Monday 16 November 2015

NGK gee teosentriese Skrifaanname prys

Enige bewering oor die son wat "opkom"   -   soos in "sonsopkoms'   -   berus op die misleidende geosentriese aannname dat die aarde, vas en onbeweeglik, die middelpunt van ons sonnestelsel is, die son in 'n baan daaromheen beweeg, en derhalwe kán "opkom" en "ondergaan". Dat dié uitsprake op 'n foutiewe aanname berus, is lank gelede reeds bewys.

Volgens die heliosentriese aannname oor ons sonnestelsel, is presies die teenoorgestelde waar. Die son, die vaste hemelligaam, is die middelpunt daarvan.  Dat die son dus "opkom", is blote skyn en 'n illusionêre waarneming wat in 'n bedrieglike uitspraak uitmond.

Hier is dus twee teoreties botsende aannames aangaande die verhouding tussen aarde en son. Beide aannames volg 'n prosesverloop vanaf waarneming na interpretasie na uitspraak. Uitspraakverskille is toe te skryf aan die teoretiese aanname-"bril" waardeur gekyk word.

Toegepas op die NG Kerk se jongste besluit oor selfdegeslagverhoudings (SGV's), berus ook dié uitspraak op 'n (verruilde) aanname aangaande die gesag van die Skrif. Die eeue-oue teosentries meganiese aanname   -   die Bybel is geskryf onder leiding van die Heilige Gees   -   is prysgegee in ruil vir die antroposentries organiese aanname   -   die Bybel is 'n kultuur-historiese geskrif geskryf deur mense wat "wetenskaplik" en rasioneel-krities gelees en beoordeel kan word.

Soos wat die geosentriese aanname oor die son-aardeverhouding misleidend verkeerde uitsprake oplewer, so is dit ook die geval met die antroposentries organiese "nuwe" Bybelaanname soos weerspieël in die NG Kerk se onlangse opspraakwekkende SGV-uitspraak.

'n Klassifiserende groepering van die vier aannames waarna hierbo verwys is, plaas die heliosentriese en teosentries meganiese aannames (rustende op waarheid) saam, en die geosentriese en antroposentries organiese aannames (rustende op valsheid) saam. Wat laasgenoemde betref, spreek wyse koning Salomo homself soos volg daaroor uit; Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood (Spreuke 14:12).






No comments:

Post a Comment