Ek vind aansluiting by Anti-teïs en Huysamer (DB,11.10) se kritiek op prof. Koopman se Godsdiens Aktueel-bydrae (DB,05.10).
Beskrywende homself as "sekulêre humanis", sê Anti-teïs "dat enige geloof van jou verwag om intellektuele selfmoord te pleeg." Werklik? Staan geloof en intellek dan vyandig teenoor mekaar, of het ons nog nooit die Skepper se doel en funksie met elkeen daarvan ontdek nie?
Anti-teïs se keuse vir rasionaliteit is niks anders as sy persoonlike geloofskeuse nie - sy geloof in intellektualiteit. Karl Popper, bekende wetenskapsfilosoof, verwys na wetenskaplikes as "egte gelowiges", bedoelende daarmee hul geloof in hul wetenskaplike instrumente soos teorieë, modelle en metodes.
Huysamer "soek nog die teoloog wat met 'n 'rasionele' redenasie vorendag kan kom hoekom die Skepper...manlik is en 'n bloedoffer (soos die Asteke) benodig." Sodanige soeke eindig eers wanneer nie net die natuurlike en rasionele dimensies van menswees ontdek is nie, maar ook die bo-natuurlike, transendentale en bowe-rasionele dimensies. In menslike grenssituasies, soos teweeggebring deur rampe, lyding, siektes en/of dood, is antwoorde nie altyd net in die rasionele te vinde nie, maar wel dikwels in geloofskonteks.
Anti-teïs en Huysamer se kritiese vergelyking van onvergelykbares - rasionaliteit en geloof - blyk 'n futiele oefening te wees.
Chrstengelowiges word aangeraai om hul denke te vernuwe, asook waarop dit gerig moet word, sodat 'n teologie van "terapeutiese rasionaliteit" - in die lig hiervan - vreemd voorkom. Vir my, as christengelowige met 'n lekesiening van teologiebeoefening, blyk Koopman se "terapeutiese rasionaliteit" eklekties en horisontalisties van aard te wees; kompliserend eerder as verhelderend van die teologiese ondersoekterrein. (ngn)
No comments:
Post a Comment