Vroeër byna ongekend, is dit vandag nie meer vreemd om God en die Bybel te kritiseer nie. Ons leef in 'n tyd van die toenemende uitdaging van God en Sy Woord met 'n ooreenstemmende toename in teenspoed en rampe wat ons tref, en tog weier ons steeds om dié verband raak te sien.
In die rubriek, "Van alle kante", en onder die opskrif, "Bedags stry ek met die Here, snags bid ek" (11.08), kla Wilhelm Jordaan God aan as 'n "afwesige pa".
Jordaan sê: "Hoe kan ek hom vertrou met die bewaring van my kinders as hy, as 'n pa, sy eie seun so stief behandel het...(vanweë) sy afwesigheid toe sy seun sterwend aan 'n kruis op Golgota gehang het...dié pa was afwesig, soos pa's dikwels is."
Ek kan nie dink dat Jordaan onkundig is betreffende wat die Bybel ons leer dat, al die straf en oordele wat oor ons móés kom - soos ook om deur God ons Vader verlaat te word - Jesus op Hom geneem en, plaasvervangend, dit aan die kruis in ons plek gedra het. Wat, hieromtrent, verstaan Jordaan nie wat hom noop om God as 'n "afwesige pa" te verwyt?
Om God 'n "afwesige pa" te noem, is uiters oneerbiedig en grens aan heiligskennis. As protestantse Christen maak ek ernstig beswaar daarteen. (ngn)
No comments:
Post a Comment