Sodanige soeke eindig eers wanneer nie net die natuurlike en rasionele dimensies van menswees ontdek is nie, maar ook die bo-natuurlike, transendentale en bowe-rasionele dimensies. In menslike grenssituasies, soos teweeggebring deur rampe, lyding, siektes en/of dood, is antwoorde nie altyd net in die rasionele te vinde nie, maar wel dikwels in geloofskonteks.

Anti-teïs en Huysamer se kritiese vergelyking van onvergelykbares   -   rasionaliteit en geloof   -   blyk 'n futiele oefening te wees.

Chrstengelowiges word aangeraai om hul denke te vernuwe, asook waarop dit gerig moet word, sodat 'n teologie van "terapeutiese rasionaliteit"   -   in die lig hiervan   -   vreemd voorkom. Vir my, as christengelowige met 'n lekesiening van teologiebeoefening, blyk Koopman se "terapeutiese rasionaliteit" eklekties en horisontalisties van aard te wees; kompliserend eerder as verhelderend van die teologiese ondersoekterrein.               (ngn)








Friday, 19 August 2016

Pragmatiese meerdimensionaliteit en die Bybel

Ek reageer op Pitout se: "Gay-troues: Dink meerdimensioneel" (DB,18.08); in besonder op sy stelling: " 'n Pragmatiese beginsel is om gesprekspunte meerdimensioneel te belig..." Natuurlik is daar 'n direkte verband tussen sy "pragmatiese beginsel" en sy "meerdimensionaliteit".

Om sy doel te bereik, maak die pragmatis toegewings tydens kompromiesluiting   -   ook tussen Bybel en wetenskap. Laat die Bybel hom egter voorskryf deur kompromiemakende toegewings aan die wetenskap oor dié dinge waaromtrent die Bybel ons voorskriftelik uitdruklik verbied? Ek dink nie so nie.

Die tyd van of...of is verby  -   óf die Bybel óf die wetenskap   -   en die tyd van en...en het aangebreek   -   én die Bybel én die wetenskap   -   as moderne geloofs-  en lewensrigsnoer. Die Bybel-plus, of Christus-plus, is 'n tipies moderne benadering tot die oplossing van knellende lewensvrae, ook oor gay-troues.

Die moderne en...en-benadering tot die Bybel verlaag die gesagstatus daarvan vanaf volkome soewereiniteit na onderhorig afhanklike susereiniteit. Hierdie paradigmaskuif oor Bybelse soewereiniteit, en die respektering daarvan, hou implikasies in vir ons voortgesette geloof daarin asook ons -besluite.

Die wetenskaplike kennis van die geloofsmondige en -geëmansipeerde mens moet nou tot die redding kom van die onselfgenoegsame Woord van God. Pragmatiese meerdimensionaliteit is 'n voorbeeld hiervan wat die Bybelse veroordeling van 'n homoseksuele lewe in die voue van mooiklinkende begrippe en wetenskaplik-verdienstelik verworwe kennis wil verberg.

Pitout is korrek wanneer hy sê: "Medegelowiges kan kies om slegs vanuit die Bybel eendimensioneel oor die gay-kwessie te besin...". Teenoor sy "pragmatiese beginsel" kom vir my te staan die "Sola Scriptura"-beginsel   -   slegs God se soewereine Woord en niks anders nie.

Ek skaar my by Magda van Despatch (DB,15.08;19.08) van wie Pitout sê: "Jou uitgangspunt is skynbaar slegs Bybelgefundeerd, en dit is jou goeie geloofsreg..." Wat Pitout glo, is eweneens sy goeie geloofsreg. Die gemene deler tussen Pitout, Magda en myself, is die aanvaarding van verantwoordelikheid vir ons elkeen se geloofskeuse.               (ngn)






Monday, 15 August 2016

Ondersoek kerklike besluit se waardebasis

"Die hof...kan beveel dat die NGKerk sy besluit uitvoer om gay-huwelike toe te laat." So word berig omdat "11 NG-lidmate...dreig om hul eie kerk hof toe te sleep om hom te dwing om gay mense toe te laat om in die kerk te trou...(gesteun deur) die regsadvies van adv.Wim Trengove SC...(wat) meen dat die kerk strydig met sy eie kerkorde optree deur nie sy eie besluit toe te pas nie..."(DB,15.08).

Ek stel die volgende twee vrae in dié verband: 1. Is alle menslike besluitneming   -   onderhewig aan menslike feilbaarheid, waaraan ook kerklike besluitneming onderhewig is   -   gegiet in beton sodat dit nooit gewysig óf herroep mag word nie? Kan dan nie selfs ook 'n hofuitspraak ná 'n appélaansoek gewysig word nie? Ek vra dié vraag as juridiese leek.

2. Enige besluit is wel analities ondersoekbaar daarin dat dit die vierde van drie voorafgaande stappe verteenwoordig wat in die vyfde stap, van besluitimplementering, kulmineer. Alle opsies waaroor daar besluit moet word, impliseer die toepassing van dié stappe waardeur dit onderlê word.

Alle moontlike besluitnemingsopsies word primêr onderlê deur die evaluering van elke opsie aan die hand van waardes. Opsies word "geweeg" aan kontekstueel relevante waardes, en daarna rangordelik geplaas volgens keuring. Die keuse word bepaal deur voorkeur te verleen aan dié waarde-geweegde opsie wat die swaarste weeg. Keuse-finaliteit kulmineer in 'n besluit omtrent die opsie-verskeidenheid. Besluit-implementering berus dus ten diepste op 'n waardebasis.

My vraag is dus óf die waardebasis waarop die betwiste kerklike besluit berus, analities deeglik ondersoek is of dit wel Bybels-kerklike waardes, en of dit humanisties-sekulêre waardes, as basisvertrekpunt neem vir die vier stappe wat daaruit voortvloei. Die wesenlike moontlikheid bestaan dat dié betwiste NGKerkbesluit op Bybels buitekontekstuele waardes berus en daarom ongeldig en betwisbaar is.           (ngn)







Monday, 25 July 2016

Is die aanklaer nie self skuldig aan dwaling?

In sy brief, "Biddae vir reën is geloofsdwaling" (DB,21.07), maak Pitout hom skuldig aan ongeoorloofde kontekstuele grensoorskryding, bedoelende daarmee dat hy die Bybelse kontekstuele geloofspelreëls ignoreer en dit onderwerp aan kriteria vanuit die wetenskapskonteks. Dit is ontoelaatbaar. Dit is soos 'n skeidsregter wat, volgens sokkerspelreëls, 'n rugbywedstryd probeer hanteer   -   absurd en chaoties.

Met sy wetenskaplik kritiese ingesteldheid oor gebede vir reën, sê Pitout dit is "'n geloofsdwaling...
teen die Liefdesgebod in die Bybel...'n kerklike dwaling...(en) onbybels" om te bid vir reën. Om dit te kan beweer, kan ons verwag dat Pitout seker 'n diepgaande kennis van die Bybel sal hê.

Wat sê God egter: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie...(maar) bo julle gedagtes" (Jes.55:8-9). Verder sê Hy: Hy ken al ons behoeftes (Mat.6:31-33); as ons bid sal ons ontvang (sonder uitsondering dus ook reën) (Mat.7:7), en Hy gee aan regverdige sowel as onregverdige (Mat.5:45). Jakobus 5:17-18 beskryf 'n tweeërlei gebedsverhoring om reën: die stuur van reën, en die weerhouding daarvan.

Pitout vind 'n geesgenoot in ds. Albert Cruywagen van die NG Gemeente Riebeeckpark in Kempton Park wat, volgens Neels Jackson in Beeld (28.02.11), sê: "Dit het nie vir hom sin om vir reën te bid nie. Hy glo nie dat God in weerstelsels ingryp nie. Daar is groot natuurkragte wat dit beheer." Beide Pitout en Cruywagen skei die Skepper deïsties van Sy skepping en impliseer sodoende 'n God wat Hom aan Sy skepping onttrek het.

Die vraag wat beantwoord moet word, is of Pitout, as aanklaer, nie self aan geloofsdwaling skuldig staan nie.                   (ngn)






Monday, 16 November 2015

NGK gee teosentriese Skrifaanname prys

Enige bewering oor die son wat "opkom"   -   soos in "sonsopkoms'   -   berus op die misleidende geosentriese aannname dat die aarde, vas en onbeweeglik, die middelpunt van ons sonnestelsel is, die son in 'n baan daaromheen beweeg, en derhalwe kán "opkom" en "ondergaan". Dat dié uitsprake op 'n foutiewe aanname berus, is lank gelede reeds bewys.

Volgens die heliosentriese aannname oor ons sonnestelsel, is presies die teenoorgestelde waar. Die son, die vaste hemelligaam, is die middelpunt daarvan.  Dat die son dus "opkom", is blote skyn en 'n illusionêre waarneming wat in 'n bedrieglike uitspraak uitmond.

Hier is dus twee teoreties botsende aannames aangaande die verhouding tussen aarde en son. Beide aannames volg 'n prosesverloop vanaf waarneming na interpretasie na uitspraak. Uitspraakverskille is toe te skryf aan die teoretiese aanname-"bril" waardeur gekyk word.

Toegepas op die NG Kerk se jongste besluit oor selfdegeslagverhoudings (SGV's), berus ook dié uitspraak op 'n (verruilde) aanname aangaande die gesag van die Skrif. Die eeue-oue teosentries meganiese aanname   -   die Bybel is geskryf onder leiding van die Heilige Gees   -   is prysgegee in ruil vir die antroposentries organiese aanname   -   die Bybel is 'n kultuur-historiese geskrif geskryf deur mense wat "wetenskaplik" en rasioneel-krities gelees en beoordeel kan word.

Soos wat die geosentriese aanname oor die son-aardeverhouding misleidend verkeerde uitsprake oplewer, so is dit ook die geval met die antroposentries organiese "nuwe" Bybelaanname soos weerspieël in die NG Kerk se onlangse opspraakwekkende SGV-uitspraak.

'n Klassifiserende groepering van die vier aannames waarna hierbo verwys is, plaas die heliosentriese en teosentries meganiese aannames (rustende op waarheid) saam, en die geosentriese en antroposentries organiese aannames (rustende op valsheid) saam. Wat laasgenoemde betref, spreek wyse koning Salomo homself soos volg daaroor uit; Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood (Spreuke 14:12).






Monday, 26 October 2015

Sy Skrifbeskouing laat NGK staan óf val

Die NG Kerk sal óf staan óf val vanweë sy Skrifbeskouing. So sê Pieter Pelser in sy boek: "NG Kerk : Reformeer of...Disintegreer?" Pelser beweer die gesagsposisie van die Bybel is deur teoloë vervang met die "wetenskap" van Skrifkritiek, 'n gesagsverskuiwing   -   en relativering van die Bybel   -   wat in kweekskole plaasvind "waarvan 95% lidmate niks weet nie".

In sy navorsing oor die NG Kerk van die afgelope vyftig jaar, bevestig prof. R.Britz " 'n ommekeer in die teologiese Skrifbeskouing" van dié kerk waarvolgens die Skrifbeskouing van die Reformasie verruil is vir die moderne Skrifkritiese benadering.

Aanvullend hiertoe sê W.P.D. de Waal in die voorwoord tot sy boek; "Tot hiertoe en nie verder nie" , "dat strukture vir die vertaling en wêreldwye verspreiding van Bybels deur die "New Age"-beweging geïnfiltreer is en tans beheer word deur mense wat die ware Christendom vyandig is". In die VSA word daar van die "Battle of the Bible" gepraat.

'n Voorbeeld ter illustrasie van 'n veranderde Skrifbeskouing en die implikasie daarvan vir Woordverkondiging: Paulus sê van die Skrif: "Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word" (1 Tim.4:9). Ds.Ronell Bezuidenhout van die NG-gemeente Fontainebleau sê hiervan die volgende: "Die Bybel is uitgesproke homofobies. Dit is verkeerd. Ons moet braaf genoeg wees om dit te sê. Paulus was dalk homofobies" (LitNet,20.10).

Bybelse geloofswaarhede is vandag, vanuit die kerk self, onder geweldige druk. Vele ouer lidmate ervaar dié verskynsel as traumaties.              (ngn)






Monday, 19 October 2015

Stel die gay-besluitgees op die proef

In die NG Kerk se gay-besluit staan die geestelike dimensie van dié besluiit sentraal. Wie aan die Woord durf peuter, peuter daarmee aan die swaard van die Gees (Efes.6:17). Christene staan onder opdrag om die geeste op die proef te stel (1 Joh.1:4), die gay-besluitgees daarby ingesluit.

In sy: "Gay gelowiges is ook jou naastes" (DB,15.10), erken Leopold Scholtz prontuit sy sekulêre ingesteldheid wanneer hy sê dat hy "as sekulêre historikus...die Bybel as historiese bron bekyk." In: "Sinode het 'n dapper besluit oor gays geneem" (DB,12.10), word gesê dié besluit "bou voort op die Grondwet". Baie duidelik adem dié twee menings nié die Bybelse Gees nie.

In Efesiërs 5:18 ontvang ons die opdrag om met die Gees vervul te word omdat die Gees ons vir Hom afgesonder het (2 Tes.2:13). Daarteenoor word ons gewaarsku om ons nie op te hou met die oproep van geeste (Lev.20:27) of met mediums of spiritiste wat fluister en mompel nie (Jes.8:19).

As straf sterf koning Saul   -   vanweë voortvarende ongehoorsaamheid   -   in sy eie swaard na raadpleging van Samuel se gees deur die heks van Endor, en lewer sy volk uit aan die vyand. Met sy gay-besluit het die kerkleierskap 'n swaard gesmee waarin hy kan val.

Moet ons dan nie erns maak met die op proefstelling van die gay-besluitgees nie?        (ngn)






Monday, 12 October 2015

AS-besluit bring kerktoekoms in gedrang

Reaksies op die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk se ingrypende gaybesluit (DB,09.10) is moontlik vanuit verskillende invalshoeke. Myne is Skrifgesag. Dié besluit is in direkte oorenstemming met vroeëre Bybel-uitdagende AS-besluite oor die duiwel, evolusieleer, maagdelike geboorte en opstanding van Christus, homoseksualisme, voorhuwelikse saamwoon en  -seks.

In elk van hierdie voorbeelde word die Skrifgesag onbeskroomd uitgedaag. Die Bybelse gesag word toenemend deur die NG Kerkleierskap bevraagteken. Die AS se gaybesluit is die soveelste voorbeeld van menslike gesag plaasvervangend van Bybelse gesag.

Die AS se onvoorwaardelike aanvaarding van gay lidmate en  -predikante op die kansels, weerspieël die voortgesette aftakeling van die Woordgesag. Die onvoorwaardelike aanvaarding van die Skrifgesag as reddingsbrug, na die reddende genade van God, word  ook daarmee vernietig deur die aanmoediging van Skrif-ongehoorsaamheid.

Eeuelank was die Bybel die ontwyfelbare "handleiding" waarvolgens die "spelreëls" vir die "kerkspel" bepaal is. Plaasvervangend bepaal die AS nou sy eie kerklike spelreëls en skep daardeur 'n totaal getransformeerde kerkspel.

In die AS en NG Kerkleierskap se jongste opmars na die omverwerping van Skrifgesag vind fokusverskuiwing plaas   -   vanaf Skrifontkenning as kernaangeleentheid   -   na die uitbundige vreugde van hulle wat die Bybelse gesag uitdagend oorwin het.

Die AS se gaybesluit konfronteer NG Kerklidmate met 'n keuse: aanvaar steeds die "Sola Scriptura"-beginsel (slegs God se Woord), óf verwerp dit. In praktyk beteken dit voortgesette lidmaatskap van 'n Bybeluitdagende kerkbedeling, óf om daaruit pad te gee. So bring die NG Kerkleiers se besluitneming dié kerk se toekoms in gedrang. 










Sunday, 11 October 2015

Getransformeerde gees lei NGK-leierskap

Sal God se Gees 'n mens lei om téén Sy verordeninge in besluite te neem en daarvolgens te handel? Beslis nie! Dan móét die Algemene Sinode en die NGK-leierskap mos deur 'n vreemde gees gelei word wanneer hulle besluite neem   -   soos hul jongste gaybesluit   -   wat direk met die Bybel bots.

Dit bring die twee interpretatiewe omgangswyses met die Bybel na vore. Die meganiese interpretasie aanvaar die Bybel as Goddelik geïnspireerde Woord. Die organiese interpretasie beweer die Bybel is bloot mensewoorde oor God en Sy skepping.

Baie duidelik het daar in onlangse jare by die NGK-leierskap 'n interpretasieskuif vanaf eersgenoemde na laasgenoemde plaasgevind. Dit impliseer die aanvaarding van die mens as Bybelouteur, en nie God se Gees nie; dat die mens die gesagsbron van die Bybel is, en nie God nie.

Ons het vandag te make met 'n kerkleierskap waarvan die gees wat hulle lei, baie ernstig bevraagteken moet word. Hulle besluite dwing ons daartoe. Die AS-besluit wat die bestaan van Satan bevraagteken, maak Christus   -   wat getuig het van Sy versoeking deur Satan   -   tot leuenaar. Watter gees het die AS hiertoe gelei?

AS-besluite oor die evolusieleer, twyfel oor die maagdelike geboorte en opstanding van Christus, homoseksualisme, voorhuwelikse saamwoon en  -seks   -   direk in botsing met die Skrif   -   is die vrugte van dié vreemde gees.

Die NGK-leierskap word gelei deur 'n getransformeerde gees. Kenmerke hiervan is kerklike verdeeldheid, spanning, kerkverlating, onverdraagsaamheid en beskuldigende taalgebruik   -   soos fundamentalisties, rassisties, liefdeloos, ens.   -   teenoor diegene wat verskil. Onder ANC-beheer is transformasie bloot 'n eufemisme vir rewolusie. Beteken 'n transformasiegees, in kerklike konteks, nie maar dieselfde nie   -   'n kerklik rewolusionêre gees?

Die kerk-in-transformasie moet die eerlike weg volg en al dié Skrifgedeeltes verwyder waaromtrent hy verskil   -   soos die sewe gedeeltes wat na homoseksueles verwys   -   en sy eie Bybel saamstel, en dié selfgemaakte "evangelie" aan sy agterblywende lidmate verkondig wat nog nie die NG Kerk verlaat het nie.






Tuesday, 1 September 2015

Berus in die stemmingsuitslag oor Belhar

Ek verwys na T.F.Coertze se skrywe (DB,01.09) en sy vrae aan my oor Belhar.

Op hierdie stadium dui die beskikbare uitslae van die kerklike stemming oor die wysiging van Kerkorde, artikel 1,   -   'n poging om die "deur" vir Belhar te open   -   daarop dat dit deur die meeste lidmate, gemeentes en streeksinodes verwerp is. Indirek dui dit op ook 'n verwerping van Belhar self as verdere belydenisskrif. Vind Coertze dit moeilik om hierin te berus?

In die lig van voorgenoemde word Belhar daarmee in die sloot begrawe. Wat my betref, ervaar ek geen behoefte om mee te doen aan die heropgrawing van dié koei-in-die-sloot en heropening van dié afgelope onverkwiklike debat nie, en verspil daarom geen tyd of energie daaraan nie.

Hoe gouer Belhar, as kerklik verdelende faktor, uit die kerklike gesprek kan verdwyn, hoe beter vir die behoud van kerklike eenheid, saamgesnoer in die uitvoering van die primêre taak waartoe die kerk geroep is. Berus derhalwe in die stemmingsuitslag oor Belhar.

Dalk het Coertze nie my bydraes gelees toe Belhar in Praat Saam debatteer is nie. Indien hy het, sou hy nie nou vrae oor Belhar se "vyf uitgangspunte" gestel en van my verwag om redes te verskaf wat my besware daaromtrent is nie. Indien u werklik ernstig is om 'n antwoord hierop te vind, stel ek voor dat u met u predikant daaroor gesels, of uit beskikbare bronne daaroor te lees. U sou ook in briefvorm, motiverend, kon sê waarom u dit ondersteun.

J.J. (DB,01.09) se "outa Jan"-vraag aan my beskou ek as opportunisties-moedswillig. Waarom? Hy kan die antwoord op sy vraag eerstehands in die beskikbare kerkgeskiedenis nalees eerder as om dit, tweedehands, by my te probeer soek.