Monday 2 November 2015

Afrikanervoortbestaan nie verhinder nie

Max du Preez ontsien geen geleentheid waartydens hy 'n stok kan vind om wit Afrikaners mee te slaan nie. Sy artikel: " 'n Moeilike tyd vir witwees" (DB,31.10), getuig daarvan. 

Hy skets 'n algemene scenario van wit bedreigdes deur Julius Malema aan te haal wat sê: "As dié revolusie begin, gaan die wit minderheid die slagoffers wees", asook die ANC-standpunt wat "wit Suid-Afrikaners as die primêre sondebokke" uitwys.

Max verskuif dan die fokus na die scenario van wit Afrikaners as besondere bedreigdes wanneer hy teoloog Nico Smith namens homself laat praat: "sal hulle (wit Afrikaners) uiteindelik uit die geskiedenis van Afrika verdwyn...as daardie wrede wit stam wat eens 'n deel van Afrika vir hulself opgeëis en toe verdwyn het." Nie net Max begeer die verdwyning van wit Afrikaners nie. Sedert 1806 was dit ook die begeerte van die Britse Imperiale owerhede.

Toestande in die Britse konsentrasiekampe, waar duisende van ons volksgenote tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gesterf het, was haglik. In die Bethuliekamp het Anette Marais die vroue bemoedig met Matteus 10:29 : "Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie."

Tot almal se verbasing verskyn daar plotseling 'n mossie vanuit die niet en gaan op Anette se skouer sit. Só het die mossie die simbool van besielende hoop ter oorlewing van dié swaar beproefde vroue geword. Vanaf 1923 het dié simbool op SA se kleinste muntstuk verskyn.

Soos vir die mossies, sal die Vader ook steeds vir Sy Afrikanerkinders sorg. Dit kan Max, Malema of die ANC nie verhinder nie.








1 comment:

  1. Pragtige verhaaltjie van Annette Marais ( my nooiensvan was Marais!) - dankie Tommie. Ons weet ons lewens is NET in God se Hande, HY is die een wat die Geskiedenis laat gebeur.

    ReplyDelete