Monday 28 November 2016

Plan bring oplossing vir geloofsonmin

JT (DB,26.11) sê my skrywe (DB,18.11) bied "geen praktiese oplossing" vir sy probleem met geloof wat onmin in die wêreld veroorsaak nie. Hy sê: "Daar is geen oplossing nie".

Vir JT is 'n oplossing slegs moontlik "as alle gelowe uitsterf". So iets is egter onmoontlik. Waarom? Geloof is 'n inherente deel van menswees, mense synde tipies gelowende wesens wie se geloof kan setel in enigiets sigbaar en/of onsigbaar soos geld, materiële besittings, homself, verstand, wetenskap of godhede soos voorvaders, gode van verskillende geloofsoortuigings asook die Drieënige God van die Christendom. Sonder geloof, waarin ookal gesetel, is geen mens volledig mens nie.

Ek verskil van JT se "geen oplossing nie". Hoewel nie onmiddellik nie, is daar tog 'n toekomstige oplossing. Ter stawing hiervan, lig ek my stelling vanuit 'n christelike konteks toe. Kortliks; daar bestaan 'n Goddelike Plan met die skepping, die aarde en -bewoners waaromtrent geloof/ongeloof in dié Plan   -   soos in die Bybel vervat   -   van deurslaggewende belang is. Wat ook vandag in die wêreld aan't gebeur is, is juis die profetiese ontvouing van dié Plan.

Ons lewe tans tussen Christus se eerste koms en Sy wederkoms. Met Sy wederkoms bring Hy die "praktiese oplossing" waarna JT soek   -   nie vroeër nie, ook nie later nie; ook net Hy bring dié oplossing, en geen sterflike mens nie. Laat ons ons dus nie verknies oor 'n menslik onhaalbare oplossing vir JT se wêreldwye onminveroorsakende geloofsprobleem nie, maar, soos voorafgegane geslagte, ook gelowend geduldig daarop wag.





1 comment: