Monday 9 November 2015

Die oorwinnaar herskryf die geskiedenis

Europeërs se eeue-oue geletterdheidsvoorsprong bring mee dat hul relatief goed gedokumenteerde geskiedenis aan ons bekend is. Daarteenoor is Afrika se geskiedenis, vanweë 'n geletterdheidsagterstand en mondelinge oordrag, ongedokumenteerd en derhalwe relatief onvolledig, wat historiese uit-  en aansprake met groot onsekerheid omhul.  

Beskikbare kennis van die vroegste inheemse mense van SA, is juis deur wit ontdekkingsreisigers, jagters, sendelinge en historici gedokumenteer en nié deur die analfabetiese inheemses self nie. Vanuit dié historiese Afrika-raamwerk wil die ANC SA se geskiedenis herskryf.

In: "Geskiedenis straks verpligtend" (DB,05.11), sê die minister van basiese onderwys: "dis tyd dat geskiedenis verpligtend op skoolvlak word omdat die jeug 'hopeloos te min kennis' oor die land en sy geskiedenis het." Voorwaar lofwaardig indien dit in die skoolpraktyk verwerklik kan word, maar die onderriginhoude?

Volgens die nasionale woordvoerder oor onderwys spruit dié gedagte voort "uit vanjaar se talle voorvalle van vandalisme waarin (wit) geskiedkundige standbeelde beskadig is" sodat leerders "beter (kan) weet (as) om dit...en ander gedenkwaardighede...te beskadig."

Dit klink na tipiese ANC kulkuns-retoriek; 'n dekmantel vir die onderrig van die ANC-weergawe van SA se geskiedenis, vakinhoude wat, gemanipuleerd, sigself daartoe leen vir ideologies gedrewe propagandistiese indoktrinering vir die kweking van gebreinspoelde landsburgers.

Die ANC het aangeland waar dit nou aan homself die tipiese na-oorlogse rol toeken van: die oorwinnaar herskryf die geskiedenis   -   ANC-heroïes, dog histories totaal wanbalansig?      

(ngn)













No comments:

Post a Comment