Telkens wanneer ek skrywers se verwysing na "my kerk" lees - soos onlangs weer in ds.G.Engelbrecht se: "Dit is 'n donker dag vir my kerk...", en Ontevrede NG Lidmaat se: "Los my kerk uit" (DB,15:11) - laat dit my skepties wonder oor die werklike bedoeling daarmee. Is dit dalk wat Sigmund Freud 'n "misvoltreffer" noem, 'n misskrywe waardeur die waarheid van die onderbewuste tot openbaring kom?
Hoewel dalk nie so bedoel nie, dui die "my" in die "my kerk"-aanspraak op besitreg. Is diegene wat van "my kerk" praat dalk geneig om te vergeet wat die kerk in wese is - volgens Kolossense 1:18 die Liggaam van Christus - en dat Hy daarom die enigste is wat van "My kerk" kan praat?
God kan met 'n afgod vervang word. Selfs die kerk kan tot afgod gemaak word soos wat Elizabeth Walters (DB,15.11) daaromtrent opmerk: "Mense moet ophou om van die kerk 'n afgod te maak. Kyk by hierdie afgod verby en sien die ware God...".
Kerklike verafgoding vind die maklikste plaas in die valse kerk - kenmerke waarvan soos dat dié kerk meer mag en gesag aan homself toeskryf as aan die Bybel, homself nie onderwerp aan die juk van Christus nie, en sigself meer op mense grondves as op Christus - soos duidelik deur artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) uiteengesit. Dié artikel maak dit moontlik om tussen die ware en die valse kerk te onderskei.
'n Voorbeeld wat ons onderskeiding verg: Tydens 'n RSG-uitsending op Sondag 20.11 beweer dr.Chris Jones, verbonde aan die US se teologiese fakulteit, dat dit toelaatbaar en nié verkeerd is om God ook as vrou en moeder te aanbid nie; dit terwyl Jesus self konsekwent na God as Sy Vader verwys het soos, onder meer: "So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is..." (Mat.6:9) Wie is reg: Jones of Jesus, volgens die Bybel en die NGB?
Vanweë die vertroebelende implikasies daarvan, verg die aanspraak op "my kerk" deeglike besinning eer dit gebruik word.
No comments:
Post a Comment