Monday 26 October 2015

Sy Skrifbeskouing laat NGK staan óf val

Die NG Kerk sal óf staan óf val vanweë sy Skrifbeskouing. So sê Pieter Pelser in sy boek: "NG Kerk : Reformeer of...Disintegreer?" Pelser beweer die gesagsposisie van die Bybel is deur teoloë vervang met die "wetenskap" van Skrifkritiek, 'n gesagsverskuiwing   -   en relativering van die Bybel   -   wat in kweekskole plaasvind "waarvan 95% lidmate niks weet nie".

In sy navorsing oor die NG Kerk van die afgelope vyftig jaar, bevestig prof. R.Britz " 'n ommekeer in die teologiese Skrifbeskouing" van dié kerk waarvolgens die Skrifbeskouing van die Reformasie verruil is vir die moderne Skrifkritiese benadering.

Aanvullend hiertoe sê W.P.D. de Waal in die voorwoord tot sy boek; "Tot hiertoe en nie verder nie" , "dat strukture vir die vertaling en wêreldwye verspreiding van Bybels deur die "New Age"-beweging geïnfiltreer is en tans beheer word deur mense wat die ware Christendom vyandig is". In die VSA word daar van die "Battle of the Bible" gepraat.

'n Voorbeeld ter illustrasie van 'n veranderde Skrifbeskouing en die implikasie daarvan vir Woordverkondiging: Paulus sê van die Skrif: "Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word" (1 Tim.4:9). Ds.Ronell Bezuidenhout van die NG-gemeente Fontainebleau sê hiervan die volgende: "Die Bybel is uitgesproke homofobies. Dit is verkeerd. Ons moet braaf genoeg wees om dit te sê. Paulus was dalk homofobies" (LitNet,20.10).

Bybelse geloofswaarhede is vandag, vanuit die kerk self, onder geweldige druk. Vele ouer lidmate ervaar dié verskynsel as traumaties.              (ngn)






1 comment:

  1. Baie dankie hiervoor Tommie, sooo nodig dat mense hiervan kennis neem! Ek is een van die ouer lidmate wat dit as baie traumaties ervaar. 'n Baie insiggewende artikel oor verandering in Skrifbeskouing van Prof. Dolf Britz ( na wie jy verwys) is hier te lese:
    http://www.glodiebybel.co.za/component/content/article/741-op-watter-tak-iets-oor-die-standpunte-rondom-skrifbeskouing-by-die-ng-kerk-gedurende-die-afgelope-50-jaar.html

    Kyk ook wat skryf ds. Hanan Viljoen in 2008 in die artikel "Perspektiewe met betrekking tot veranderings in ons Skrifbeskouing" oor die ommekeer in die Skrifbeskouing van die NGK ( blaai na bl. 16):

    http://vcho.co.za/pdf/roeping_en_riglyne/roeping_en_riglyne-2008-08.pdf

    ReplyDelete