Friday 9 December 2016

Gee erkenning waar dit toekom

Soos vele ouers voor ons, bring ons 'n eerste besoek aan ons kinders in Australië. Vooraf waarsku 'n vriendin ons teen Australiese "arrogansie". Deur persoonlike ervaring sou ek dié bewering self op die proef stel. Geen samelewing is tog so eendimensioneel dat daar na almal, veralgemenend, as arrogant verwys kan word nie.

Binne kort tydsbestek is dié bewering verkeerd bewys. Met heelwat Afrikaanssprekendes aan boord die SAL-vlug op pad na Perth, is die enigste Afrikaanse woord wat ons op dié nege-uurlange vlug verneem, "totsiens" met die landing. 'n Ouerige Australiese lughawe-beampte sê vir ons "Welkom", help ons oor die weg en groet met die hand. Arrogansie? Beslis nie.

'n Jong lugwaardin op weg na Melbourne is die spontane vriendelikheid, behulpsaamheid en gasvryheid vanself. Sy soek ons op om te gesels, en voordat ons land, stop sy ons wyn en lekkers in die hand as geskenk. Arrogansie? Beslis nie.

Navraag by 'n jongman oor waar 'n poskantoor te vind is, lewer die verrassing van 'n antwoord in vlot Afrikaans. Arrogant? Beslis nie.

Natuurlik word 'n algemene indruk nie gevorm na slegs drie kort opeenvolgende positiewe ervaringe nie. Tog geld die spreekwoord van eerste indrukke is blywende indrukke.

Ek kan beslis nie die arrogansie-bewering onderskryf nie. Samelewingstendense, ook in die vorm van kultuurverskille, bestaan wel, maar sekerlik nie in die formaat van veralgemeenbare nasionale arrogansie nie, daarvoor is mense té divers. Wat sou ander nasionaliteite van ons as SA'ners sê?

Nee, laat ons sonder vooroordeel erkenning gee daar waar dit toekom, iets waaraan ons as SA'ners onderling 'n groot behoefte het.





No comments:

Post a Comment