Tuesday, 3 January 2017

'n Reisbonus van epidermiese proporsies

Tydens die datumbepaling van ons besoek aan ons kinders, het niemand  voorsien dat hulle gedurende ons kuier vanaf Melbourne na Brisbane sou verhuis nie. En toe gebeur dit en bring 'n  reisbonus  van epidermiese proporsies, in oom Oubaas se sepietaal,met dit mee.

Met die huishoudelike trek reeds sterk op pad, vlieg die vrouens en kinders, om praktiese oorwegings, vooruit. Ons twee mans pak die tog van byna 2 000 kilometer padlangs aan. Ons roete loop deur en langs dorpies verby met interessante name soos Wondonga, Wongaratta, Gundagai, Taminick en Mittagong. Laurika Rauch, Nana Muskourie, Abba en Queen se musiek en sang vermaak ons. Die versreël: "En Fort Wajier lê ver, lê ver...", uit een van Uys Krige se gedigte, kom by my op.

'n Besoek aan die indrukwekkende "Australian War Memorial" in Canberra, 'n uitbeelding van Anzac se deelname aan twee wêreldoorloë, beklemtoon die ontsaglike lyding, wreedheid en tragiek van oorlogvoering. 'n Vlugtige besoek aan die Sydneyse hawegebied ,tydens 'n veerbootrit, bring die wêreldbekende hawebrug en operahuis goed in sig.

Met die deelstate Victoria en Nieu-Suid Wallis agter die rug, steek ons die grens na Queensland oor en bereik ons bestemming op die derde dag. Met die gelyknamige stadsdeurkronkelend vloeiende rivier, bied Brisbane 'n verrassend groot verskeidenheid aan sowel inwoner as besoeker. Veel meer geld 'n besoek aan die "Gold Coast", nagenoeg 100 kilometer daarvandaan.

Wat 'n ontsaglike voorreg om dié onvoorsiene reis as 'n "kuierbonus" te kon meemaak. Tog verlaat die gedagtes die ouer nie oor waarom hul "diasporakinders"
 hulle in die buiteland bevind nie. Een van die vele langtermynnadele van dié verhuising is onvermydelik tragiese familieverbrokkeling. Ouers keer dus telkens terug met kosbare herinneringe van 'n weersiens,maar die kosbaarste   -  ons kinders self   -  word agtergelaat.






1 comment:

  1. Ek deel jou pyn Tommie. Laatlam en gesin (2 skatlike klein seuntjies) was rukkie in Townsville, toe nog 'n rukkie in Brisbane en nou in Biloela (klein dorpie tussen Brisbane en Townsville). Als in 9 maande. Maar hulle is baie gelukkig en dit gaan finansieel BAIE beter as in SA, al is dit so 'n kort tydjie. Saam met hulle glo ek dat dit God se wil is. Ten minste kan ons van tyd tot tyd Skype... met my seun wat in die hemel is sal ek nooit weer op aarde kontak he nie...

    ReplyDelete