Monday 12 October 2015

AS-besluit bring kerktoekoms in gedrang

Reaksies op die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk se ingrypende gaybesluit (DB,09.10) is moontlik vanuit verskillende invalshoeke. Myne is Skrifgesag. Dié besluit is in direkte oorenstemming met vroeëre Bybel-uitdagende AS-besluite oor die duiwel, evolusieleer, maagdelike geboorte en opstanding van Christus, homoseksualisme, voorhuwelikse saamwoon en  -seks.

In elk van hierdie voorbeelde word die Skrifgesag onbeskroomd uitgedaag. Die Bybelse gesag word toenemend deur die NG Kerkleierskap bevraagteken. Die AS se gaybesluit is die soveelste voorbeeld van menslike gesag plaasvervangend van Bybelse gesag.

Die AS se onvoorwaardelike aanvaarding van gay lidmate en  -predikante op die kansels, weerspieël die voortgesette aftakeling van die Woordgesag. Die onvoorwaardelike aanvaarding van die Skrifgesag as reddingsbrug, na die reddende genade van God, word  ook daarmee vernietig deur die aanmoediging van Skrif-ongehoorsaamheid.

Eeuelank was die Bybel die ontwyfelbare "handleiding" waarvolgens die "spelreëls" vir die "kerkspel" bepaal is. Plaasvervangend bepaal die AS nou sy eie kerklike spelreëls en skep daardeur 'n totaal getransformeerde kerkspel.

In die AS en NG Kerkleierskap se jongste opmars na die omverwerping van Skrifgesag vind fokusverskuiwing plaas   -   vanaf Skrifontkenning as kernaangeleentheid   -   na die uitbundige vreugde van hulle wat die Bybelse gesag uitdagend oorwin het.

Die AS se gaybesluit konfronteer NG Kerklidmate met 'n keuse: aanvaar steeds die "Sola Scriptura"-beginsel (slegs God se Woord), óf verwerp dit. In praktyk beteken dit voortgesette lidmaatskap van 'n Bybeluitdagende kerkbedeling, óf om daaruit pad te gee. So bring die NG Kerkleiers se besluitneming dié kerk se toekoms in gedrang. 










No comments:

Post a Comment