Friday 4 November 2016

Sintesering van Afrika en Europa is nodig

Indien ek 'n hond op my werf aanhou met die doel om my huismense en eiendom te help beveilig, maar hy terroriseer die bure en/of byt mense op straat, moet ek dié wanfunksionerende waghond óf vasketting óf van hom ontslae raak.

Ons geagte staatspresident is daar om oor die welsyn van al ons landsburgers en hul eiendom te waak. Sy gesagsbeweegruimte is afgebaken deur die grondwet waartoe hy, eedsgewys, verbind is. Wanneer hy dus sy perke wanfunksionerend tot nadeel van die nasionale huishouding oorskry, moet daar ook van hom ontslae geraak word. So voor die hand liggend en eenvoudig is dit. Maar waarom gebeur dit nie so geredelik nie?

In sy "SA finally African, all thanks to Zuma" (Sowetan,09.05), werp Prince Mashele lig hierop. Volgens hom bring Zuma die ware Afrikakarakter na vore. Dié karakter erken nié 'n grondwetlike regering en die oppergesag van die reg nie. Leiers word nie verantwoordbaar gehou nie, en wette word selfs gewysig om hulle te beskerm. 'n Geleerde en ingeligte bevolking is moeiliker regeerbaar; daarom is onderwys nie 'n hoë prioriteit nie. Die aandrang om dekolonialisering en onttrekking aan die internasionale geregshof is voorbeelde van teruggryping na die tipiese Afrika wyse van doen. Ook selfverryking van die politieke elite deur gewetenlose magmonopolisering is deel van dié karakter.

Vir die huidige gun ons Zuma sy danspassies in die hof   -   soos lank gelede reeds deur homself versoek   -   op die dansmaat van sy geliefde "Bring my masjiengeweer". Vir die toekoms egter, hoe onmoontlik en uitdagend dit ook al mag voorkom, benodig ons 'n geslaagde sintesering van swart Afrika (tese) en wit Europa (antitese) vir die vreedsame en voorspoedige voortbestaan van SA en al sy inwoners.








No comments:

Post a Comment