Monday 14 November 2016

Kerk staan of val volgens Skrifbeskouing

As gewone kerklidmaat is ek bewus van die omvangryke aanslag, ook vanuit kerkgeledere, op die Bybel as synde die onfeilbare en onveranderlike Woord van God. Toenemende in felheid, gaan dié aanslag verder terug as slegs gister en eergister.

Alleen met die behoud van die suiwerheid van die Woord sal ook die kerk   -   daarop gefundeer   - as suiwere instelling kan voortbestaan. Daarsonder gaan die karakter van ware kerkwees verlore soos te onderskei van die valse kerk; uiteengesit in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), een van die bestaande belydenisskrifte van die NG Kerk.

Ek lees van twee teenoorstaande interpretasies van die Bybel: die meganiese vertolking wat die Bybel erken as Goddelik geïnspireerd en geskryf onder die gesagsvolle leiding van Sy Gees vir alle mense van alle tye. Daarteenoor is daar die organiese interpretasie wat beweer dat die Bybel bloot 'n menslike geskrif is, deur mense geskryf vir die mense van 'n bepaalde tyd, en eintlik maar net 'n veranderbare relaas van kultuur-historiese gebeure is.

Binne laasgenoemde organiese Skrifvertolking is twee fronte te onderskei waarop Bybelaanvalle plaasvind: korruptering van die Bybel, deur opeenvolgende vertalings, en diskreditering van die Bybel, deur allerlei onbybelse interpretasies daarvan. Hierin moet die rol van kweekskole nie onderskat word nie.

Die NG Kerk se 2015-besluit oor gaylidmate en -predikante binne dié kerk en die jongste 2016-besluit daaromtrent, is 'n duidelike weerspieëling van die spanning- en verdeeldheidskeppende aanwesigheid van beide die meganiese en organiese Skrifbeskouings binne dié kerk wat mekaar nie kan vind nie. Op die lange duur sal dié twee Skrifbeskouings nie onder dieselfde kerkdak kan voortbestaan nie, en sal hul paaie móét skei ter wille van die behoud van kerksuiwerheid soos beoordeel volgens artikel 29 van die NGB.

Sy Skrifbeskouing, en nie die SA grondwet nie, gaan bepaal óf die NG Kerk gaan bly staan of val.












No comments:

Post a Comment