Wednesday 7 October 2015

Die gemeenskap se belange weeg swaarder

Hou selfoontorings in woonbuurtes lewensbedreigende gesondheidsgevare in? Te oordeel aan die oprigting van sulke torings op, byvoorbeeld, kerk-  en skoolpersele, is die antwoord nee. Geoordeel op grond van navorsing, is die antwoord ja. Omstredenheid kenmerk dié torings.

Teenoor aansprake van die gevaarvryheid van selfoontorings, vind navorsers in lande soos Duitsland, Frankryk, Oostenryk, Israel, Indië en Brasilië egter negatiewe uitwerkings daarvan in die vorm van bors-, prostaat-, long-, nier-, lewer-  en bloedkanker.

Verdere bevindings sluit in selweefselbeskadiging, hormonale wanbalans, onvrugbaarheid, genetiese afwykings, slaaploosheid, stres, breindisfunksie, Alzheimers en immuniteit- , geheue-  en hartversteurings.

Persepsies van dié toring-geassosieerde gevare beïnvloed die huismarkbedryf negatief. Volgens 'n Remax-agent daal huispryse met 20% tot 30%, en soms selfs met 35% tot 50%, in toringomgewings. 'n Eltec Properties-agent beweer voornemende kopers se belangstelling in woonhuise in sulke omgewings daal met tussen 30% en 40%.

Koop ek 'n nuwe motor, kan ek die verkoopsagent se gunstige aansprake verifieer aan die hand van motortydskrifte, gesprekke met ander motoreienaars, ens. Mag ons vra of kerke en skole, voorbeelde van instansies wat hul persele teen vergoeding vir toringoprigting verhuur, die veiligheidsaansprake van selfoonmaatskappye wel deeglik verifieer? Kan hierdie instansies, na verifiëring, gevaarvrye omgewings waarborg? En indien nie, wat dan?

'n Gemeenskap se gesondheids-  en eiendomsbelang weeg ongetwyfeld swaarder as die eng finansiële belang van 'n individuele kerk of skool.






No comments:

Post a Comment