Sunday 11 October 2015

Getransformeerde gees lei NGK-leierskap

Sal God se Gees 'n mens lei om téén Sy verordeninge in besluite te neem en daarvolgens te handel? Beslis nie! Dan móét die Algemene Sinode en die NGK-leierskap mos deur 'n vreemde gees gelei word wanneer hulle besluite neem   -   soos hul jongste gaybesluit   -   wat direk met die Bybel bots.

Dit bring die twee interpretatiewe omgangswyses met die Bybel na vore. Die meganiese interpretasie aanvaar die Bybel as Goddelik geïnspireerde Woord. Die organiese interpretasie beweer die Bybel is bloot mensewoorde oor God en Sy skepping.

Baie duidelik het daar in onlangse jare by die NGK-leierskap 'n interpretasieskuif vanaf eersgenoemde na laasgenoemde plaasgevind. Dit impliseer die aanvaarding van die mens as Bybelouteur, en nie God se Gees nie; dat die mens die gesagsbron van die Bybel is, en nie God nie.

Ons het vandag te make met 'n kerkleierskap waarvan die gees wat hulle lei, baie ernstig bevraagteken moet word. Hulle besluite dwing ons daartoe. Die AS-besluit wat die bestaan van Satan bevraagteken, maak Christus   -   wat getuig het van Sy versoeking deur Satan   -   tot leuenaar. Watter gees het die AS hiertoe gelei?

AS-besluite oor die evolusieleer, twyfel oor die maagdelike geboorte en opstanding van Christus, homoseksualisme, voorhuwelikse saamwoon en  -seks   -   direk in botsing met die Skrif   -   is die vrugte van dié vreemde gees.

Die NGK-leierskap word gelei deur 'n getransformeerde gees. Kenmerke hiervan is kerklike verdeeldheid, spanning, kerkverlating, onverdraagsaamheid en beskuldigende taalgebruik   -   soos fundamentalisties, rassisties, liefdeloos, ens.   -   teenoor diegene wat verskil. Onder ANC-beheer is transformasie bloot 'n eufemisme vir rewolusie. Beteken 'n transformasiegees, in kerklike konteks, nie maar dieselfde nie   -   'n kerklik rewolusionêre gees?

Die kerk-in-transformasie moet die eerlike weg volg en al dié Skrifgedeeltes verwyder waaromtrent hy verskil   -   soos die sewe gedeeltes wat na homoseksueles verwys   -   en sy eie Bybel saamstel, en dié selfgemaakte "evangelie" aan sy agterblywende lidmate verkondig wat nog nie die NG Kerk verlaat het nie.






No comments:

Post a Comment