Thursday, 1 October 2015

Eensydige kritikus self ook verdag

Koot Pieterse se opmerking: "Dit wil voorkom asof T.C.Breitenbach te veel op prinse wil vertrou" (DB,01.10) vind ek, as persoon, niksseggend. Veelseggend is egter dat hy sê "die 'onkreukbare' (sy woordkeuse) Paul Kruger (was) maar lekker onder verdenking vir verdagte staatslenings, begunstiging, konsessies en aanstellings."

Waarom werp Pieterse dié verdagmakende skadu oor Kruger? Tensy Pieterse substansie aan sy verdagmaking kan verleen, beskou ek sy bewering as moedswilige Afrikaner-onvriendelikheid. Moenie dit by verdagmaking laat nie, maar voer die nodige historiese bewyse aan, anders kom die moontlikheid van karakterskending na vore.

Veelseggend is ook dat Pieterse wel op Kruger reageer, maar nie op my vraag na die onomkoopbaarheid van huidige regeringsleiers nie. Waarom alleen Kruger verdag maak en swyg oor die huidige korrupte regeringsleiers? Ek lees nêrens dat ander kultuurgroepe hul helde, selfs al is hulle korrup, verdag maak nie. Wat kan ons dus aflei van dié eensydige kritiek? Teenoor wie is Pieterse lojaal? Is sy kritiek dalk indirekte steun vir die ANC-leierskap?

Is Pieterse 'n vreemdeling in Jerusalem, totaal onbewus van die skandelike aantal aanklagte teen Zuma? Histories mag hy dalk selfs bewysaanvoerend reg hê wat Kruger betref, maar waarom 'n gerespekteerde Afrikanerheld so eensydig verdag maak? Deur sy eensydigheid van kritiek, maak Pieterse ook homself verdag.






No comments:

Post a Comment