Monday 23 November 2015

Bestry ANC-taalhegemonie deur -kongres

Die US-taalgebeure is geen geïsoleerde gebeure nie; ook nie beperk tot net die hoër-onderwyskonteks nie, maar hou implikasies in vir die breër Afrikaanse taalgemeenskap van SA. Dit verg die breeds moontlike visie op dié jongste taalbedreiging.

Reeds sedert 1806 word daar op die Afrikaanse taal, soos op 'n voëlvryverklaarde, jag gemaak, eers deur Brits-imperialistiese anglisering en nou deur sosialisme-kommunisme (s-k). Eersgenoemde kon nie ons taal vernietig nie. Ondanks grondwetlike taalregte, verjaag die ANC se s-k gevlegde sweep Afrikaans van die SA openbare taalmarkplein.

Die Afrikaanstaalwoning, met verskillende woonvertrekke waar verskeie variante van dié taal gehuisves word, behoort aan almal wat dit praat, lees en skryf. As gemeenskaplik gedeelde taal kan niemand dit eensydig opeis nie.

Elke individuele bewoner van die Afrikaanstaalhuis het 'n tweeledige plig: 'n algemene plig tot die huisgeheel, en 'n besondere plig tot die taalwoonvertrek waartoe hy behoort. Versuim een woonvertrekbewoner sy plig teenoor ons taal, ly die hele Afrikaanstaalwoning daaronder.

Waarom nie die hou van 'n Afrikaans-taalkongres oorweeg waar verteenwoordigers van al die taalwoonvertrekke gesamentlik kan besin oor 'n strategie teen die volgehoue aanslag op ons taal nie? Koördineer só al die huidige gepraat/geskryf en stel 'n lewensvatbare aksieplan saam. Solopogings gaan nie ons taalsaak dien nie; taalsolidariteit wel.

Tacitus, senator en historikusvan die Romeinse Ryk, het gesê: Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van 'n slaaf. Ons durf nie Afrikaans verslawend uitlewer aan die ANC se taalhegemonie nie.









No comments:

Post a Comment